Renault-Nissan, die Frans-Japannese vennootskap

Deel op

Die Renault-Nissan-alliansie is ‘n strategiese Frans-Japannese vennootskap tussen dié twee motorvervaardigers. Die twee reuse, wat saam meer as een uit elke 10 motors wêreldwyd verkoop, is sedert 1999 strategiese vennote.

Hulle het byna 350 000 werknemers en beheer sewe groot handelsmerke nl. Renault, Nissan, Infiniti, Renault Samsung motors, Dacia, Datsun en Lada.  In 2012 het die motorgroep 8,1 miljoen motors wêreldwyd verkoop. Ná Toyota, General Motors en Volkswagen is dit die vierde grootste vervaardiger wat die totale volume passasiersmotors aanbetref.

Sedert Julie 2013 verteenwoordig die Alliansie die wêreld se voorste “inprop”-elektriesevoertuigvervaardiger, met wêreldwye verkope van 100 000 eenhede sedert Desember 2010. Die strategiese vennootskap tussen Renault en Nissan is nie ‘n samesmelting  nie. Die twee maatskappye is saamgevoeg deur ‘n kruis-aandeelhoudingsooreenkoms. Die struktuur was uniek in die motor-industrie in die 1990’s.

Die konsolidasieneiging is later as ‘n model vir General Motors en PSA Peugeot Citroën gebruik, asook die samewerkingsooreenkomste tussen PSA Peugeot Citroën en Mitsubishi, asook Volkswagen en Suzuki. Laasgenoemde kombinasie het egter misluk. Die Alliansie self verbreed die omvang aansienlik: die totstandkoming van bykomende vennootskappe met motorvervaardigers soos Duitsland se Daimler, China se Dongfeng Motor, en Rusland se Avtovaz het motors soos die Nissan Lavina en die Renault Sandero tot gevolg gehad.

Die Renault-Nissan-alliansie begin op 27 Maart 1999. In daardie stadium het Renault 36,8 persent van Nissan gekoop. Nissan het beloof om in te koop in Renault wanneer hulle dit finansieel kan bekostig. In 2001, nadat Nissan se ommeswaai van naby-bankrotskap bewerkstellig is, het hulle ’n 15-persentaandeel in Renault gekoop, wat op sy beurt die aandeel in Nissan tot 44,4 persent verhoog het.

In 2002 is die alliansie in die Renault-Nissan BV (RNBV), ‘n strategiese bestuursmaatskappy omskep, om  oor die twee maatskappye toesig te hou. Gesetel in Amsterdam, Nederland, het Renault en Nissan elk 50 persent besit en bied dit ‘n neutrale plek vir die alliansie om idees uit te ruil, bou-strategie te ontwikkel en help dit om die invloed van die maksimumsinergieë tussen die twee maatskappye te bevorder.

Ons het twee motors wat juis uit hierdie alliansie gebore is onder hande geneem.

Die Nissan Livina X-Gear
Die Nissan Livina X-Gear

Nissan Livina X-Gear

Die Nissan Livina is ‘n luikrugmotortjie wat in Sjina ontwerp is. Die reeks sluit ook twee vertakkingsmodelle in: die stasiewa-weergawe genaamd Grand Livina en ‘n kruismotorweergawe getitel Livina X-Gear. Ons het die nuutste X-Gear vir ‘n paar dae bestuur. Die X-Gear het ‘n paar nuwe funksies soos “crossover”-stylbuffers, dakspore, swart bekleedsel, maar ironies genoeg is die grondvryhoogte nog steeds dieselfde as die gewone Livina.

Die X-Gear van agter
Die X-Gear van agter

Die  Livina X-Gear is volgens Nissan ontwerp om vreesloos jou sin vir avontuur uit te leef. Daar is veiligheidskenmerke  wat ‘n sterk en stewige veiligheidsel, bestuurder- en passasierslugsakke, ABS-remme met EBD-remverspreiding sowel as BAS-remhulp as standaard  insluit.

Die Livina X-Gear sorg ook vir goeie veiligheid met die Nissan Teen-diefstalstelsel (Nats) , waaronder sentrale sluiting en immobiliseerder. Alle Nissan-voertuie is ook met Microdot-anti-diefstaltegnologie toegerus.

Die Nissan Livina X-Gear se sportiewe voorkoms is nie net ‘n lus vir die oog nie, maar omhels ook sy slim, avontuurlustig ontwerp. Met ‘n vaartbelynde dakrak en 15″-allooiwiele, maak die Livina X-Gear ‘n kragtige verklaring dat die motor vir die buitelewe ontwerp is. Of jy nou bergfietsrenne doen of branderplank ry, die X-Gear met sy gespierde silhoeët, uitgeboude wielboë en sportiewe voorkoms gee jou die selfvertroue om ‘n wêreld vol avontuur aan te pak.  Die Livina X-Gear is ‘n stedelike avonturier met genoeg ruimte vir jou, jou vriende en enige toerusting wat jy dalk nodig het om jou avontuurlus te bevredig.

Die X-Gear se binneruim
Die X-Gear se binneruim

Die 60/40- gesplete agtersitplekke vou ook weg om ruimte vir al jou duiktoerusting te maak. Kombineer dit met ‘n magdom luukshede soos ‘n verstelbare stuurkolom, elektriese vensters en lugreëling en jy het ‘n motor wat jou baie ruimte en waarde bied teen ‘n prys wat jou sal laat wonder oor enige ander ryding in die klas.

Die X-Gear se bagasieruim
Die X-Gear se bagasieruim
Die X-Gear se instrumentepaneel
Die X-Gear se instrumentepaneel

Onder die enjinkap is ‘n lewendige 1.6-literenjin wat 80 kW teen 6 000 o/min ontwikkel en 153Nm se wringkrag teen 4 400rpm lewer. Daar is ook 363 ℓ pakplek met die agterste sitplekke in plek. Ons het wel die enjin effens pap ervaar as daar passasiers en begasie in die motor gelaai is. Die X-Gear verkoop teen R205 800 en sluit ‘n 100 000 km-waarborg, asook ‘n 3-jaar- 60 000-km-diensplan in.

Ons gee die Lavina X-Gear 3 uit 5

Die Renault Sandero Stepway
Die Renault Sandero Stepway

Renault Sandero Stepway

Die Renault Sandero is ‘n klein, goedkoop, kompakte stadsmotor, wat met behulp van die B0-platform van die Dacia Logan vervaardig is. Dit is bedoel om Renault se greep in die goedkoop, ontwikkelende motormark te versterk. Die Stepway is soos die X-Gear’n kruismotor en word net soos die res van die Sandero-reeks, in Rosslyn, Pretoria gebou. Renault moes ‘n teenvoeter vir die VW Vivo- en Tata-produkte uit Indië verkry. Die Sandero vul hierdie gaping.

Binneruim van die Renault Sandero Stepway
Binneruim van die Renault Sandero Stepway

Die intreevlak van die mark is baie mededingend terwyl motors al hoe duurder word.  Wat is jy bereid om prys te gee by die aankoop van ‘n nuwe motor? ‘n Groot bekende naam, veiligheid, luukses, ekonomie, boukwaliteit, reputasie  en herverkoopwaarde ?  Al hierdie oorwegings speel met ons emosies wanneer daardie keuse gemaak word om ‘n nuwe motor aan te skaf. Vir die meeste mense is motor koop die tweede grootste aankoop buiten huis koop. Met die Sandero en spesifiek die Stepway het Renault al die bekende kassies waarna kopers kyk en in ‘n motor wil hê, gemerk.

Instrumentepaneel van die Renault Sandero Stepway
Instrumentepaneel van die Renault Sandero Stepway

Teen R149 900 bied die Renault Sandero Stepway ‘n 1,6-literenjin met ‘n klomp ruimte. Kortom, die motor is ‘n praktiese stadsmotor met ‘n goeie grondvryhoogte (175 mm ), stofbeskerming en goeie paddinamika. Die Stepway het as standaardtoerusting  ‘n 5-jaarwaarborg en 3-jaardiensplan. Die 64kW 1600 is goed vir 11,5 sekondes van rus tot by 100km/u.

Brandstofverbruik in die gekombineerde siklus van 7.2l/100km is goed. Dinamies voel die Stepway soos ‘n moderne motor. Dit voel goed gebou sonder enige raserige rattels en geluide. Een aspek van die motor waarmee ek gesukkel het, was die bestuursposisie. Elke keer as jy hard rem of versnel, voel dit asof die sitplek nie behoorlik vasgebout is nie.  Daar was niks anders in die motor wat my gepla het nie, en ek het net nadat ek beide die X-Gear en die Stepway vir ‘n week lank bestuur het, gewonder hoekom ander rygoed so vreeslik duur is. Beide die motors is tog goeie produkte, wat deur groot bekende vervaardigers gebou word en ‘n rits veiligheidskenmerke bied wat niks minder is as in enige VW of Toyota nie. Bougehalte is goed en die motors doen presies wat op die verpakking staan. Hoekom so goedkoop?

Ons gee die Renault Sandero Stepway 3 uit 5.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.