Staatsinmenging kan selfoontariewe verlaag

Deel op

selfoonGoeie nuus vir Suid-Afrikaanse selfoongebruikers is dat die staat besig is met stappe wat daartoe kan lei dat selfoontariewe in die afsienbare toekoms kan daal, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Adv. Alberts het in ‘n geskrewe vraag aan die minister van kommunikasie gevra of sy sal toesien dat hoë selfoontariewe verlaag gaan word.

Die minister het geantwoord dat die department van kommunikasie besig is met ‘n ‘aantal beleidsingrypings’ om toe te sien dat tariewe afgebring word.

Luidens die antwoord werk die department nou saam met die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) wat tans omvattende marknavorsing doen om vas te stel of regulasies wat in 2010 ingestel is, die gewenste uitwerking gehad het.

Okosa het hom onlangs ook sterk uitgespreek teen die hoë kostes en het gesê selfoongebruikers word ‘uitgebuit’.

Die minister se antwoord lui voorts dat ‘n stelsel op die been gebring word waardeur inligting rondom alle diensverskaffers se tariewe gemonitor en ontleed word sodat daar ‘betyds ingegryp kan word’ om probleme in die selfoonmark te behandel.

Navorsing word ook gedoen om ‘ingeligte besluite oor beleidsingrypings’ te kan doen wat mededinging tussen netwerke sal stimuleer by alle vorme van elektroniese kommunikasie om tariewe te verminder.

Daar gaan ook in gesprek getree word met al die diensverskaffers en belanghebbendes in die selfoonbedryf rondom die kostestruktuur van die bedryf, lui die antwoord.

Adv. Alberts sê die nuus is verblydend, maar dat die staat te lank gesloer het om daadwerklik op te tree.

“Die VF Plus is nogtans bly dat die minister daadwerklike stappe neem om selfoontariewe af te bring en ons hoop die studies sal binnekort klaar wees sodat verdere stappe geneem kan word om monopolieë in die bedryf te breek,” sê adv. Alberts.

Suid-Afrika se selfoonkostes is van die hoogste in die wêreld. Uit 140 wêreldlande, betaal verbruikers in net 23 lande meer as in Suid-Afrika om ‘n oproep te maak.  Uit 34 Afrikalande betaal Suid-Afrikaners op drie na die hoogste tariewe.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.