SA se huidige kiesstelsel die beste

Deel op
Mulder en Joemat-Pettersson
Mulder en Joemat-Pettersson

Die huidige proporsionele kiesstelsel is die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika het Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunk-minister van landbou, bosbou en visserye verklaar. Omdat dit die beste kiesstelsel vir Suid-Afrika is, behoort dit behou te word en nie verander te word nie. Dit is die bevinding van ’n navorsingstudie oor kiesstelsels wat vir ’n doktorsgraad aan die Noordwes Universiteit gedoen is.

Die Vryheidsfront Plus se parlementêre leier, Pieter Groenewald, het hierdie week sy doktorsgraad in Politieke Studies by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit ontvang met hierdie studie. Die titel van sy proefskrif is: “Die Suid-Afrikaanse nasionale kiesstelsel – ’n kritiese ontleding en alternatiewe.” Die studie is gedoen onder leiding van prof. Andre Duvenage van die Noordwes-universiteit.

Die doel van sy studie was om te bepaal of die bestaande geslotelys- proporsionele verteenwoordigende kiesstelsel die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika is. In sy studie het dr. Groenewald twaalf verskillende kiesstelsels se voor- en nadele ontleed. Dit is gedoen aan die hand van ’n evalueringsmodel wat hy ontwikkel het. Die evalueringsmodel bestaan uit verskillende kriteria waarteen elk van die twaalf kiesstelsels gemeet is. Sy bevinding was dat die huidige geslotelys- proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel, die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika is, en ook behou moet word.

Die kritiek teen die huidige kiesstelsel is dat dit te veel mag aan party strukture gee en nie die verantwoording van verteenwoordigers verseker nie. Dr. Groenewald het bevind dat kiesstelsels nie die mate van verantwoording van verteenwoordigers verseker nie. Dit word verseker deur die interne reëls en dissipline van die verteenwoordigers se politieke partye. Dit is ook nie kiesstelsels wat kandidate in ʼn verkiesing aanwys nie, maar die onderskeie politieke partye. In enige aanwysing van kandidate sal die leierskap en partyburokrasie ʼn bepaalde rol speel, ongeag die tipe kiesstelsel.

Die VF Plus se verteenwoordigers in die parlement is tans die hoogs gekwalifiseerde span in die parlement met drie doktorsgrade en ’n advokaat in hulle midde.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.