Russiese parlementslid in ‘rassisme’-herrie oor piesangfoto van Obama

Deel op
Irina Rodnina
Irina Rodnina

‘n Pro-Kremlin-parlementslid en vorige Olimpiese goue medaljewenner staar nou ‘n rassisme-herrie in die gesig nadat sy ‘n foto-collage van president Barack Obama op Twitter geplaas het waarin sy hom met ‘n piesang jukstaponeer

Irina Rodnina het ‘n fotokomposisie op Twitter geplaas wat dit laat lyk asof Obama en sy vrou na ‘n hand op die voorgrond staar wat ‘n piesang vashou.

Die beeld herinner aan die piesangs wat deur sommige sokkergeesdriftiges vir swart spelers in die lug gehou word, ‘n kwetsende rassistiese gebruik wat steeds by sommige wedstryde in Rusland gesien word.

Rodnina, 64, is tans ‘n parlementslid vir die regerende party in die Doema, die laer huis van die Russiese parlement, maar het goue medaljes in ysskaats in die 1970s en 1980s gewen.

Die foto wat sy op Twitter geplaas het, het viraal verpsrei nadat Rusland se charismatiese opposisieleier, Alexei Nawalni, dit Vrydagaand oorgeneem het.

Nawalni,  wat self al die wenkbroue laat lig het deur by nasionalistiese byeenkomste te praat, het geskryf dat die parlementslid “‘n grap gemaak het”.

Die joernalis Tikhon Ziadko het op Twitter geantwoord: “Doema-afgevaardigde Irina Rodnina steek nie weg dat sy ‘n rassis is nie.”

“Miskien is dié alledaagse rassisme. Miskien is dit dat sy sleg opgevoed is en ‘n verwronge sin vir humor het,” het die adjunkredakteur van die dagblad Moskofski Komsomolets, Aider Moesjdabajef, op ‘n woernaal geskryf.

“Die belangrikste is dat Rodnina dit gedoen het, en sy is hoegenaamd nie spyt nie.”

Nadat die plasing op Twitter Saterdag ‘n storm van afsku veroorsaak het, het Rodnina die boodskap uitgevee, maar steeds daarop aangedring dat sy niks verkeerds gedoen het nie.

“Spraakvryheid is spraakvryheid! Hanteer self julle ‘hang-ups’,” het sy onbevange op Twitter geskryf en gemeen dat die plasing haar gewildheid laat styg het.

‘n Lid van die laer huis se etiek-komitee, Jan Zelinski, het in kommentaar aan die Russiese Nuusdiens se radio-uitsending saamgestem.

“Sy beskou die president van die Verenigde State as iemand wat van piesangs hou. Wat is verkeerd daarmee?”

Irina Rodnina in haar dae as Olimpiese ysskaatskampioene
Irina Rodnina in haar dae as Olimpiese ysskaatskampioene

Nog ‘n bekende sportvrou, die paalspringster, Jelena Isibajewa, het onlangs internasionale woede veroorsaak deur Sweedse atlete te kritisser omdat hulle gay-regte by die Moskouse wêreldatletiekkampioenskap in Augustus bevorder het.

Sy het in gebroke Engels gesê dat Russe “normale standaardmense” is wat nie van gay-regtebyeenkomste hou nie.

Die Russiese laer huis van die parlement is vol bekende sportpersoonlikhede, waaronder die bokser Nikolai Waloejef, die gimnas Alina Kabjewa en tennisspeler Marat Safin, wat almal die Verenigde Rusland-party van meneer Poetin ondersteun. – AFP

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.