Ondersoek beweerde SEB-gekonkel by Goldfields vra VF+

Deel op

southdeepBewerings van korrupsie by die goudmynmaatskappy Goldfields rondom Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) moet oopgevlek word en die Vryheidsfront Plus gaan die Valke versoek om die bewerings te ondersoek en skuldiges voor die hof te bring, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Luidens onlangse mediaberigte het Goldfields se direksie besluit om nie die aanbevelings van ’n onafhanklike ondersoek na ‘n bemagtigingstransaksie in 2010 verder te voer nie.

Die bevindings van ‘n onafhanklike ondersoek van ’n Amerikaanse firma, Paul Weiss, gaan ook nie in ’n amptelike verslag van die maatskappy opgeteken word nie.

Dr. Mamphela Ramphele, voormalige voorsitter van Goldfields, het vroeër vanjaar gesê die regering het ’n lys van voorgestelde kandidate vir dié bemagtigingsaksie in Goldfields se ‘kele afgedruk’.

Adv. Alberts sê dit onderstreep net weer dat SEB niks anders is nie as ‘ideologiese snert’ wat toegang tot die regering se geldtrog verseker en net dieselfde magtige en bemagtigde mense oor en oor en op korruptiewe wyse verryk onder die dekmantel van ‘bemagtiging’.

“SEB is bloot ‘n rookskerm om die staatskas te plunder en die VF Plus gaan die Valke versoek om ondersoek instel na die transaksie. Indien daar korrupsie was, moet die betrokkenes vervolg word,” sê adv. Alberts.

Die lys van voorgestelde kandidate wat die regering glo aan Goldfields voorgelê het vir die bemagtiging, het gekom toe Goldfields die mynregte bekom het vir South Deep, die groep se mees winsgewende Suid-Afrikaanse mynboubate.

Luidens berigte het dit meer as 70 bevoordeeldes ingesluit, van pres. Jacob Zuma se prokureur tot Baleka Mbete, ANC-voorsitter, asook Zindzi Mandela en ’n dogter van ’n voormalige ANC-lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale. Die waarde van die SEB-transaksie was sowat R2,1 miljard.

“Wat hier gebeur wys ook opnuut waarom Suid-Afrika nie begerig is om die Europese Unie se lidlande as handelsvennote te omarm nie. Sonder ‘n wakende oog kan die geplunder in die naam van bemagtiging na hartelus plaasvind en onder die mat ingevee word.

“In hierdie geval sal die VF Plus sorg dat dit nie gebeur nie en sal toesien dat die bewerings ondersoek word,” sê adv. Alberts.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.