Koreaanse inval

Deel op
Die Hyundai i30
Die Hyundai i30

deur André Olivier

Vergeet maar van die Chinese inval wat die motormark aanbetref. Ja, hulle is op pad, maar nog geensins naby genoeg om die bestaande vervaardigers soos Toyota, Nissan, Renault of Volkswagen die skrik op die lyf te jaag nie. Die Koreane is ‘n heel ander saak.

Ons almal onthou nog die lelike goedkoop Koreaanse motors van die laat negentigerjare met name wat niemand kon uitspreek nie. Wel daardie dae is vir ewig verby want Hyundai is vandag al byna net so ‘n huishoudelike naam soos enige van die Europese of Japannese vervaardigers wat al dekades lank motors plaaslik verkoop. Die verskil is net dat Hyundai se motors nie net so goed soos die meer bekende vervaardigers is nie, maar in sommige gevalle beter en baie beslis mooier.

Ons het die voorreg gehad om twee van die nuutste Koreane onder hande te kry.

Die Hyundai i20
Die Hyundai i20

Hyundai i20 1.4 CRDi

Die i20 sit die “i”-benaming voort wat plaaslik deur die i10 begin is. Soos die naam aandui, skuif die i20 een trappie hoër as die i10 op die modelleer in. Enjins begin by ‘n 1.2-liter- viersilindereenheid, met ‘n 1.4-handrat en 1.4 outomaties as die volgende twee keuses op die modelleer. Die vlagskip van die i20-reeks is egter die 1.4 CRDi met ‘n dieselmeuletjie. Dit was dan ook die een waarmee ons vir ‘n paar dae rondgery het.

Die i20 het in wese die ou Hyundai Getz vervang, so die bakgrootte en vorm is aan Getz-eienaars bekend. Hierdie is nie ‘n groot motor nie, maar vyf mense kan gemaklik inpas en daar is net-net genoeg begasieruim vir die klompie. Die doel van die i20 is egter eerder om ‘n stadsmotortjie te wees wat elke dag se pendel gemaklik en vol selfvertroue met ‘n baie goeie brandstofverbruik en gerief aan te pak.

Die instrumentpaneel van die i20
Die instrumentpaneel van die i20

Ons was baie verbaas oor die gerief wat die i20 bied. Daar is byna elke opsie wat enige moderne gesin sou nodig hê. Donker veloerafwerking binne die kajuit met goeie gehalte plastiekomhulsels vir die instrumentepaneel, elektriese ruite, lugversorging, ‘n baie goeie klankstelsel wat oor MP3-kapasiteit beskik en ook bluetooth kan hanteer, is standaard. Al die nodige veiligheidstelses soos ABS-remme met EBD en lugsakke vir beide bestuurder en passasier is standaardtoerusting.

Die verkoelde paneelkissie in die i20
Die verkoelde paneelkissie in die i20

Luukshede soos ‘n paneelkissie wat verkoel is deur middel van die lugversorging sal koeldrank op die lang pad mooi koud hou. Die i20 is baie meer as wat die Getz van ouds was en selfs in die ry-ervaring het dit vir ons gevoel of daar meer ‘n generasiegaping tussen die twee motors is as ‘n blote opgradering. Wat die verrigting betref, is die i20 baie lewendig vir ‘n klein dieselmotortjie. Die enjin lewer 66 Kw en 220 Nm se wringkrag wat tussen 1500 en 2700 omwentelinge per minuut beskikbaar is. Die 6-spoedhandratkas is seepglad en baie sekuur, maar omdat dié ‘n stadsmotortjie is, sou ons die i20 met ‘n outomatiese ratkas wou sien. Dit maak net soveel meer sin, veral omdat daar byna elke dag iewers in die swaar verkeer van ‘n stad gery gaan word. Sou ‘n mens dan nog die gepaste “stop/aansit”-stelsel byvoeg sou hierdie i20 sekerlik een van die heel beste stadsmotortjies gewees het.

Brandstofverbruik is ‘n skrale 5,0 liter/100 km en Hyundai gee die CO2-uitlaatgassesyfer aan as 110g/km wat beteken dat die i20 nog ‘n baie skoon dieselmotortjie ook is. Elke Hyundai word verkoop met ‘n 3-jaar/60 000-diensplan, ‘n 5 jaar/150 000km-padbystandsdiens en ‘n 5 jaar/150 000 km-vervaardigerswaarborg. Teen R199 900 dink ons die i20 1,4 CRDi Glide bied uitstekende waarde vir geld.

Ons gee die Hyundai 4 uit 5.

Die Hyundai i30 van agter
Die Hyundai i30 van agter

Hyundai i30 1.6 Premium AT

Die nuwe i30 is eintlik ‘n Elantra met ‘n vyfde deur. Alhoewel die naam Elantra so ‘n sterk identiteit het, beweeg Hyundai nou met die nuwe i30 meer op die gebied van die Golf 7. Die nuwe i30 het ‘n onmiskenbare Europese ontwerp. Geïnspireer deur die vloei en die vorm van die natuur, kan ‘n mens duidelik sien dat die Koreane baie ernstig is oor waarheen hulle met die nuwe mortors wil gaan. Die oorspronklike i30 was ‘n belangrike motor vir Hyundai. Die i30 skuif bo die Accent, maar onder die Elantra in op die plaaslike modelreeks. Die indrukwekkende nuwe i30 neem nog ‘n groot stap vorentoe, in so ‘n mate dat dit nou ‘n ernstige alternatief vir die Ford Focus en selfs die Volkswagen Golf is.

Die stilering eggo die groter Elantra met ‘n byna identiese voorkant insluitend ‘n kenmerkende strook LED-dagryligte. Daarbenewens is dit ‘n baie netjies ontwerpte luikrug wat veel meer opvallend is as enige iets wat Hyundai tot dusver plaaslik bekendgestel het. Van groot belang is dat die nuwe i30 ‘n baie meer gehaltevoorkoms het. Dit is beslis wêrelde verwyder van die “waarde”-beeld waarmee Hyundai gewoonlik geassosieer word.

Die binneruim van die i30
Die binneruim van die i30

Natuurlik, is alle Hyundais beskikbaar met die vyf-jaar-150 000km-waarborg as standaard. Hyundai het daarin geslaag om met die vervaardiging van ‘n uitstekende veelsydige i30 ‘n uiters bekwame en ruim motor daar te stel wat boonop ‘n genot is om te bestuur. Gehalte en verfyndheid is in oormaat teenwoordig. Hyundai-produkte het bewys dat die Koreane baie betroubare motors kan bou en dan is die goed nog vrek mooi ook. Daar is baie klem op veral vir die bestuurder geplaas, terwyl die sitplekke uiters gemaklik en ondersteunend op al die regte plekke is. Sesvoetmanne soos ek sal genoeg kopruimte en meer as redelike beenruimte in die binneruim vind. Voeg daarby ‘n groot 378-liter-laairuimte – dit is 60 liter meer as ‘n Fokus en 25 liter meer as ‘n Toyota Auris – en jy het ‘n praktiese pakket met styl.

Die i30 se bagasieruim
Die i30 se bagasieruim

Hoe ry die i30? Wel, na my mening uiters gemaklik. Jy gaan nie die wêreld aan die brand kan ry nie, maar dit is ongelooflik gemaklik, verfynd en moeiteloos. Hantering en baie akkurate stuur, asook goeie padhouvermoë laat die i30 soos ‘n veel groter motor op die oop pad voel.

Beenruimte in die i30
Beenruimte in die i30

Interessant is dat al die modelle met Hyundai se nuwe Flex-stuurstelsel toegerus is wat drie modusse – “Comfort, Normal en Sport” – daarstel. Daar is ‘n knoppie op die stuurwiel wat verskillende vlakke van die kraghulp en terugvoer van die stuur verander. Jy sien die verskil, veral in Sport waar die stuur swaarder en meer ontvanklik vir bestuurdersinsette is. Maar die Normal-modus is meer as voldoende sodat die meeste mense die ander verstellings selde sal gebruik. Ons toetsmotor is toegerus met ‘n petroleenheid met ‘n 1,6 – literverplasing wat 95Kw met 157Nm se wringkrag ontwikkel. Daar is ook ‘n 6-spoed- outomatiese ratkas.

Ekonomie is nog ‘n sterk punt en iets waaraan Hyundai baie hard gewerk het . Ons toetsmotor het ‘n syfer van 6.8l/100km in die gekombineerde siklus aangeteken. Onthou die motor is redelik groot, outomaties en slegs ‘n 1,6 liter, dus is dit indrukwekkend. Wat die prys betref, was Hyundai nog altyd baie goeie waarde vir geld. Vegelyk ‘n mens die i30 met sy direkte mededingers, kan ‘n mens steeds dieselfde sê. Maar teen R260 000 dink ons dat Hyundai besig is om in te boet aan sy waarde-vir-geld-reputasie.

Ons gee die i30 4 uit 5.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.