In 2010 gaan ons almal so véílig voel…

Geagte mnr. Sep Blatter,

Hiermee wil ek u net die versekering gee dat wanneer die 2010-sokkertoernooi plaasvind u geheel en al veilig sal wees, gegewe u hoë posisie in die sokkerwêreld en ook as vriend van regerings op die Afrikakontinent. Die blinkswart duur Duitse motors met koeëlvaste ruite en spesialiste in persoonlike beskerming wat u elke tree volg en bereid sou wees om die koeël te vat wat vir u bedoel kon gewees het. En dis waar dinge gaan ophou.

Indien u so gek sou wees om te glo dat die huidige regering die misdaadsyfers met 7% tot 10% per jaar kan laat afneem, het ek geen hoop vir u nie. Want net ʼn gek sien die feite en ignoreer dit dan so blatant.

Ek weet nie in watter fantasiewêreld polisiekommissaris Pruis bly nie, maar dit kan nie die Suid-Afrika wees waarin ek woon nie, want nie eers in sy drome gaan die misdaadsyfers krimp soos hy dit voorspel het nie. Of dalk is dit die enigste plek waar dit wel kan gebeur, en dan is dit tyd dat die man wakker word en die koffie ruik.    

Kan u my dalk net vertel hoekom u skielik beangs is omtrent die veiligheid van die besoekers wat die toernooi wil kom kyk, in plaas daarvan om u eerder te bekommer oor die inwoners van ʼn land wat reeds in vlamme opgaan? Dalk bang dat iemand gaan seerkry? Wel, nuusflits – iemand gaan seerkry – en as u so onnosel sou wees om te glo dat die derduisende mense wat beoog om die sokker te kom kyk almal ongedeerd daarvan gaan afkom, sit u die pot mis, geheel en al.

U sien, daar is net soveel polisiemanne en ook net soveel gepantserde blinkswart Mercedes-voertuie in die land, en dan is dit op. Ongelukkig kan daar nie derduisende polisiemanne aangestel word om elke besoeker op te pas nie; ons land het nie die vermoë nie. Vir u hogere groepie sal die beskerming daar wees, dis ongetwyfeld so.

Die res sal maar moet doen met die standaard wat die inwoner van die land mee tevrede moet wees en as dit nie goed genoeg is nie, wel, jammer, maar maak vrede daarmee, want dis hoe die saak staan. Misdaadvry? Ha!  

Dan het ek nog ʼn vraag. Watter soort nonsens is dit van die Duitsers en ander Europese nasies wat skielik beweer dat dit onveilig is om Suid-Afrika te besoek, en veral om die lokasies te vermy indien hulle wel hiernatoe sou kom? Besef julle nie dat die land se miljoene swartmense afhanklik is van die euro’s en ponde wat julle hier inbring nie? Hoe is julle harte dan nou? Watter soort rassiste is julle dat as dinge nie gaan soos julle daarvan hou nie, julle skielik beweer dat die land onveilig is, en as dit wel goed gaan, is julle die swart Afrikaan se beste vriend. Dit is mos eenvoudig gestel ʼn totaal onaanvaarbare tweegesigbenadering van julle rassiste. ʼn Huigelary in die ergste graad.

 

Ek kan wel verstaan dat sokker u lewe is, u verdien immers sakke vol geld daarmee, maar hoe kan u verwag dat die toernooi suksesvol gaan wees as u lande mense waarsku teen die gevare daarvan om sekere gebiede in te gaan? Dit is teenstrydig met wat u en ander partye normaalweg glo. Gewoonlik wil die besoekende Europeër ʼn wye draai gooi rondom Pretoria-oos of Bellville waar gevaarlike Afrikaners woon en eerder Alexandra, Soweto of die Joe Slovo-informele woongebied besoek om egte Suid-Afrikaanse kultuur en sedes te ervaar.

Indien Duitsland en Swede wat beide groot sokkerlande is so groot kan skrik vir die bietjie geweld wat hulle op die media sien, kan ek nie dink wat hulle reaksie gaan wees as die saak homself verder tydens die wêreldbekertoernooi uitwoed nie.

Om nie eers van die VSA te praat nie. Mens kan net wonder of die woord “barbaars” nie dalk êrens in hulle woordeskat sal opduik nie?

Om die Afrikane enigsins te kritiseer pas nie by die Westerse beleid van gee-gee-gee nie, en om nou skielik dit te verander omdat julle bang is, grens aan rassisme. Dis so eenvoudig as wat dinge is. Anders as in elektronika, waar “grys” logika ʼn plek het êrens tussen “aan” en “af”, bestaan die woord nie in politiek nie.     

Ek weet nie of u die nuus met toe oë gekyk het nie, maar dit is swart Afrikane wat die teiken van die xenofobiese geweld was, nie blankes nie. Dus het u niks om te vrees nie. Ons is darem nog nie Zimbabwe nie, al gaan die ligte soms af. Indien daar sokkergeesdriftiges is wat bietjie donkerder van velkleur is, sou ek wel versigtigheid aanraai.  

Ek het heerlik gelag toe ek lees van Pruis se opmerking dat die toernooi in ʼn partytjie-atmosfeer moet plaasvind. Ek kan hom die versekering gee dat dit wel sal gebeur, miskien nie soos hy dit in sy geestesoog voorstel nie, maar daar sal partytjies wees.

Dit sal geskied ten koste van die sokkertoeriste se sakke, dié wat op die harde manier sal uitvind hoe behendig die Afrikaan met ʼn mes en ʼn skietding kan wees!

Daar sal ongetwyfeld ʼn klompie wees wat sal sien hoe lyk die onveilige kant van die items, wat sal opkyk en in die swart loop van ʼn vuurwapen sal vaskyk. Sy maag gaan draaie maak en hy sal vrywillig verplig wees om al sy geld en goedere te skenk aan die mense wat dit so vriendelik van hom vra. Dit is Afrika en as julle die Afrika-ervaring ten volle wil beleef, is die wonder van regstellende inkopies deel van die ervaring. Die besoekers sal ongetwyfeld meer as een sokkerpartytjie finansier met die regstellende-inkopiemetode. Aanvaar dit nou en maak vrede daarmee.

U beter dié stukkie inligting solank versprei onder die voornemende sokkertoeriste. Dit sou hulle nie skade doen om ekstra versekering uit te neem voor hulle Suid-Afrika besoek nie, want hulle mag dit dalk nodig kry, lewensversekering hierby ingesluit. Want daar gaan ongetwyfeld rooftogte en aanvalle op van die besoekers wees. Die kanse dat daar van hulle mag sterf, is redelik goed as mens na die gemiddelde statistieke in ons land kyk. Die kans dat vroue verkrag kan word, is ook aansienlik, volgens dieselfde statistieke. Dink daaraan voor julle die perd opsaal en hiernatoe kom.

Dus, gesien in die lig van feite moet julle dus nou vinnig besluit of die toernooi steeds ʼn goeie ding gaan wees in Suid-Afrika. Ek het selfs al gewonder of Zimbabwe nie ʼn beter keuse sou wees vir die toernooi nie, want as die geweld in sy volle hitte hier uitbars, gaan daar nêrens oorbly om die wedstryde aan te bied nie; die bouery sukkel reeds met gereelde stakings en dergelike probleme. En om alles te kroon glo u elke versekering wat ons regering uit sy mou uit skud. Hoeveel leuens van dié spul gaan u nog glo, of is dit net solank dit u sak sou pas? Ek wonder hoe lank dinge gaan voortduur voor u oë sou oopgaan, voor die harde realiteit u tussen die oë tref?

Ek noem net al dié kwessies sodat u dit uit die perspektief van die gemiddelde mens in dié land kan sien, en ek wens u alle sterkte en voorspoed met die voorbereidings toe…

casino online gratisалександр лобановский харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.