DA-woordvoerder sê ANC is beslis beter as ‘apartheid’

Deel op
Zille en Maimane
Zille en Maimane

Die DA-woordvoerder, Mmusi Maimane het Maandag gesê dat Julius Malema verkeerd was deur te sê dat die ANC-regering erger as die apartheidsregering is.

“U mag gehoor het dat Julius Malema oor die naweek gesê het dat die ANC erger as apartheid is. Dit is verkeerd om dié indruk onder Suid-Afrikaners te skep,” het hy in ‘n voorbereide toespraak gesê.

“Apartheid was erger omdat dit ‘n stelsel van ingeburgerde rassisme was. Apartheid was erger omdat ons apartheid nie kon uitstem nie. Trouens, ons kon glad nie stem nie.”

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters het Saterdag tydens ‘n byeenkoms in Lethabong naby Rustenburg gesê dat swartmense nooit grond onder die African National Congress sal besit nie.

“Ons stryd gaan oor grond. Mandela is oor grond in hegtenis geneem,” het Malema gesê.

Maimane het gesê dat “die opofferinge wat soveel vir ons vryheid gemaak het” moet onthou word.

“Soos soveel ander waar ek grootgeword het, was ek destyds ‘n ANC-ondersteuner. Ek het geglo dat die ANC ‘n beter lewe vir my en my gesin sou bewerkstellig,” het hy gesê.

“Sedertdien het ek gesien hoe die eens trotse beweging onder die huidige leierskap die pad byster geraak het.”

Hy het gesê dat apartheid teen die mense se wil op hulle afgedwing is, terwyl die ANC nie “verpligtend” is nie.

“Die ANC is ‘n politieke party in ‘n demokrasie. Ons kan vir ‘n ander party stem indien ons deur dié aan bewind in die steek gelaat voel.” – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.