RA se wurggreep verstewig

Deel op

Regstellende aksie het sy greep op veral die Suid-Afrikaanse sakewêreld verstewig met die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming wat ongeag ontevredenheid uit die sakewêreld oor strenger strawwe vir oortreders, met groot ywer deur gestoomroller word, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.

Hy sê die beoogde wet met sy strenger regulasies en swaarder strawwe hang soos ‘n dreigende wolk oor die Suid-Afrikaanse sakewêreld.

Hoër boetes en minder regsbeskerming staar besighede, wat nie aan die vereistes van regstellende aksie voldoen nie, voortaan in die gesig.

Volgens adv. Alberts is die VF Plus totaal gekant teen SEB en regstellende aksie. Hy sê dit is die instrument waarmee die ANC sy kaders in die staat en in die private industrie ontplooi het, en is een van die direkte oorsake van swak dienslewering deur die staat, soos erken deur die Ouditeur-Generaal.

“Dit is dus skreiend dat die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming se strenger strawwe vir oortredings net so deur die parlement se portefeuljekomitee oor arbeid aanvaar is.

“Die VF Plus glo eerder aan opleiding en ekonomiese groei in ‘n goed gereguleerde sakeomgewing om nuwe geleenthede te skep vir almal wat sosiaal-ekonomies swaarkry. Dit is die enigste volhoubare manier om die verskille in rassegroepe se omstandighede te laat vernou.

“Regstellende aksie bereik die teenoorgestelde. Dit is ‘n rasgegronde beleid en skep net verdeeldheid en wrywing tussen gemeenskappe.

“Vir veral wit- en bruinmense het dit ‘n meulsteen om die nek geword en is een van die oorsake van ‘n toename in wit en bruin armoede,” sê adv. Alberts.

Wat ontevredenheid vanuit die sakewêreld oor die wysigingswetsontwerp aanbetref, sê adv. Alberts dit is kommerwekkend dat die voorleggings van die sakesektor geensins in ag geneem is nie.

“Die feit dat geen van die aanbevelings van die sakesektor se voorleggings gebruik is nie, is waarskynlik ongrondwetlik.

“Die grondwetlike hof het in die saak Doctors for Life International v Speaker of the National Assembly and Others in 2006 beslis dat ‘n toepaslike graad van gee en neem tussen die publiek en die staat die kwaliteit van die demokrasie sal versterk. Dit het nie in hierdie geval gebeur nie, sê adv. Alberts.

Die VF Plus sal voortgaan om die beplande wysigings om die wurggreep van regstellende aksie te verskerp, teen te staan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.