Alternatiewe vir ANC, DA se vernietigingswerk

Deel op

zillezumaWelklinkende beloftes oor die beskerming van minderhede se regte het twee derdes van Suid-Afrika se witmense in 1992 oorreed om te stem ten gunste van ‘n nuwe politieke bestel.

Van daardie beloftes het niks gekom nie en die wrange vrugte daarvan word vandag gepluk, sê mnr. André Fourie, oud-minister en die Vryheidsfront Plus se raadslid vir Stad Kaapstad.

Mnr. Fourie is tans besig met ‘n toer deur Swellendam, George (17 September) en Mosselbaai (18 September) waar hy praat oor hierdie en ander onderwerpe wat elke minderheidsgroep in Suid-Afrika direk raak en tans baie aktueel is.

Oor die destydse onderhandelinge sê mnr. Fourie dat die belofte van politieke regte en daarmee gepaardgaande beskerming van gemeenskappe nooit gerealiseer het nie en dat die ANC vir alle praktiese doeleindes ‘n blanko tjek gegee is om mee  te handel.

“Die res is ongelukkig nie net geskiedenis nie. Ons sien vandag die tragiese gevolge daarvan in die vorm van regstellende aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), werkloosheid onder minderhede weens transformasie, swak dienslewering, bankrot munisipaliteite, korrupsie en bedrog, toesmeerdery, toenemende misdaad…. Die lysie is eindeloos.

“Dit het reeds daartoe gelei dat sowat 20% van die land se witmense al sedert 1994 geëmigreer het.

Opnames wat onlangs gedoen is, toon aan dat tot 25% van jongmense geen toekoms sien nie en die land wil verlaat. Dit is skrikwekkend,” sê mnr. Fourie.

Oor die DA se beloftes om ‘n beter alternatief te bied, sê mnr. Fourie die naakte waarheid, soos uitgespel deur die DA self, is dat hy al die ANC se beleidsrigtings omarm asof dit sy eie is.

“Die DA is ten gunste van regstellende aksie en pas dit self toe, hulle steun SEB, aborsie, is gekant teen die doodstraf, swyg oor stakings wat die land lamlê… Ook hier hou die lysie net aan. Tot so ‘n mate dat mense al van die DA praat as die ANC-light.

“Onder DA-bewind sedert 2006 is Kaapstad se belastings al met meer as 100% verhoog, salarisse in die provinsie maak meer as 31% van die stad se totale begroting uit, daar was die peperduur fiasco met die Groenpunt-stadion, ‘n luukse busdiens is ingestel wat die belastingbetaler nou R38 per persoon per rit kos om te subsidieer… Ook hier hou die lysie net aan.

“U het gelukkig nog ‘n keuse. Die Vryheidsfront Plus is die enigste party wat nog opstaan en veg vir die regte van die Afrikaner en alle minderheidsgroepe.

“Die party het hom nou verbind tot samewerking met ander partye wat die ANC op sy vernietigingspad wil stuit, en om die regte van alle groepe in Suid-Afrika te waarborg. Dit kan gedoen word indien almal hande vat en ingelig oor hul stem besluit in aanstaande jaar se verkiesing,” sê mnr. Fourie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.