Swart boere in Zim se wittebrood verby

Deel op

Image

Gideon Gono

Robert Mugabe se regering gaan binnekort finansiële hulp onttrek aan swart boere wat ingevolge die land se grondhervormingsbeleid blanke plase oorgeneem het.

Hierdie stap volg op beskuldigings verlede week deur Gideon Gono, goewerneur van die Zimbabwiese reserwebank, dat die grondhervormingsprogram ’n chroniese voedseltekort laat ontstaan het. 

Plase is sedert 2000 lukraak gekonfiskeer en swart boere het nóg die toerusting, nóg die ervaring gehad wat nodig was om die grond suksesvol te bestuur. Die reserwebank het tot dusver baie van hierdie nuwe boere finansieel gehelp. Gono het egter die afgelope naweek bekendgemaak dat hulle binnekort “gespeen” gaan word. “Dit is nou sewe jaar sedert ons ons grond teruggeneem het, maar ons kyk steeds na die regering vir hulp,” het die goewerneur gesê. “Volgende seisoen gaan ons alle A2 (swart) boere speen, want hulle is nou volwasse.” Hy het boere wat groot plase besit verder beskuldig dat hulle hul regeringsubsidies misbruik en in gebreke bly om lenings terug te betaal.

Deel op

Tydens sy toespraak voor ’n parlementêre komitee verlede week het Gono gesê dat dit “’n skande” is dat Zimbabwe ten spyte van grondhervorming steeds voedsel moet invoer.

Die inflasiekoers staan tans op 1 600% (die hoogste ter wêreld). Verlede jaar moes 565 000 ton mielies uit Suid-Afrika en Zambië ingevoer word. Volgens die Verenigde Nasies gaan sowat 15% van die bevolking van voedselhulp afhanklik wees tot die volgende oes in April plaasvind. Intussen het die regering besluit om die uitvoer van beesvleis na die Europese Unie (EU) te stop, aangesien hulle nie aan die nuwe, streng kriteria kan voldoen nie. Vroeër is sowat 9 ton vleis per jaar na EU-lande uitgevoer. Zimbabwe se 1.5 miljoen beeste het die afgelope paar jaar dramaties afgeneem tot slegs 250 000.

Verlede week het lede van die Zimbabwiese intelligensiediens beslag gelê op kassette met die onderhoud wat die staatsradio- en TV-stasie met Mugabe gevoer het tydens sy onlangse verjaarsdagvieringe. Hy het skerp te velde getrek teen sy ambisieuse visepresident Joyce Mujuru en daar word vermoed dat Mugabe die kassette laat konfiskeer het om verdere onenigheid in die regerende party te vermy.

Intussen is Edgar Tekere, veteraanpolitikus en een van die stigterslede van ZANU-PF, uit die party geskop omdat hy Mugabe durf kritiseer het in sy onlangse boek, A Lifetime of Struggle. In die boek beskryf Tekere Mugabe in die beginjare van die stryd as “ besluiteloos, swak en sonder enige militêre ervaring.” Hy verwys ook na sy hooghartige houding en die feit dat hy geen vriende gehad het nie. Volgens Mugabe is A Lifetime of Struggle, wat tans ’n blitsverkoper in Zimbabwe is, die produk “van ’n ongebalanseerde persoon.”

mobile casinoЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.