Die parlement het ‘n spertyd van ses weke gestel vir die hersiening van die wetsontwerp oor die beskerming van staatsinligting.
“Die ad hoc komitee moet teen 31 Oktober verslag doen aan die Nasionale Vergadering,” lui ‘n parlementêre verklaring.
‘n Kommitee van 12 lede sal nou voorleggings aanvra en verhore hou.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum het pres. Jacob Zuma se besluit verwelkom om die wetsontwerp oor die beskerming van staatsinligting terug te verwys na die parlement.
Die forum sê hy stem saam met die president dat afdelings 42 en 45 van die ontwerp irrasioneel en ongrondwetlik is.
Die Vryheidsfront Plus sê ‘n groot oorwinning is behaal deurdat pres. Jacob Zuma die gewraakte sogenaamde ‘muilbandwet’ teruggestuur het na die parlement weens die ongrondwetlikheid daarvan.
Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Justisie, sê die VF Plus het die ANC by verskeie geleenthede gewaarsku dat die wetsontwerp ongrondwetlik is en dat dit geen toets in die Grondwethof sou deurstaan nie.
Hy sê dit is veral die gebrek aan ‘n baie sterk openbare belang-verweer in die beoogde wet wat die VF Plus bekommerd gemaak het.
Sonder dié verweer sou persone wat geklassifiseerde inligting besit, aan ‘n misdryf skuldig wees en sou hulle na die hof moes gaan om te bevind of die inligting se bekendmaking in openbare belang is. Verskeie ander partye asook die burgerlike samelewing het ook hierdie siening gehuldig.
Die VF Plus het tesame met die IVP in Agustus 2012 die goedkeuring van die wet strategies vertraag deur 123 wysigings aan te beveel ten einde die wet te verbeter.
Die wysigings is ook strategies voorgestel ‘n dag voordat die wet in die nasionale vergadering sou dien sodat dit volgens parlementêre reëls weer terugverwys moes word na die betrokke ad hoc-komitee vir behandeling
Desnieteenstaande hierdie poging het die ANC steeds later die wetsontwerp deurgestoomroller deur onder meer hul eie LP’s te dreig indien hulle nie vir die wet sou stem nie.
Die onbedoelde gevolg van die ANC se optrede is dat dit die opposisie saamgesnoer het tot ‘n geskiedkundige front teen die ANC wat die platform gelê het vir toekomstige samewerking en koalisievorming vir die 1014-verkiesing.
Die versekerings wat die voorsitter van die ad hock-komitee , mnr, Cecil Burgess, gegee het dat die wetsontwerp wel grondwetlik is , is met die terugverwysing deur die president as heeltemal onwaar bewys.
Die VF Plus sal voortgaan om saam met die opposisie te stry om te verseker dat die wet waarborge sal bied wat die burgers van Suid-Afrika deur ‘n verweer van openbare belang sal beskerm teen vervolging wanneer korrupsie openbaar gemaak word. – Sapa/praag