Ope brief aan Rachelle Greeff

Deel op

Ek wonder of jy dink dat almal in die land lus is om die polities korrekte goed wat in die Sarie of Rooi Rose uitgebasuin word te lees en selfs te glo.

Deel op

Ek weet dat jy by een van die twee tydskrifte gewerk het of vir hulle geskryf het, maar nou wonder ek, glo jy al die politieke onsin wat jy en jou medewerkers deur die tydskrifte in die volk se kele probeer afdruk?

Net soos ganse wat gedwonge gevoed word om hulle lewers te laat vergroot vir die tafels van die rykes.

As jy werklik dink dat die mense al die snert glo wat vir die volk deur die gekaapte media gedruk word, dink ek dat jy weer moet gaan sit en die grys massa bietjie deurmekaar krap met ‘n werkspoging.

Nie almal glo dat die land verbeter het nie, en as jy dit glo is jy net so blind as die mense wat in die regering sit, of dalk sien jy dinge net in dieselfde lig as die onbeholpe mense wat die land in ‘n poging om te regeer in die grond in vertrap.

Dalk weet jy iets wat ek nie weet nie en dat jy intelligent is gaan ek nie betwyfel  nie, maar waarom moet dinge in die land altyd gebeur soos wat die polities korrektes dit wil hê ?

Ek glo nie dis nodig nie, en ek glo verder dat die land meer as reg is om so ‘n boek te ontvang, een wat dinge vertel soos wat dit is, nie in versiersuiker toegedraai om die gifsmaak van die amandels weg te steek nie.

Baie van dit wat deesdae in die polities korrekte publikasies verskyn, is goed wat nie voor 1994 toegelaat sou word nie, omrede die mense van daardie tyd nog geglo het in waardes, dinge wat reg en behoorlik is.

Die onheilighede wat deesdae daar verkwansel word vir waarhede is loutere snert, al die sogenaamde alternatiewe geneesmetodes, meditasie, ander gelowe wat opgehemel word vir die wonderlike openbarings wat dit teweegbring, dis goed wat nie daar sou wees in die verlede nie, vanweë die volk se afkeer van sulke twak.

Die artikel wat handel oor ‘n aktrise wat skielik op ouderdom 33 ‘n baba wil hê, omdat haar skuimborrelende biologiese klok kwansuis begin uitloop, watter soort voorbeeld is dit vir die jongmense wat die dame aanhang, soos versierings aan ‘n kersboom? Die feit dat sy geswot het in teologie en steeds ongetroud is, maak dit soveel meer van ‘n sieklike gedagte wat deur julle opgehemel word. Iets wat verder uiters ontstellend is, is die feit dat die betrokke jong dame haar “motivering” put uit die brutaliteit en hoop in die land.  Volgens haar laat die kontrasterende fasette van die lewe haar “tiek”.

Dis sulke dinge wat die volk moeg voor raak, en dan vra jy of die beoogde bundel van dr. Roodt enigsins ontvang sal word. Ons is hartlik dik en keelvol vir sulke dinge.  

En om  nie eers van die advertensies te praat nie, die moet-hê-items vir die komende seisoen se drag, klere wat meer kos per item as wat baie blankes kan betaal, inteendeel, meer as wat baie gesinne in ‘n maand verdien, en jy dink dit is reg en billik? Ja, miskien kan jy ‘n R3500.00 se handsak bekostig met ‘n R 1999.00 se sonbril en nog ander derglike items, maar waar gaan dit stop ? Die dag as julle die geweld aan eie bas voel gaan die hele wêreld natuurlik julle geweeklaag moet aanhoor en verskriklik simpatiek wees met julle, haai, die arme vrou wat so verskriklik beroof is, ensovoorts, maar julle dink nie daaraan dat julle eie aksies van julle die teikens maak nie. Dan is dit monsteragtig soos die mense skielik te werk gaan, barbaars, soos professor Brink nou die dag gesê het.

Ja, nou kan jy die stelling maak dat mense dan maar selfsensorskap moet toepas en nie julle publikasies lees nie, maar die feit is dat dit op die rak is, en die mens is soos jy weet ‘n nuuskierige wese, en die tipe publikasies waarvan jy deel was en of is, sal natuurlik opgetel en gelees word. Dis onvermydelik. Dit sal gebeur en dis waarop die gekaapte media nou staatmaak, nuuskierigheid.

Dit is dit waarop hulle reken om die volk wat reeds redelik moeg is vir die land en sy probleme iets anders te bied, die antwoord wat al hulle probleme sal oplos.

Dat die mense reg is vir ‘n antwoord is nie te betwyfel nie, maar nou wonder ek net, geagte Rachelle, het jy nie self al bietjie moeg en keelvol geraak vir die huidige situasie waarin net die een kant gestel word, altyd so korrek, in nuwe terme vir ‘n nuwe land, sonder dat die ander kant ook sy beurt kry om sy storie te vertel nie?

Kry jy nie soms die hunkering om iets anders as die lewens van Mandela, Mbeki en Robert Mugabe te bestudeer in glanspapierhardebandboeke nie? Die lus om net iets te lees, sonder om te dink aan die politieke sy en gevolge daarvan nie. Dit is die een groot rede dat ek weier om die boeke oor die lewens van die “helde van die apartheidstryd” te koop of onder my dak toe te laat. Want buiten die ophemeling van die mense moet ek dan ook nog goeie geld betaal, wat beteken dat ek hulle reeds welbefondsde partypolitiek verder aanhelp, terwyl ek nie daarmee saamstem nie.

Nie almal van ons is kenners wat aanhalings maak uit toesprake van Nobelpryswenners nie en dit hoef ook nie so te wees nie.   

Vir baie van ons gaan dit om oorlewing, en nie om luukses nie, want die lewe bestaan nie net uit lekker nie, maar ook uit die seer, die suur en die bitter, iets wat ek soms wonder hoeveel jy dalk van geproe het, want as ek kyk na wat julle in die gekaapte media uitbasuin, lyk dit of julle nie weet dat die land in helse moeilikheid is nie, en vir julle bestaan die woord swaarkry net nie. Is dit die rede dat jy so krities is oor die beoogde bundel kortverhale ? Dalk bang dat die volk gaan agterkom wat eintlik aan die gang is en julle onder die agterent gaan skop om wakker te word, en te staak met die blatante leuens wat julle vir waarheid verkoop.  Ek wou maar net vra, en jammer as ek verkeerd was omtrent jou, dis niks persoonliks nie.

пальто детское для девочекФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.