Naas verbaas oor boikotaksie teen Blou Bulle

Deel op
Naas Botha
Naas Botha

Naas Botha, ’n voormalige Blou Bul en Springbok, het Afriforum se besluit om die Blou Bulle te boikot oor rassekwotas gekritiseer. Botha het gesê kwotas “is deel van ons sport en klaar”.

“Kom ons kry dít liewers reg sodat ons nie elke jaar dieselfde gesprek moet hê nie,” het Botha gesê.

AfriForum raai rugbyondersteuners aan om wedstryde op Loftus Versfeld te boikot, nadat die Blou Bulle Maatskappy (BBM) die jongste rassekwotabesluit aanvaar het.

Die uitvoerende hoof van AfriForum en lojale Bul-ondersteuner, Kallie Kriel, het gesê die BBM het verlede week op ’n vergadering van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vir die kwotastelsel in die Vodacombeker-reeks gestem.

Kriel het gesê hy gaan daarom nie volgende jaar sy seisoenkaartjies hernu nie.

Praag het verneem dat die swak vertoning van die span in die Curriebekerreeks – en nie die onlangse kwotabesluit nie – die verkope van kaartjies reeds negatief raak.

Terwyl Kriel dus “politieke gedienstigheid aan die ANC se rasse-ideologie” die skuld vir swak bywoning wil gee, is dit eerder die span se powere vertoning waaroor rugbyliefhebbers kla.

Die Blou Bulle het voorheen rassekwotabesluite van Saru gedienstig uitgevoer.

“Stilswyende aanvaarding van die BBM en ander rugby-unies se steun aan rassekwotas in die Vodacombeker-reeks sal meebring dat Saru dieselfde soort rassemanipulasie in die Superrugby- en Curriebeker-reekse sal wil toepas,” het Kriel aan Beeld gesê.

Kriel, wat die afgelope tien jaar ’n seisoenkaartjie-houer op Loftus is, het gesê hy wil op geen manier help om kwota-rugby te finansier nie, alhoewel hy reeds die afgelope tien jaar presies dít doen.

Die uitvoerende hoof van die BBM, Barend van Graan, het gesê dit is BBM se skuld nie.

“Ons is net ’n lid van Saru,” het Van Graan geskerm. Saru het op 15 Augustus aangekondig dat al 14 provinsiale spanne ’n minimum van sewe swart spelers vir hul wedstryd-spanne moet kies. Ten minste twee voorspelers moet swart wees.

Die spanne moet ‘n minimum van vyf swart spelers insluit.

Van Graan het vroeër, voor die jongste kwotabesluit, aan Praag gesê dat rugby in elk geval ‘n korporatiewe sport is en dat die BBM nie finansieel van individuele Bloubulondersteuners afhanklik is nie.

Hy het ook voorspel dat die sport oor tien jaar heeltemal swart sal wees.

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.