Plaasmoorde toring bo misdaadkoers uit

Deel op

killboer2Dit is ‘n donkere dag vir ‘n land as sy Nasionale Kommissaris beweer dat misdaad onder beheer is as die moordsyfer styg tot 16 259 gevalle per jaar. Dit beteken dat byna 2 moorde per dag ekstra gepleeg word om die totale aantal moorde op byna 45 per dag te staan te bring!

Plaasmoorde toon ‘n nog meer onrusbarende prentjie. In dieselfde tydperk het plaasmoorde met 34% gestyg tot 68 in 2012/2013 teenoor die 50 moorde in 2011/2012. Plaasaanvalle het toegeneem van 112 gevalle tot 176 gevalle. Omdat plaasaanvalle gereken word as aanvalle op mense en nie op eiendom nie, kan aangeneem word dat baie van hierdie aanvalle niks anders is nie as poging tot moord, wat suksesvol afgeweer kon word.

“Wat nog meer ontstellend is, is die polisie se oënskynlike argeloosheid oor hierdie situasie. Op die SAPD se amptelike webwerf is die bladsy oor ‘Farm Attack’ onder ‘Crime Prevention’ al vir maande ‘under construction’, wat daarop dui dat hulle hoegenaamd geen erns toon met hierdie misdaad nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, Adjunk-President van TLU SA en Voorsitter van die Veiligheidskomitee. “Omdat die polisie hardnekkig weier om plaasmoorde as ‘n aparte misdaad kategorie te toon in sy statistiek is hy dus nie eens bewus van hierdie onrusbarende toename in plaasaanvalle nie. Daarby moet in gedagte gehou word dat TLU SA se databasis op plaasaanvalle en -moorde waarskynlik onvolledig is omdat ons net aangewese is op die terugvoer van ons lede of wat die media rapporteer, en wat ons dan verifieer. Die prentjie kan dus selfs slegter daar uit sien,” sê mnr. Geldenhuys.

Sedert 1 April vanjaar tot op hede toon TLU SA se databasis 37 moorde in 110 plaasaanvalle. As hierdie tendens sou voortduur tot aan die einde van die huidige verslagjaar, sal plaasmoorde op 74 te staan kom uit 220 aanvalle, wat ‘n verdere styging van 24% sal verteenwoordig.

“Die feit dat die kommissaris reken dat misdaad onder beheer is, dui daarop dat boere geen verhoogde belangstelling in hulle probleme moet verwag van die polisie nie, en gevolglik moet voortgaan met hulle selfbeskermings opleidingsprogramme en opknapping van hulle veiligheidsmaatreëls,” sê mnr. Geldenhuys.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.