
‘n Bekroonde Italiaanse wynboer word deur die sektor geboikot ná ‘n vreemde rassistiese uitbarsting op Facebook teen Italië se eerste swart regeringsminister.
Fulvia Bressan het die internet gebruik om teen die minister van integrasie, Cecile Kyenge, ‘n Italiaanse burger wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo gebore is, uit te vaar.
Bressan het die minister ‘n “vuil swart aap” en ander rassistiese uitlatings toegesnou. Hy het later sy opmerkings geregverdig deur te sê dat hy kwaad was vir die regering wat belastinggeld wil gebruik om onwettige immigrante in hotelle te huisves.
Die organiese wynboer, wat in die Friuli Venezia Giulia-streek in die noordooste van Italië woonagtig is, word vir die tradisionele metodes wat hy op sy plaas gebruik, geloof.
Maar Monica Larner, die Italiaanse resensent vir die prestigieuse nywerheidspublikasie die Wine Advocate, sê: “In die lig van die onaanvaarbare opmerkings wat deur Fulvio Bressan gemaak is, gaan ek nie sy wyn proe nie.”

Deelnemers aan sosiale media het ‘n oproep om ‘n boikot gedoen en die globale fynproewersnetwerk Slow Food het Vrydag gesê dat hulle sy wyn van hul Slow Wine List gaan afhaal.
Bressan se opmerkings is “so aanstootlik dat hulle elke reël in sig ootree”, het Slow Food in ‘n verklaring gesê.
“Hul dawerende eggo het hier in Italië weerklink, asook in vele ander lande waar sy wyne verkoop word,” het die netwerk verklaar.
Bressan se tirade is die jongste in ‘n reeks beledigings teenoor Kyenge vanaf anti-immigrasie-aktiviste, waaronder die adjunkspeaker van die Italiaanse senaat, Roberto Calderoli, wat haar met ‘n orangoetang vergelyk het. – AFP