E-tol op pad na Zuma wet onderteken

Deel op
E-tolpunt op 'n Gautengse snelweg
E-tolpunt op ‘n Gautengse snelweg

President Jacob Zuma het die Vervoerwette en verwante aangeleenthede-wysigingswet onderteken – wat die weg berei vir die e-tolstelsel, het die presidensie Woensdag gesê.

“Die president… het, luidens artikel 84(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, die Vervoerwette en verwante aangeleenthede-wysigingswet onderteken,” het die woordvoerder Mac Maharaj gesê.

“Die uitwerking van die wet sal wees om voorsiening te maak vir die meer doeltreffende insameling van tolgeld, om die Oorgrenspadvervoeragentskap te bemagtig om tolgeld namens Sanral in te samel…”

Die wet stel die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk (bekend as Sanral) in staat om e-tol op Gauteng se snelweë in werking te stel.

Die ondertekening kom op dieselfde dag as wat die Appèlhof argumente sou aanhoor in ‘n poging deur die Opposisie Teenoor Stedelike Tol-Alliansie (bekende as Outa) om die e-tolstelsel in Gauteng te keer.

Daar is aan die hof gesê dat wetgewing Sanral toelaat om ander oplossings as tolgeld te verken om Gauteng se snelweë te befonds.

Die hof het ook gehoor dat Sanral daarom ‘n oop gedagte rondom die kwessie behoort te behou, ongeag die kabinet se isntemming tot ‘n elektroniese tolstelsel.

“Selfs al word hulle deur die kabinetsbesluit gebind, behoort hulle steeds die prosedures van die wet te volg,” het Mike Maritz namens Outa gesê.

Hy het geargumenteer dat die Sanral-wet Sanral toelaat om ander befondsingsoplossings te ondersoek. Sanral behoort dit te oorweeg het en behoort nie deur die kabinet se besluit dat die projek met openbare geld deur e-tol befonds moes word, gebind te gewees het nie.

Die Hoë Hof in Pretoria het aan Outa verlof tot appèl toegestaan teen ‘n vorige uitspraak, wat in Desember afgekondig is en waarin die organisasie se poging om e-tol gestuit te kry, van die hand gewys is.

Regter Fritz Brand het gevra of Sanral die kabinet se besluit behoort te ignoreer.

In  sy antwoord het Maritz verklaar dat Sanral ‘n oop gedagte behoort te behou het en alle opsies in ag behoort te geneem het.

Verlede week het die minister van vervoer, Dipuo Peters gesê dat die Gauteng-snelwegverbeteringsprojek in 2013 in werking gestel sou word, maar dat die aanvangsdatum nog nie bepaal is nie.

Die e-tol is deur politieke partye en Cosatu teengestaan.

In April 2012 het die Hoë Hof in Pretoria aan Outa ‘n interdik toegestaan wat ‘n volle regshersiening magtig alvorens die elektroniese tolstel in werking gestel mag word.

Die interdik het Sanral verhoed om e-tolgeld te hef of te in, afhangend van die uitslag van ‘n hersiening. Sanral en die nasionale tesourie het teen die hofbevel geappelleer..

In September verlede jaar het die Grondwethof die tussentydse bevel opgehef en in Desember het die Hoë Hof in Pretoria die aansoek van die hand gewys.

Die hof het op 25 Januarie vanjaar aan Outa verlof tot appèl toegestaan om die aak na die Appèlhof in Bloemfontein te neem. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.