Afrikaners en Afrikaans: positief en negatief

ImageDie ongeëwenaarde emigrasie tesame met ’n lae geboortekoers raak reeds ’n ramp vir Afrikaners en Afrikaans, het ek die vorige keer betoog.

In hierdie stukkie noem ek ’n paar ander negatiewe faktore wat ons posisie beïnvloed, maar daar is gelukkig darem ook enkele positiewe dinge.

’n Negatiewe proses wat ook ander tale raak, is globalisering. Oor die hele wêreld is daar ’n verengelsing van hoëvlak-taalgebruik. Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer noem in ’n Vaste plek vir Afrikaans talle dinge soos die uitbreiding van die internasionale handel, die georganiseerde godsdiens, Amerikaanse leierskap in verskeie soorte tegnologie, Engels as voertaal van internasionale organisasies, in die meeste wetenskaplike publikasies en interaksie.

Sommige kenners meen dat daar 'n wêreldwye Engelse taalimperialisme bestaan wat Engelssprekende mags- en kapitaalbelange bevorder — subtiel maar baie effektief.

Brittanje het voorstelle van die Europese Unie geveto dat kinders in die Europese lande twee vreemde tale op skool leer. Dié voorstel was 'n wanhopige poging om te verhinder dat Engels die dominante tweede taal in Europa word.

Met ’n eg imperialistiese arrogansie het die toonaangewende Britse koerant The Guardian Engels as enigste onderhandelingstaal van die EU gepropageer onder die opskrif: “Just stick to English!”

Naas emigrasie is transformasie die vernaamste proses wat Afrikaans en Afrikaners benadeel het en nog benadeel. Feitlik alles wat gebeur, het taalgevolge, so ook regstellende aksie. Transformasie en integrasie lei tot die uitskakeling van Afrikaans behalwe in werkplekke en situasies waar almal Afrikaans verstaan of waar voorsiening gemaak word vir tolk- en vertaaldienste.

Oor die algemeen word Afrikaans al hoe minder as werktaal gebruik by staatsinstellings en groot ondernemings. Instansies soos Transnet, Eskom, die Weermag en polisie was vroeër Afrikaans. Selfs histories Afrikaanse ondernemings het oorgeskakel na Engels. Baie soorte opleiding geskied in Engels alleen, soos in die Weermag en die polisie.

Afrikaans is afgeskaal op televisie terwyl Afrikaanse skole telkens gedwing word om hul voertaalbeleid te verander..

Die FW de Klerk-stigting verklaar dat Engels die de facto enigste amptelike taal van Suid-Afrika geword het.

Ondanks die skade wat Afrikaans die afgelope anderhalf dekade gely het, is daar darem nog positiewe verskynsels.

Die eerste is dat Afrikaans nog die voertaal is in talle openbare skole. Hulle bied onderrig van goeie gehalte, soos die matriekuitslae elke jaar bewys.

Hoewel universiteite deur die eis van toeganklikheid gedwing word om alles in Engels aan te bied, het sommige histories Afrikaanse universiteite tog Afrikaans behou.

By die Universiteit van die Vrystaat is parallelmedium-onderrig ingestel, al is dit al lank onder druk omdat dit in die pad van rasse-integrasie sou staan en ’n baie swaar las op dosente plaas.

Die Universiteit van Pretoria is amptelik tweetalig, met  parallelle klasse vir die meeste voorgraadse kursusse, maar party dosente wil nie dupliseer nie, en verengelsing is die gevolg.

Dit is nog onduidelik wat die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch gaan behels, en hoe dit toegepas gaan word. Anekdotiese getuienis dui op ‘n verswakkiung van die posisie van Afrikaans in sommige vakke, maar nie in almal nie.

Die Universiteit van Noordwes handhaaf Afrikaans veral op sy Potchefstroom-kampus deur middel van tolking uit Afrikaans. Daarteen kan die politieke maghebbers ook moeilik ideologiese besware inbring. (Hoewel: aan die Universiteit van die Vrystaat het die minister van onderwys op ’n vergadering met studente die tolke weggejaag en gelas dat die verrigtinge in Engels plaasvind.)

Voorgraadse opleiding in alle vakke is dus moontlik in Potchefstroom en Bloemfontein, en in heelparty vakke in Pretoria, Stellenbosch en Johannesburg. Unisa gebruik Afrikaans in baie kursusse.

Wat in die tweede plek positief is, is dat Afrikaans nog in talle werkplekke gebruik word, al is dit in soveel departemente en ondernemings afgeskaf. Om een voorbeeld te gee: by die tak van die bank waarby ek in Bloemfontein is, is al die kassiere, wit, bruin en swart, in staat om mense in Afrikaans te help – hulle sou nie aangestel gewees het sonder daardie kennis van Afrikaans nie. Afrikaans het dus op daardie vlak ’n sekere loopbaanwaarde.

’n Vriend van my in Johannesburg kon egter by ’n tak van dieselfde histories Afrikaanse bank nie deur ’n enkele persoon of die bestuurder in Afrikaans gehelp word nie. Ons wat kliënte is, bewys Afrikaans en Afrikaanssprekendes ’n diens wanneer ons voortgaan om Afrikaans by sulke instellings te gebruik en daarop aan te dring. Mense in talle beroepe – dokters, predikante, onderwysers, prokureurs, agente van allerlei aard ensovoorts – baat daarby as hulle Afrikaans kan praat.

’n Hele aantal mense kry werk in die mediawêreld. Vir my lê die belang van die televisiekanaal kykNET onder meer daarin dat dit werk verskaf aan ’n groot aantal Afrikaanssprekendes uitvoerende kunstenaars en ander mense in daardie bedryf, soos draaiboekskrywers en regisseurs..

Ten derde het Afrikaans groot kulturele waarde. Baie boeke, en ’n groot verskeidenheid daarvan, word in Afrikaans uitgegee. Afrikaanstaliges is volgens opnames die groep wat die meeste boeke in die land koop, en dis verbasend dat Penguin nou boeke in Afrikaans uitgee. Afrikaans het drie dagblaaie en twee Sondagblaaie. Talle kleiner koerante is Afrikaans of deels Afrikaans.

Daar is algemene tydskrifte en gespesialiseerdes, soos Lééf  ('n damestydskrif gemik op geestelike verdieping); die reistydskrifte Weg! en Wegbreek, Wegry en Wegsleep; Boeke-insig, die leefstyltydskrifte Idees en Tuiste, asook Visi vir ontwerp en argitektuur.

Afrikaans word oor RSG en kleiner stasies gehoor. Daar is kunstefeeste. Afrikaanse musiek beleef ’n bloeitydperk.

PRAAG het van vroeg in Mei af as internet-koerant sy verskyning gemaak. Ook LitNet, hoofsaaklik Afrikaans, ontvang daagliks talle besoeke en sy briewerubriek is die lewendigste in die land.

’n Nuwe ontwikkeling is dat samewerking met bruin Afrikaanstaliges binnekort ’n groter moontlikheid sal word. Die Nasionale Forum vir Afrikaans met prof. Wannie Carstens van Potchefstroom as voorsitter het voorbrand gemaak vir die totstandkoming van die Afrikaanse Taalbelangeraad binnekort. Dis ’n koördinerende liggaam wat die mag sal hê om namens die Afrikaanse taalgemeenskap met die maghebbers te praat. Dit is hierdie stap wat groter samewerking tussen wit en bruin Afrikaanstaliges moontlik.

Positief is ten vyfde die groei van ’n aktief pro-Afrikaanse gesindheid en die toename van taalaksies. Dit volg op ’n baie negatiewe verskynsel ná 1994. Dit was die gelatenheid, byna onverskilligheid, waarmee Afrikaanstaliges diskriminerende optredes teen hulleself en teen Afrikaans aanvaar het as iets wat so hoort. Maar dit lyk of daar ’n ander stemming by Afrikaners posvat.

’n Teken daarvan is die wyse waarop die “De la Rey”-liedjie die land stormenderhand verower het. Die mens, veral ’n skrywer, is volgens Etienne Leroux, altyd op soek na ’n lewende mite. Leroux meen dat ’n volk tot “fantastiese dade” kan oorgaan as dit deur ’n “lewende mite” aangespoor word, maar dat, sonder ’n mite, ’n volk “alle belang in die lewe verloor en verdwyn”. Met die De la Rey-liedjie het Sean Else, Johan Vorster en die sanger Bok van Blerk ’n inspirerende mite (wat iets anders is as ’n “versinsel”) geskep.

Prof. Piet Strauss, leier van die Voortrekkers, het in ’n lesing gewys op “verrassende” bevindings in meningsopnames onder Afrikaanse jong mense (nie net Voortrekkers nie). Dit is hul “openlike identifisering” met die Afrikaner. Daar is “’n nuwe golf Afrikanergeesdrif”. Ook: “Afrikanerwees is weer ‘in’. Dit is by baie jong Afrikaners nie ’n debatspunt nie, maar ’n gegewe.”

Met die grootste gemak verklaar mense deesdae dat hulle Afrikaners is, van Ryk Neethling tot die dramaturg Deon Opperman tot die mense van die AB en Solidariteit en Orania en nog baie meer.

Daar kom ’n “maar” by. Dit lyk of daar onder party ’n mate van vreesagtigheid vir hierdie stemming bestaan. Twee voorbeelde.

’n Europese vriend het verlede jaar vir my geskryf oor ’n Geloftedagviering in Londen wat hy bygewoon het. Hy sê: “Die jongmense kon ek aanvoel was reg vir 'n Afrikaner 'light' bemoediging of geskiedenisblik. In plaas daarvan was daar 'n preek oor Antjie Krog se 'Country of my skull'; die opweeg van die Trekkers teen die ongeregtigheid van apartheid, sonder dieselfde verwysing na die nuwe ongeregtighede. Dit was die tegniek van aan die een kant dit, aan die ander kant dat – een kant lig Afrikaner, en aan die ander kant swaar skuldgevoel, sogenaamd gebalanseerde voetwerk, waarmee die ou establishment so goed was. En waarmee hulle tot by oorgawe geskuifel het. Die jongmense in die gehoor het telkens op daardie punt gereageer asof hulle liggies geklap word.

“So kan ons nie aan jong mense en leiers ’n lewenskragtige opvoeding gee om die uitdagings van Afrika te hanteer nie – nie met so ’n weergawe van godsdiens nie. Dis een van die redes waarom ons in die buiteland sit.”

Oor ’n tweede voorbeeld het Rapport ’n berig geplaas. AfriForum en die ATKV Centurion Jeugforum het onlangs standpunt teen die voorgenome eed vir skoolkinders ingeneem en versoekskrifte aan die nasionale onderwysdepartement oorhandig. Hulle beswaar was teen die verwysing na onregte van die verlede waarmee die eed begin.

’n Paar uur daarna het die hoofkantoor van die ATKV hom van die jongeres se standpunt gedistansieer. Die ATKV-leiers meen dat die verwysing na onregte nie net die onlangse verlede insluit nie, maar ook byvoorbeeld die Anglo-Boereoorlog, en dat almal hulle dus daarmee kan vereenselwig.

Hoewel ek waardering vir die ATKV het  en self ’n lid daarvan is, is ek jammer oor sy standpunt. Die waarskynlike interpretasie van die eed gaan wees dat dit na apartheid verwys. So word dit permanent ’n aanklag elke keer as die eed afgelê word. Veral in tweetalige skole gaan dit die Afrikanerleerders stigmatiseer. Hoekom moet ’n eed op negatiewe geskiedenisse gegrond wees? Die aanhef tot die Grondwet praat wel van onregte, maar lui ook: “Ons respekteer diegene wat hulle beywer het om die land op te bou en te ontwikkel”.

So ‘n eed is dikwels baie omstrede. In Maart vanjaar het Skotse leiers dit duidelik gemaak dat hulle die voorstel verwerp dat skoolverlaters ‘n eed van getrouheid aan Brittanje en die koningin aflê. En daar sou nie eens verwysings na die negatiewe in daardie eed wees nie.

набор для рисования

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.