
Meer as 100 mense is vir openbare geweldpleging en die plunder van spaza-winkels tydens betogings in Port Elizabeth gearresteer, het die Oos-Kaapse polisie Woensdag gesê.
“Die situasie in sekere van die lokasies in Port Elizabeth bly gespanne maar bestendig met die polisie wat steeds ‘n streng teenwoordigheid handhaaf,” het brigadier Marinda Mills gesê.
Volgens Mills tree die polisie met verskeie partye in gesprek wat bystand verleen aan diegene wat deur die gewelddadige betogings dakloos gelaat is.
Twee geïsoleerde gevalle het Dinsdagaand in die Soweto-langs-die-see- en KwaMagxaki-lokasies voorgekom waar ‘n Chinese winkel geplunder is.
“Terwyl die polisie op ‘n onlustoneel in Soweto-langs-die-see was, is hulle met klippe gegooi en ‘n lid het ‘n besering aan sy been opgedoen,” het Mills gesê.
Betogings het Maandagnag utigebreek nadat ‘n Somaliër in hegtenis geneem is ná hy Saterdagaand ‘n man buite ‘n winkel na bewering doodgeskiet het.
“Gedurende ons interaksie met die gemeenskappe wat hierdeur geraak word, is dit helder dat die motief vir die aanvalle op spaza-winkels nie xenofobies van aard is nie, maar ‘n misdadige element wat van die geleentheid gebruik maak,” het Mills Dinsdag gesê.
Volgens Mills het inwoners van die gebiede aan polisie gesê dat hulle geen beswaar daarteen het om tussen immigrante te werk en te woon nie, en vele het hulle gedurende die aanvalle bygestaan.