Zuma se neef verloor miljoene na goudtransaksie skeefloop

Deel op

fakegoldKhulubuse Zuma, die president se gesette neef, het miljoene rande verloor nadat hulle deur ‘n goudswendelaar in Guinee om die bos gelei is.

Zuma en ‘n sakevennoot Sikhumbuzo Shamase, het vroeër vanjaar ‘n privaatstraler gehuur om die “goud” te gaan haal van ‘n stamhoof in dié Wes-Afrikaland.

Die twee sakemanne, het op 16 Februarie by Lanseria-lughawe geland na hul reis, en hoogs in hul skik met hul jongste aankoop vir foto’s geposeer. By die doeane is die houer met die kosbare vrag oopgesny aangesien die twee nie die sleutel gehad het nie.

Die “goud” is na ‘n stoorplek by OR Tambo-lughawe geneem waar ‘n Belgiese koper van Argentor Essayeurs dit ‘n paar dae later sou gaan haal het. Die transaksie was deel van ‘n reeks soortgelykes wat Zuma en sy vennoot voorheen glo met sukses afgehandel het.

Maar op 26 Februarie toe die Belgiese kopers die die “goud” in Antwerpen ondersoek, het hulle vasgestel dat dit koper- en sinkstawe is met ‘n geraamde waarde van R7 000, en die houer teruggestuur.

Zuma en sy vennoot het toe reeds R2,5 miljoen spandeer om die straler te huur, en na Conakry te vlieg.

“Dis ‘n korrupte stelsel waar die weermag saamwerk met tradisionele leiers wat die grond besit. As hulle jou wil bedrieg is dit gewoonlik dié twee [groepe] wat saamwerk,” het Shamase gesê.

Die twee het nooit die saak by die polisie aangegee nie. “Dis donker Afrika. Ons het die hou op die ken gevat, want dis deel van hoe sake gedoen word in Afrika,” Het Shamase aan die Sunday Times gesê.

Die Sentrale Bank in Guinee het die besending as 99% suiwer goud gesertifiseer en hulle het self die besending met ‘n lasergeweer getoets. Dit kom glo van 250 verskillende dorpies in Guinee waar goud op ‘n primitiewe, artisanale wyse gedelf word.

Die delwers neem dan die goud na die stamhoof wat dit verkoop.

Die twee sakevennote is nie baie bekommerd oor die jongste verwikkelinge nie. “Ons het ander manier gekry om die verlies te dek en dit gaan aanhou [om geld in te bring],” het Shamase gesê.

Zuma was een van die direkteure van die Auroramyn wat duisende myners werkloos gelaat het ná likwidasie. Die myn is in chaos gedompel na die infrastruktuur verwaarloos is en goudtransaksies nie verklaar is nie.

Een vreemde aspek van die transaksie is dat die goud nie direk na die koper geneem is nie. “Ons het met vorige transaksies die goed na China, Japan en Dubai geneem, maar dis ‘n probleem om die geld terug te bring. Daar is te veel vrae.”

 

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.