‘SA kan ook terreurteiken word’

Deel op
Hussein Solomon
Hussein Solomon

Sowat 12 rebelle was in die aanval op die Westgate-winkelsentrum in Nairobi betrokke, wat die lewens van minstens 68 mense geëis het, het The Standard berig nadat dié koerant beeldmateriaal van die sentrum se sekuriteitskameras gesien het.

Die beeldmateriaal bevestig ooggetuies se weergawes dat die aanvallers – gewapen met handgranate, gewere, pistole en ammunisie – die winkelsentrum van die voor- en agterkant bestorm het.

Die grootste groep het voor ingegaan en ‘n eetplek met geweervuur en handgranate aangeval.

Vier aanvallers het by die ingang wat na die parkeerarea lei ingegaan nadat hulle ‘n sekuriteitswag geskiet het.

Dié groep het aanbeweeg na die parkeerplekke op die dak waar ‘n plaaslike radiostasie ‘n partytjie aangebied het.

Die aanvallers het twee handgranate na die partytjiegangers geslinger, maar slegs een het ontplof.

Volgens verskeie ooggetuies is mense beveel om die Islamitiese geloofsbelydenis op te sê. Diegene wat minstens die eerste paar woorde kon voordra se lewens is gespaar en die mense wat dit nie kon opsê nie is geskiet.

“Toe ek die eerste woorde van die belydenis opsê, het hulle aanbeweeg. Dit is hoe ek bly lewe het,” het een oorlewende aan The Standard gesê.

Sulke aanvalle kan ook in Suid-Afrika plaasvind, het prof. Hussein Solomon, lektor in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat aan Beeld gesê.

“Die terreuraanval in Nairobi moet gevaarligte by Suid-Afrikaanse owerhede laat flikker, want as Al-Shabab sou besluit om ’n winkelsentrum hiér te teiken, is daar bitter min wat in hul pad sal staan,” het Solomon gesê.

Al-Shabaab het glo op sy Twitter-profiel, wat intussen verwyder is, gesê die aanval was in weerwraak op Keniaanse troepe se betrokkenheid by Amisom, die Afrika-Unie-mag in Somalië.

Suid-Afrika, as ’n lid van die Afrika-Unie (AU), steun Amisom onregstreeks, maar bied tans geen direkte militêre ondersteuning nie.

Suid-Afrika het ’n groot Somaliese bevolking en onder hulle tel glo al-Shabab-lede. Somaliërs wat in xenofobiese aanvalle geteiken word, het baie volgens Solomon hul gewapende Al-Shabab-landgenote betaal om hulle teen Suid-Afrikaners te beskerm.

Anneli Botha, ’n terreurkenner by die Instituut vir Sekerheidstudies, het gesê al-Shabab-lede het aan haar bevestig dat Suid-Afrika as ’n basis gebruik word.

Solomon se bewerings oor Al Kaida in Suid-Afrika het voorheen vir ‘n storm van kritiek in die Moslemgemeenskap gesorg. Leiers het sy onjuiste stellings veroordeel en gesê hy wil paniek saai en ‘n negatiewe beeld van Suid-Afrikaanse Moslems skep.

Saoedi-Arabië het vroeër gespog dat hulle Al Kaida beheer en as politieke afdreigmiddel internasionaal gebruik. Dié olieland is ‘n Amerikaanse bondgenoort.- Sapa/AFP

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.