Skaf departement van vroue, kinders, gestremdes af

Deel op
Lulu Xingwana
Lulu Xingwana

Die departement van vroue, kinders en mense met gestremdhede se geldsake en bestuur is haglik en die tyd het nou aangebreek dat dié departement na jare van wanbestuur afgeskaf word, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake.

Dit blyk uit ‘n verslag wat uitgereik is deur mnr. Collins Chabane, minister in die presidensie, oor die swak prestasie en bestuur van feitlik al Suid-Afrika se staatsdepartemente.

Een van die swakstes is weer me. Lulu Xingwana se departement van vroue, kinders en mense met gestremdhede.

Adv. Alberts sê na jare se kritiek oor geldmorsery en doelwitte wat nie bereik word nie, is dit nou duidelik dat die minister en haar departement nie net in hul basiese bestuursfunksies faal nie, maar ook in die lewering van dienste wat die omgewing veiliger vir vroue, kinders en persone met gestremdhede moet maak.

Nasionale tesourie het reeds in April verlede jaar in die parlement gewaarsku oor ‘finansiële wanbestuur’ in Xingwana se department.

Dit het geblyk dat verreweg die grootste deel van haar begroting (hierdie jaar beloop dit R214 miljoen) aan salarisse en reis en verblyfkoste bestee word.

Volgens adv. Alberts is die departement nou ‘n blote mors van geld en sy funksies kan oorgeneem word deur die departemente van maatskaplike ontwikkeling en justisie.

“Die minister en die departement het sedert sy ontstaan nie daarin geslaag om tasbare resultate te lewer waar die regte van vroue, kinders en persone met gestremdhede konkreet bevorder is nie.

“Die minister is ook nie in staat om te skakel met haar mede-ministers in ander departemente om sekere belangrike kwessies te behandel nie. So gaan die epidemie van kinderverkragtings en moorde ongestoord voort.

“Vroue word steeds onderdruk, veral onder tradisionele leierskap, terwyl die minister eerder rassistiese aanvalle op wit Calvinistiese mans doen. Persone met gestremdhede word ook nie genoegsaam aangestel in werksplekke ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming nie.

“Die departement se geld kan eerder aangewend word om belangrike gate in die staat se sak te vul, soos die finansiering van ‘n nuwe SAPD kinder- en vrouebeskermingseenheid, die broodnodige inspuiting in die Transnet-pensioenfondse ten einde die pensioenarisse ‘n beter inkomste te verseker en om die e-tolskuld te betaal,” sê adv. Alberts.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.