Die metaalwerkersvakbond Numsa sê duisende van sy lede in die motorbedryf begin vandag staak. Dit sluit petroljoggies en vakbondlede by onderdelehandelaars, paneelkloppers en motorwerkswinkels in.
Motoriste is gewaarsku om seker te maak dat hulle brandstof het voordat petroljoggies Maandag ophou werk.
Die vakbond NUMSA het bevestig dat samesprekings met werkgewers vasgeval het.
Die woordvoerder van die vakbond, Karl Cloete, het gesê die staking sal in Gauteng begin, terwyl die ander provinsies Woensdag en Donderdag by die arbeidsoptrede sal aansluit.
Optogte word Maandag in Randburg en Kaapstad beplan.
NUMSA eis ‘n verhoging van R30 per uur in alle sektore vir werkers wat meer as R6 000 verdien. Hulle eis ook ‘n nagskoftoelaag van 20 persent van die normale loon, en ‘n middagskoftoelaag van 15 persent.
Cloete sê Numsa verteenwoordig sowat 70 000 werkers in dié sektor.
Die mynwerkersvakbond AMCU sal na verwagting dié week ook begin staak nadat die ander vakbond – die NUM – sy staking by goudmyne verlede week opgeskort het.
Lede van AMCU het by ‘n massavergadering op Carletonville aan die verre Wes-Rand ten gunste van ‘n staking gestem nadat hulle ‘n salarisaanbod van agt persent van die hand gewys het.
AMCU eis R12 500 vir werkers op intreevlak, maar goudprodusente sê die verhogings is onrealisties in ‘n sukkelende ekonomiese klimaat.