Frans Cronjé se etnomasochisme verdiep

Deel op

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Frans Cronje skryf vandag een van die mees insiggewende rubrieke van die afgelope dekade in Rapport. Cronje meen dat blankes nie bitterbek moet wees as ons belastingbydraes verkwis en geplunder moet word nie.

Want, “redeneer” Frans, as ons nie ons bekke hou nie; as ons nie die plundery, verval en misdaad bloot vrolik, positief en opgeruimd  gadeslaan en aanvaar nie; sou ons ophou om maar net stilswyend te kak en betaal, gaan daar gróót probleme wees. ‘n Tweede rewolusie sal dan volgens Frans plaasvind, sou ons aanhou mor en kla. Swartes sal minder vergewensgesind wees. Hulle kan ons selfs uitmoor, skimp Frans. (Daardie einste, vredeliewende swartes wat nie met politieke motiewe plaasmoorde pleeg nie, Frans??)

Kom ons analiseer egter wat Frans geskryf het.

Eerstens is sy woordkeuse interessant. Hy gebruik die term “tweede rewolusie”. Daar was dus logieserwys ‘n eerste rewolusie. En daar dag ek heeltyd die kapitulasie by Kodesa was ‘n sogenaamde onderhandelde skikking, met gewillige rolspelers. Toe nie. Duidelik was dit ‘n rewolusie, volgens Frans, in die Ché Guevara-tradisie. Frans maak dus ‘n verstommende bekentenis: Kommuniste en terroriste het die land op rewolusionêre wyse oorgeneem in 1994, erken hy, agv die skandelike volksverraad van Pienk Frikkie en Rooi Roelf. Dit was dus g’n onderhandelde skikking by Kodesa nie; dit was bloot ‘n rewolusie. Jy as blanke verbeel jou dat die referendum van 1992 op een of ander manier jou demokratiese keuse was. Toe nou nie. Daar het ons dit, swart-op-wit, in die binneblaaie van die Afrikaner se eie Prawda; Rapport: 1994 was nie ‘n onderhandelde skikking nie, dit was ‘n kommunistiese rewolusie.

Sedert bogenoemde rewolusie het meer as ‘n miljoen blankes buiteland toe gevlug. Nog honderde duisende het hul werk verloor, nádat blanke staatsamptenare etnies uit die staatsdiens gereinig is, en talle ander blankes hul werk verloor het in die privaatsektor agv rassistiese regstellende aksie. Kennelik was Frans nie een van diegene wat hul werk verloor het nie, want hy sit veilig in sy pos by ‘n private akademiese instansie.

Die belasting wat ons betaal, word verkwis. Dit word gesteel. Ons kry niks in ruil daarvoor nie, want ons moet nog steeds ons eie privaatpolisiemagte, -onderwys en -gesondheidssorg voorsien. Ons belasting word spandeer op sousvliegtuie, op Nkandla en die huur van wynglase teen R200 elk sodat die kaders kan partytjie hou. Maar blankes mag nie kla nie, want blankes moet verstaan dat ons, mbv ons belasting, die prys sal moet aanhou betaal vir ons “voorvaders se sondes”. Blankes, seg Frans, moet dankbaar wees. Net so bly soos ‘n ivoortoringakademikus wat darem nog ‘n pos beklee, Frans?

Kennelik was Frans Cronjé se voorvaders miskien Broederbonders of diegene wat die swartes onderdruk het, en blykbaar voel Cronjé dus baie skuldig oor sy of sy  voorvaders se sondes (wil jy ons iets vertel, Frans?), maar nóg ek, nóg my voorvaders, het al ooit enige swartmens te na gekom. Inteendeel; ons was nog altyd goed vir hulle. Indien ons nie aan hulle werksgeleenthede verskaf het nie, het ons, klaarblyklik anders as Cronjé se voorsate, geen swarte ooit benadeel nie.

Die héél interessantste ding van Frans se ontboeseming in Prawda, askies, Rapport, is sy intense vrees vir “die ander”. Frans se medeliberale vertel ons dikwels hoe “misdaad almal raak”, en dat iets soos georganiseerde swart-op-wit rassistiese misdaad nie bestaan nie, maar dan gaan Frans waaragtig en dreig blankes met presies dít: Georganiseerde, kwaadwillige swart rassistiese geweld. Hy maak so in die volgende sinnetjie: “Dit sal ’n gewelddadige, rassistiese en vernietigende oorgang wees..”

Let op Frans se woordkeuses: Geweld. Rassisme. Vernietiging. Hou dus jou bek, meneer die blanke belastingbetaler, of swart, rassistiese geweld is jou voorland, skryf Frans. Waar wás Frans die afgelope 19 jaar, moet ek dadelik vra? Is die bykans 4000 dooie plaasboere en derduisende blanke slagoffers van swart-op-wit geweld tot op hede dus diegene wat nie hul bekke gehou het nie, Frans? Sou hulle steeds geleef het, as hul maar net hul bekke gehou het, en met ‘n blye hart belasting betaal het, Frans?

Frans vrees duidelik die swart gevaar.

Hy is bang vir die monster wat in 1994 geskep is, tydens ‘n gebeurtenis wat hy, Frans, prontuit as ‘n rewolusie beskryf. Frans het egter geen antwoorde nie, buiten om aan te beveel dat blankes maar eerder nie moet kla as ons belasting verkwis word nie. Ons moet buk en ons pak vat. So nie, dreig Frans, wag daar selfs ‘n erger rewolusie as dié by Kodesa op ons.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.