Klopjag op Mandela-fonds in die kiem gesmoor

Deel op
Geldtwis gaan waarskynlik verhewig
Geldtwis gaan waarskynlik verhewig

Senior polisiebeamptes het ‘n beplande klopjag op liefdadigheidsorganisasies wat met oudpres. Nelson Mandela verbind word, in die kiem gesmoor, berig die Mail & Guardian.

Hoëvlak-polisiebeamptes was glo bekommerd dat die klopjag op die Nelson Mandela-stigting, die –kinderfonds, en die –trust, verleentheid sal veroorsaak.

‘n Brief van die Valke is daarna onder meer na Mandela se familielede gestuur om finansiële state te eis.

Oupa Ngwenya, woordvoerder van Sibongile Mkhabela, uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-kinderfonds, het bevestig dat hulle ‘n brief ontvang het.

“Die rekening wat die Nelson Mandela-kinderfonds by Nedbank het, is openbare kennis en is verreken in die finansiële state vir die jaar wat op 31 Maart 2013 geëindig het en is ingesluit in die jaarverslag.”

Ngwenya en Danielle Melville, woordvoerder vir die stigting se uitvoerende hoof, het gesê die briewe is na Mandela se prokureur, Bally Chuene, gestuur.

Die briewe hou glo verband met aanklagte van bedrog, vervalsing en uitgifte wat teen Mandela se voormalige prokureur, Ismail Ayob, aanhangig gemaak is.

Mandela se dogters, Makaziwe en  Zenani Mandela-Dlamini, het ‘n aansoek voor die hof gebring om George Bizos, Tokyo Sexwale en Chuene as direkteure van Harmonieux Investment Holdings en Magnifique Investment Holdings te verwyder. Die saak is in Julie van die rol geskrap.

Die voormalige staatshoof sterk aan by die huis nadat hy vir ‘n longinfeksie in die Harthospitaal in Pretoria behandel is. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.