Belastingverligting vir ‘huwelik’ kry lou ontvangs by Britte

Deel op
David Cameron nie oral gewild nie
David Cameron nie oral gewild nie

Brittanje se regering het ‘n belastingvergunning voorgestel om huwelike aan te moedig. Dit sluit huwelike tussen mense van dieselfde geslag in.

David Cameron, Britse premier, se voorstel dat getroudes – met die uitsondering van topverdieners – belastingverligting van tot £200 pond per jaar per paartjie kry.

As die parlement die voorstel goedkeur, sal die belastingverligting dalk reeds teen April 2015 – net ’n maand voor die algemene verkiesing – in werking tree. Tot 4 miljoen getroude paartjies sal daaruit voordeel trek.

“Al wat ons sê, is dat huwelike goed is vir ons land – dis die hoogste vorm van verbintenis wat regtens moontlik is – en ons wil ons steun daaraan toesê,”  het Cameron, leier van die Konserwatiewe Party, Saterdag in ’n artikel in die Daily Mail geskryf.

Hy sê die vergunning sal ook geld vir egpare van dieselfde geslag in siviele verbintenisse en later in huwelike. Mense van dieselfde geslag kan van volgende jaar af trou ingevolge wetgewing wat in Julie bekragtig is.

Die Arbeidersparty sê ander mense word benadeel en dat die voordeel in elk geval weinig werd is gegewe die welsynstoelaes waarop Cameron se regering sedert 2010 besnoei het.

“Hy is so uit voeling uit hy meen mense sal vir £3,85 per week trou,”  het Rachel Reeves, ’n LP van die Arbeidersparty, gesê.

Harriet Harman, adjunkleier van die Arbeiders, het op Twitter daarop gewys dat die voordeel net op bestaande huwelike van toepassing is. Iemand wat geskei is en weer getrou het, sal die voordeel trek – maar nie die ouer wat na die kinders uit die eerste huwelik omsien nie.

’n Groep wat hulself Don’t Judge My Family noem, sê die plan diskrimineer ook teen weduwees en wewenaars, enkelouers en saambly-paartjies. Een uit vier Britse kinders word groot in enkelouergesinne.

“Dit gaan daaroor dat ’n denkbeeldige 1950’s-gesin bevorder word en die geld gaan nie aan die gesinne wat steun die meeste nodig het nie. In dié moeilike tye moet die regering gesinne help en hulle nie veroordeel nie,” sê die groep.

Die belastingvergunning was reeds in 2010 deel van die Konserwatiewes se verkiesingsmanifes.

Die Liberaal-Demokratiese Party, die Konserwatiewe Party se alliansievennoot, is gekant teen die voorstel, maar mag buite stemming bly wanneer die wetgewing voorgelê word.

Nick Clegg, leier van die Lib-Dems, het die plan vóór die alliansie-ooreenkoms as “minderwaardige twak” bestempel. – Reuters

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.