Ghana se Messias

Deel op

Image

Kwame Nkrumah en Martin Luther King

Op 6 Maart sal Ghana sy 50-jarige onafhanklikheid van Brittanje vier. President Thabo Mbeki het verlede Vrydag in ANC Today die land lof toegeswaai.

Volgens Mbeki het Ghana in 1961 ’n sleutelrol gespeel in Suid-Afrika se besluit om aan die Britse Gemenebes te onttrek. Volgens hom het die destydse Nasionale Party Ghana as “’n primitiewe staat” beskou en wou hulle nie in dieselfde juk as dié land trek nie. Ghana was in 1957 die eerste Afrikaland suid van die Sahara wat onafhanklikheid van ’n koloniale heerser verkry het. Die destydse president, Kwame Nkrumah, het die volgende gevleuelde woorde op onafhanklikheidsdag geuiter: "Today, from now on, there is a new African in the world. At long last the battle has ended. Ghana, our beloved country, is free forever."
Deel op

Mbeki het in sy bydrae tot ANC Today Kwame Nkrumah as “messiaans” bestempel. Volgens hom was Ghana ’n belangrike simbool vir die ANC en hul bevrydingstryd in Suid-Afrika. “Ons (die bevrydingsbewegings) het die leuse “Forward ever, backward never” van Nkrumah se Convention People’s Party oorgeneem.”

“Ons beweging en die mense van Suid-Afrika stuur opregte wense aan die sustersvolk van Ghana met die historiese herdenking van hulle 50-jarige onafhanklikheid,” het Mbeki verder gesê.

Ghana het tans ’n bevolking van 22 miljoen mense. Sowat 78% van inwoners kom klaar met minder as 2$ per dag. In 1957, met onafhanklikheid, was daar maar vyf miljoen mense. Die Bruto Binnelandse Produk (BBP) het destyds 2.5 miljard dollar beloop en amper 100% van die grond in Ghana kon vir landboudoeleindes bewerk word. Vele ander Afrikalande het dus na Ghana opgesien as ’n model vir hul eie onafhanklikheid. Politieke onstabiliteit, ekonomiese agteruitgang, oorhaastige grondhervorming en swak grondbestuur het egter daartoe gelei dat duisende Ghanese die afgelope 30 jaar hulle land verlaat het. Ná 50 jaar moet amper alle lewensmiddele steeds ingevoer word. Ghana maak verder op die uitvoer van enkele grondstowwe en ontwikkelingshulp staat om te oorleef. Bykans 80% van die land se uitgawes op landbou, gesondheid en onderwys is van die buiteland afkomstig. In die sestigerjare het Ghana en Suid-Korea beide ’n per  capita-inkomste van 250 dollar gehad. Vandag kom Suid-Korea se syfer op 5 000 dollar te staan, teenoor Ghana se skamele 600 dollar.

Die vraag kan waarskynlik gevra word of daar enigiets is om te vier. Tog het die Ghanese regering ’n luisterryke program van feesvieringe aangelê. “Championing African Excellence,” lui die tema van die jaar se verrigtinge op die regering se webwerf. ’n Bal om mej Ghana aan te wys, ’n seminaar oor “Ghana se rol in die redding van Afrika,” strandpartytjies, vuurwerkvertonings, musiekkonserte, uitstallings en funksies waar die land se helde vereer gaan word, word onder andere tussen nou en Desember beplan.

Dit is duidelik dat die simboliek van Ghana se onafhanklikheid mitiese dimensies aangeneem het. “Die onafhanklikheid van Ghana is betekenisloos tensy dit met die totale bevryding van die Afrika-vasteland verbind word,” aldus Nkrumah, op die vooraand van onafhanklikheid in 1957. Mbeki se hartroerende gelukwensinge moet dus in hierdie lig gesien word.

civilization 2topcargo кидалы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.