Die minister van binnelandse sake, Naledi Pandor, het gesê dat die paspoort van ‘n vrou wat vermoedelik betrokke is by die terreuraanval by ‘n winkelsentrum in Kenia, in 2011 ondersoek en gekanselleer is omdat dit op ‘n bedrieglike wyse bekom is.
Pandor het in Pretoria gesê verdere ondersoeke moet gedoen word oor hoe die vrou genaamd Natalie Faye Webb, die paspoort bekom en hoe dit uitgereik is.
Samantha Lewthwaite, wat deur die Keniaanse polisie in verband met ander terreurdade gesoek word, het dié skuilnaam gebruik terwyl sy in Suid-Afrika gewoon en gewerk het.
Sy het vir die eerste keer in 2003 in die land aangekom. Lewthwaite is bekend as die ‘’Wit Weduwee’’ omdat haar man een van die selfmoordbomplanters op 7 Julie 2005 in Londen was.
Owerhede wou nie kommentaar lewer op berigte dat sy eiendom in Johannesburg gehuur het nie. Sy het klaarblyklik tot soveel as R183 000 se skuld aangegaan. – Sapa