Hoe Joe Slovo die land verower het

Onlangs het ‘n biografie uit die pen van die Amerikaanse Jood, Alan Wieder, verskyn met die titel Ruth First and Joe Slovo in the war against apartheid (Monthly Review Press). Dit vertel die fassinerende verhaal van hoe twee Litause Jode – eers vanuit Johannesburg maar later vanuit Londen en enkele Afrikastede – ‘n leidende rol in die aanslag op die vorige Afrikanerregering gespeel het. Oor die afgelope 24 uur het ek die boek in een sitting deurgelees en gee graag van my indrukke hier weer.

roodt_dan_wikiOor die algemeen is dit nie polities korrek om na die etnisiteit van Jode te verwys nie, maar in dié geval beklemtoon die skrywer dit reeds in sy voorwoord dat hy aanvanklik in First en Slovo begin belangstel het vanweë sy en hulle gemeenskaplike wortels in Oos-Europa en Joodsheid:

“As I worked on teacher stories between 1999 and 2008, I felt a growing camaraderie with First and Slovo. Both Ruth and Joe’s roots were Eastern European and Jewish, as are mine; both were, at best, non-practicing Jews, as am I; both were, like me, politically left.”

Opsommenderwys kan ‘n mens die boek as ‘n hagiografie of klakkelose huldebetuiging aan Ruth First en Joe Slovo beskryf. Ek was reeds bekend met beide se rol in die sogenaamde “stryd teen apartheid”, maar Wieder onthul sowel hul persoonlike geskiedenissse as hul politieke handelinge, wat vir nogal heelwat nuwe insigte in die treurige verhaal van ons Afrikanerneerlaag sorg. Dit het ook tot my persoonlik gespreek, aangesien my oorlede pa en sy Afrikanervriende in die veertigerjare op die Wits-kampus ‘n vergeefse stryd teen Slovo en Wolpe gestry het – terugskouend gesproke. Aan die einde van sy lewe het hy verbitterd uitgevaar teenoor “die Afrikaner wat soveel kanse gehad het en alles verbrou het” of “aan daardie duiwelse Slovo oorgegee het”. Insgelyks as student aan Wits dertig jaar gelede, het ek heelwat van die linkse, Joodse kultuur waarvan daar in die boek sprake is, meegemaak en selfs die skryfster van die voorwoord, die Nobelpryswenner Nadine Gordimer, een of twee keer toevallig ontmoet. Gordimer is insgelyks van Litaus-Joodse afkoms en was goed bevriend met “daardie wonderlike Slovo’s”, soos sy elders in ‘n koerantonderhoud na Joe en Ruth verwys het.

Joe Slovo is nie eens in Suid-Afrika gebore nie, maar in die dorpie Obelei in Litaue wat destyds onder Russiese invloed was. Die latere kommunistiese leier het eers op die ouderdom van tien saam met sy ma in Suid-Afrika aangeland. Die grootste gros Litause Jode het in die tyd van Paul Kruger in ons land aangekom en ‘n prominente rol in die goudstormloop gespeel. Teen 1914 was daar reeds 40 000 Jode in Suid-Afrika, waarvan die meeste in Johannesburg saamgetrek was. In die vroeë twintigste eeu het tot 20% van dié stad se bevolking uit Jode bestaan, wat tot die spottende benamings “Jewburg” of “Jewhannesburg” aanleiding gegee het.

Volgens Wieder moes Jode uit Litaue padgee as gevolg van toenemende anti-Semitisme ná die sluipmoord op die Russiese tsaar Alexander II. In beide Letland en Litaue het agterna ‘n gevoel teen Jode opgelaai, wat in ghetto’s gewoon het maar nie ekonomies kon oorleef nie en wat dus na ander heenkomes, hetsy in die VSA, hetsy in Suid-Afrika, gesoek het.

In die vroeë 1930s was van die meer gevestigde Jode in Johannesburg welvarend of het, soos Ruth First se ouers Julius en Tilly, tot die middelklas behoort. Nuwe aankomelinge uit Litaue soos die Slovo’s was egter onversorg en soos die skrywer vertel, was dit standaardpraktyk om sulke kinders eers te ontluis alvorens hulle tot skole toegelaat is. Die tienjarige Joe Slovo het geen ander taal as dié van die Oos-Europese ghetto, Jiddisj, gepraat nie. Sy pa is aanvanklik eers per skip Argentinië toe en indien hy daar werk gekry het, sou Suid-Afrika se geskiedenis dalk heel anders daar uitgesien het, want dit sou beteken het dat Joe ook daarheen sou verhuis het. Dalk sou daar nooit ‘n “Freedom Charter” of ‘n Kerkstraatbom gewees het nie, beide synde gebeurtenisse waarby Joe Slovo ‘n sleutelrol gespeel het.

wieder_slovo_first_voorbladUit Wieder se opmerkings oor Joodse immigrasie na Johannesburg, lei ‘n mens af dat, benewens Jiddisj, die Joodse geloof, gewoontes en kookkuns, ‘n ander invloedryke ideologie die nuwe aankomelinge vergesel het: die kommunisme. Synde self links en Joods, skroom die skrywer nie om aan te toon watter aktiewe rol die Litause Jode in Johannesburg gespeel het om kommunisme te bevorder nie. Afgesien van die verloopte Afrikaner Bram Fischer en sy vrou Molly, was die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty so te sê ‘n etnies Joodse beweging met ‘n paar swartes en Indiërs wat gekoöpteer is. Dit word natuurlik ook weerspieël in die aangeklaagdes tydens die fameuse Rivonia-verhoor, waarvan die helfte Jode was: Goldberg, Bernstein, Hepple, Wolpe, Kantor en Goldreich.

Hierdie is ‘n dubbele biografie en daarom spring die skrywer heen en weer tussen First en Slovo se verhale. Selfs voor hul ontmoeting op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand, word albei van ‘n vroeë ouderdom af reeds aan kommunisme blootgestel. Ruth First se ouers. Julius en Tilly, was albei oortuigde kommuniste en vandat sy tien jaar oud was, is sy polities bewus gemaak of saamgeneem na vergaderings of betogings toe. Blykbaar het lede van die Kommunisteparty die gewoonte gehad om op die trappies van die Johannesburgse stadsaal pamflette uit te deel en ook toesprake aan verbygangers te maak. Dit was natuurlik in die dae voor die Nasionale Party kommunisme verbied het. Maar selfs die verbod op die Kommunistiese Party het hulle nie gestuit nie, want Slovo, First, Fischer en ander het ‘n nuwe, ondergrondse party in die plek daarvan gestig.

Slovo se ma is vroeg dood, met die gevolg dat sy suster in ‘n weeshuis opgeneem is en hy saam met sy pa van een losieshuis in Doornfontein na ‘n ander moes rondswerf. Hy moes vroeg uitspring om te gaan werk en het sodoende op die fabrieksvloer in die kommunistiese beweging aktief geraak, hoewel ‘n onderwyser hom reeds aan kommunisme voorgestel het en daar in die Joodse losieshuise ook allerlei gesprekke oor sosialisme gewoed het.  Hy kry werk by ‘n Joodse firma, Sive Brothers and Karnovsky, maar organiseer sowel die swart as die wit werkers om te staak, in so ‘n mate dat die eienaar hom inroep. Wieder skryf:

“In March 1944, he was called in by one of the company’s owners, Sammy Sive, and informed that he should curtail his political activities and be grateful that he had a job at ‘such a nice Jewish firm.’ Sive explained, ‘At heart we are all communists.’ He told Joe that the firm donated money to Medical Aid for Russia.”

Hierdie stelling deur Sammy Sive verraai vir my iets van die Joodse kultuur van destyds en waaruit die hele anti-apartheidsbeweging ontstaan het: “In ons harte is ons almal kommuniste.” Vir ‘n groot deel van die twintigste eeu het dit nie saak gemaak of ‘n Jood in Suid-Afrika ‘n kapitalis, werker, akademikus, skrywer, boekhouer, vragmotorbestuurder, kleremaker of wat ook al was nie: in sy hart was hy ‘n kommunis, met groot simpatie vir die radikale vleuel wat toenemend deur Joe Slovo en Ruth First gelei is.

Trouens, daar was onlangs in die plaaslike gemeenskapskoerant, The South African Jewish Report, ‘n hele debat oor die verhouding tussen die radikale Jode soos Slovo en die Rivonia-aangeklaagdes, enersyds, en gewone Jode andersyds, waaronder daar seker ook hier en daar konserwatiewes of nie-kommuniste moes wees. Sommige briefskrywers het wel afwysend teenoor Goldreich en ander radikale Jode gestaan; nie soseer vanweë hul rol in Suid-Afrika nie, maar weens hul kritiek jeens Israel en simpatie vir die Palestynse saak. Maar in ‘n hoofartikel het sowel die koerant as die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes die rol van radikale Jode in die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis met trots omhels. Dit wil voorkom asof Suid-Afrikaanse Jode voel dat die aandag op swart figure soos Mandela, Tambo en ander ANC-ampsdraers afbreuk aan hul historiese erfenis en veral dié van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty doen en hulle nie genoegsame erkenning kry vir die rol wat hulle gespeel het om die Nasionale Partybewind omver te werp nie.

Aan die einde van Wieder se boek verwys hy na die hoofrabbi, Cyril Harris, se optrede tydens Joe Slovo se staatsbegrafnis op 15 Januarie 1995. Die feit dat Slovo ‘n ateïs en geen praktiserende Jood was nie, is blykbaar van minder belang as dít waarvoor hy gestaan het:

“The official state funeral followed the day after at Orlando Stadium in Soweto. Forty thousand people crowded into the stadium and there were eulogies from President Mandela; Barney Pityana, who would soon become chairperson of the South African Human Rights Commission; John Gomomo, representing COSATU; and Charles Nqakula from the SACP. Jeremy Cronin recited the Bertolt Brecht poem, “In Praise of Communism.” The crowd inside the stadium was subdued and the speeches were on the whole uninspiring, except, ironically, the formal eulogy by the Chief Rabbi of South Africa, Cyril Harris. The rabbi’s sermon portrayed Joe’s bravery and kindness, concluding with a Jewish proverb, ‘Yes, a resounding yes. The world is a better place, thanks to you, Joe, and your remarkable life.'”

Nadat Slovo vir Suid-Afrika teen Italië in die tweede wêreldoorlog gaan veg het, kon hy aan Wits met ‘n beurs in die regte gaan studeer al het hy nie matriek agter sy naam gehad nie. Hier het sy lewenslange vriendskap met nog ‘n Joodse kommunis, Harold Wolpe, begin en het hy ook uiteindelik met Ruth First afgehaak. First het egter eers ‘n seksuele verhouding met ‘n linkse en ewe invloedryke Indiër, Ismail Meer, gehad. Dit was die dae voor die Ontugwet, asook die Groepsgebiedewet en daarom het ‘n veelrassige kerngroepie gereeld in Meer se woonstel, Kholvad-huis 13, te Markstraat in die middestad van Johannesburg, byeengekom en sosiaal verkeer. Dit is ook by Kholvad-huis waar Nelson Mandela en Joe Slovo mekaar die eerste keer ontmoet het.

Die Franse filosoof Jean Baudrillard het ‘n interessante boekie geskryf, A l’ombre des majorités silencieuces, oftewel “In die skadu van die stille meerderheid”. Selfs in ‘n liberale demokrasie is die “meerderheid” per definisie altyd “stil” terwyl bepaalde mense of groepe altyd namens die meerderheid praat of interpreteer wat die gepeupel kwansuis dink. Soveel te meer was dit nog al die jare die geval in Suid-Afrika, waar veral Joe Slovo en sy vrou Ruth First tydens hul lang verblyf oorsee as die selfaangestelde woordvoerders van Suid-Afrika se swart meerderheid opgetree het.

Joe Slovo en Ruth First
Joe Slovo en Ruth First

By die lees van hul biografie, is daar ‘n bekende Jiddisje woord wat telkens in my gedagtes opduik en dit is: “goetspa”. Selfs nie eens die Boeremag se ambisieuse staatsgreepplan in Dokument 12 spreek van soveel misplaaste selfvertroue soos Slovo en First se geloof in die revolusie en die uiteindelike militêre oorname van Suid-Afrika nie. Moontlik het die Nasionale Party se kapitulasie by die onderhandelingstafel vir Slovo as ‘n groot teleurstelling gekom, want met die hulp van die destydse Sowjetunie en Oos-Duitsland was hy besig om sy MK-kaders op te lei om uiteindelik die Boere uit Pretoria te verjaag. Hy het kort-kort voorspel dat die oorwinning “net om die draai” was. Hoewel hy in beheer van die ANC se hele terreuroperasie teen Suid-Afrika was, het hy hom kwalik oor sy eie veiligheid bekommer en was hy veral berug vir sy laataandkuiery by medestryders wat as “Joe se roete 66” bekendgestaan het. Hy het ook die gewoonte gehad om met etenstyd op te daag sodat sy gasheer verplig was om hom iets te ete aan te bied. Te eniger tyd kon ‘n agent van die destydse veiligheidsmagte hom in die straat afgemaai het en tog het dit nooit gebeur nie. Weliswaar het Craig Williamson in 1982 die briefbom aan Ruth First in Maputo gerig wat haar dood veroorsaak het, maar Slovo het lustig bomme in Suid-Afrika laat afgaan sonder dat hy ooit die geringste ongemak verduur het.

Uiteraard is Alan Wieder se weergawe van Slovo se terreuraktiwiteite erg eensydig. Selfs die Kerkstraatbom word as ‘n “militêre operasie” beskryf. ‘n Vraag wat by my ontstaan het, is waar die geld om terreur te bedryf vandaan gekom het. Slovo was iets van ‘n linkse stralerjakker en het aanmekaar tussen Londen, Moskou, Beijing en Havana gevlieg, as hy nie in Lusaka, Maputo of Luanda was nie. Dit wil voorkom asof die ANC destyds deur die Anglikaanse Kerk en Swede befonds is, terwyl die Sowjetunie en Oos-Duitsland die SAKP van geld, opleiding en wapens voorsien het. By tye het skeuring tussen die twee organisasies gedreig, maar Slovo het dit altyd reggekry om geskille op te los omdat hy sy “stille meerderheid”, net soos Mandela in die tronk, nodig gehad het.

Wieder se simpatie lê eerder by Ruth as by Joe, want hy beskryf haar as die slimmer marxistiese teoretikus. Sy het ook beter as Slovo geskryf en kon dus die propagandaveldtog in die Britse media volhou terwyl Joe ellelange vergaderings bywoon of in Afrikalande sy rekrute in saamgeflanste kampe gaan toespreek. Hul verhouding word as taamlik stormagtig beskryf en blykbaar het Joe allerlei ander verhoudings met vroue gehad, min of meer met Ruth se instemming. Hulle het egter ook oor politiek geargumenteer en in haar strewe om ‘n universiteitspos in Engeland te bekom, het First ‘n meer gematigde “nieulinkse” Marxisme as Slovo, wat op die beleid van Moskou attent moes wees, aangehang. Voor sy ‘n pos in Maputo tydens die Machel-bewind aanvaar het, het First ongeveer vyf jaar lank in Brittanje aan die Universiteit van Durham klas gegee.

Benewens goetspa, is iets wat Jode van Afrikaners onderskei, kennelik ‘n oormaat selfvertroue en wedersydse bewondering. Oor en oor in die boek word sowel Slovo as First vir hul briljantheid geloof. Geen van die argumente en stellings wat Wieder aanhaal, lyk egter vir my besonder skerpsinnig nie. Min of meer die slimste ding wat Slovo gedoen het, was om in die veertigjare kommunistiese propagandastukke in die swart toilette by fabrieke op te plak, omdat hy geweet het “dat geen selfrespekterende blanke by ‘n swart toilet sou ingaan nie”. Wat hul marxistiese teorieë betref, sou nóg Slovo nóg First in Italië of Frankryk enige aansien onder linkse intellektuele kon verwerf aangesien hulle mank gegaan het aan die soort sofistikasie en voorliefde vir ingewikkelde filosofiese redenasies waarvoor linkses in dié lande wêreldberoemd geword het.

Afrikaners is so onbelangrik dat hulle feitlik nêrens in die boek genoem word nie. Daar word net deurentyd na die “apartheidsregime” as metoniem vir Afrikaners verwys. As De Klerk en Roelf Meyer uiteindelik bes gee nadat Slovo goedgunstiglik tot die sogenaamde “sonsondergangklousule” ingestem het, is dit amper asof dit vooraf só bestem was. Die Slovo’s se dogter Gillian verwys iewers na “die naïewe Afrikanerkultuur van die veld” en ek het nogal gewonder of Joe Slovo of Ruth First ons hoegenaamd as “Suid-Afrikaners” sou erken?

FW de Klerk het tydens die aanvang van die onderhandelings by Kemptonpark gepoog om Joe Slovo daarvan uit te sluit, maar Thabo Mbeki het namens die ANC-SAKP-alliansie die minagtende boodskap oorgedra dat daar sonder Slovo geen onderhandelings sou wees nie. Slovo het korrek ingesien dat De Klerk nie vir enigiets “nee” sou kon sê nie. Sodoende is De Klerk gedwing om nie net die Litauer se leiersrol te erken nie, maar uiteindelik ook die knie voor hom te buig. Hoewel Slovo dikwels van dogmatisme en selfs “Stalinisme” beskuldig is, het hy geblyk baie aanpasbaar in sy sienings as kommunis te wees, afhangend van wie hom mag of geld kon aanbied. Toe Gorbatsjof in Rusland oorneem, is hy oombliklik tot perestroïka bekeer en het selfs ‘n verhoging van Moskou ontvang. Terug in Suid-Afrika, het van sy medestryders soos byvoorbeeld die Kanadese kommunis, John S. Saul, hom daarvan beskuldig dat hy die “revolusie verraai het” deur nie op volskaalse kommunisme in Suid-Afrika aan te dring nie.

Maar soos Sammy Sive in 1944 gesê het, is dit genoeg om “in jou hart ‘n kommunis te wees”. Daar is geen teenstrydigheid tussen kommunisme en kapitalisme nie. Selfs Friedrich Engels, een van die vaders van kommunisme, was ‘n fabriekseienaar. Niemand hoef die myne in Suid-Afrika te nasionaliseer nie, want hulle behoort meesal reeds aan Jode, soos die Oppenheimers of Ivan Glasenberg van Glencore-Xstrata wat eersdaags op die Johannesburgse aandelebeurs gaan noteer.

Lesers van die South African Jewish Report sal ook weet dat daar onlangs ‘n Swart-Joodse kamer van koophandel in Kaapstad tot stand gekom het. Volgens verklarings van die nuwe liggaam, “gaan Jode en swartes voortaan saam-saam die Suid-Afrikaanse ekonomie laat groei”.

Nóg in Slovo se meesterplan vir revolusie, nóg in dié nuwe ekonomiese plan figureer Afrikaners hoegenaamd.

As ‘n mens die groteske Afrikanerneerlaag van die vroeë negentigerjare moes verklaar, sou ek dit in ‘n neutedop só opsom: Afgesien van De Klerk se verraad, wat maar net ‘n uitvloeisel van die omstandighede was (hoewel lees Gustav Venter se uistekende Engelse stuk oor FW!), het ‘n baie klein groepie kommuniste die land kon oorneem danksy:

  • goeie propaganda wat deur mense soos Ruth First, Nadine Gordimer, Trevor Huddleston en selfs Helen Suzman verseker is;
  • fondse wat deur Swede, Oos-Duitsland en die Sowjetunie verskaf is;
  • die Johannesburgse netwerk wat die balie, die sakewêreld en die akademici van Wits ingesluit het en waar “kommunisme in die harte van elkeen” geleef het.

Laasgenoemde punt is belangrik, want die Afrikaner het sedert die ontdekking van goud in 1886 nog nooit ‘n goeie gevoel vir Johannesburg gehad nie. Die Anglo-Boereoorlog het vanweë die Uitlanderpolitiek van Johannesburg ontstaan en koerante soos The Star en die Rand Daily Mail (tans Business Day) was nog altyd op die voorpunt van anti-Afrikaner-oorlogspropaganda of die goedpraat van terreur teen ons. Op ‘n stadium het die Broederbond onder aanvoering van Piet Meyer gedink hulle gaan Johannesburg met behulp van die SAUK en die RAU verower, maar daarvan het dadels gekom. Vandag is daar géén Afrikanerinvloed meer by die SAUK of die Universiteit van Johannesburg nie, hoewel daar nog mense met Afrikaanse vanne bestaan wat soos spoke daar rondswerf. Hulle praat egter die ideologie van Joe Slovo en Ruth First klakkeloos na!

Afrikaners het gedink dat die magsentrum van die land in Pretoria gesetel was, in die burokrasie en in die weermag. Intussen was dit in Johannesburg, die stad waar die Litauers al meer as ‘n eeu lank die septer swaai… Johannesburg is inderdaad die stert wat die hond swaai.

Naspers sanik aanmekaar oor hul “Madiba” en verwar die Afrikaner des te meer. In die boek skemer dit deur dat nóg Joe Slovo nóg Ruth First ‘n hoë dunk van Mandela gehad het en hom bloot as ‘n vermetele swarte gesien het wat nie sy plek ken nie. Uiteindelik was hy maar net die swart gesig van die revolusie; hulle kon net sowel foto’s van die gestorwe Martin Luther King gebruik het.

Na alle waarskynlikheid het Joe Slovo en Ruth First die Freedom Charter geskryf. Teen die tyd dat dit in 1955 by Kliptown aangeneem is, was die kommunistiese egpaar reeds ingeperk en mog nie vergaderings bywoon nie. Joe Slovo het egter op ‘n sinkdak met ‘n verkyker gelê en gekyk hoe die vegadering verloop en was hoogs in sy noppies met die uitkoms.

Die nasionalisering van Afrikanergrond is een van die grondbeginsels van die Freedom Charter.

Ons sal binnekort sien hoe ideoloë vanuit Johannesburg wat nog nooit ‘n mieliepit geplant het nie opruk om alle plaasgrond te gaan nasionaliseer. Sodoende sal die volgende hoofstuk in die Slovo’s se revolusionêre teaterstuk verwesenlik word.

Onder hul groepie uitverkore vriende het immers ook die stigter en direkteur van die Johannesburgse Marktteater, Barney Simon, getel. Dis nie soseer die middele wat saak maak nie, maar die verhaal wat vertel word.


Hou van Dan Roodt se Facebookblad

As u belangstel om ‘n lang en gratis uittreksel uit bogaande boek oor Slovo en First te ontvang, stuur ‘n epos aan inlig[by]praag.org met “Slovo” in die onderwerpreël.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.