Die wêreldwaghondliggaam wat chemiese wapens beheer, se kundiges sal waarskynlik Dinsdag begin om Sirië se voorraad chemiese wapens te inspekteer.
’n Ooreenkoms betreffende die wapenafbouprogram is Vrydagnag ná middernag in Den Haag, Nederland, deur die uitvoerende raad van die Organisasie vir die Afskaffing van Chemiese Wapens (OPCW) bereik.
Die organisasie het ’n beroep op lidlande gedoen om vir die vernietiging van Sirië se chemiese wapens te betaal. Die OPCW het nie self genoeg personeel om die taak te behartig nie en nog kundiges sal aangestel moet word.
Anglo-Amerikaanse intelligensiedienste beraam dat Sirië sowat 1 000 ton sarin-, mosterd- en VX-senugas het wat dekades lank versamel is en op tientalle plekke landwyd geberg word.
Kundiges meen dit gaan riskant en duur wees om die chemikalië op te spoor en te vernietig in dié land, waar meer as 100 000 mense nou al in die burgeroorlog dood en miljoene haweloos gelaat is.
Sirië se chemiese wapens moet binne nege maande vernietig word – ’n proses wat lande soos Rusland en die VSA meer as tien jaar geneem het.
Sirië moet inspekteurs se veiligheid verseker en aan hulle “onmiddellike en onbeperkte toegang” tot alle wapenopslagplekke gee. Die OPCW-inspekteurs het 30 dae om al die opslagplekke wat deur Sirië uitgewys is, te besoek.
Sirië het nie sy eie inventaris van chemiese en ander wapens beskikbaar gestel nie en sekere bergings- en vervaardigingsaanlegte is nog nie bekend gemaak nie. Alle vervaardigingsaanlegte moet teen 1 November vanjaar vernietig word.
Dis nog nie duidelik hoe en waar die chemikalieë vernietig gaan word nie. Dié proses moet teen middel 2014 afgehandel wees.
Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad stem eerskomende Vrydag oor die plan. – Reuters