Afrikaans kort ‘n nuwe mediamodel

Deel op

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Moontlik was daar ‘n tyd in die negentiende eeu toe mense koerante gelees het bloot om ingelig te word. As deel van jou koerant het jy sommer op die koop toe die jongste aflewering van ‘n vervolgverhaal deur Charles Dickens of Honoré de Balzac, twee van die gewildste skrywers in die negentiende eeu, ontvang.

Daardie tye is egter vir goed verby. Toenemend in die twintigste eeu, maar veral nou in die een-en-twintigste, het media byna ‘n vorm van “oorlog met ander middele” geword. Joernalistieke objektiwiteit en selfs integriteit het plek gemaak vir belange wat deur media gedien word. Individuele joernaliste en meningsvormers is “penvegters” wat elke dag teen ‘n opponent in die kryt tree. Trouens, laasgenaamde is die titel van ‘n biografie deur Jaap Steyn oor Piet Cillié, een van die bekende historiese joernaliste van Die Burger.

Twee onlangse onderhoude wat hier op die praagwebblad gevoer is, is verhelderend sover dit die hedendaagse rol van media betref. Die eerste is dié met Margarita Simonjan, die uitvoerende redaktrise van die Russiese TV-netwerk, Russia Today. Die tweede gesprek, met dr. Christo Landman, verskyn vandag.

In haar onderhoud vergelyk Simonjan die rol van haar internasionale nuusnetwerk met dié van die Russiese departement van verdediging en sê: “…as Rusland gaan oorlog maak… dan sal ons by die geveg betrokke raak, ja. Dit is op die land se regte, gewapende konflikte van toepassing. Onthou u die oorlog in Augustus 2008? Op daardie tydstip het die meeste Westerse mediahuise gereageer asof hulle Georgië se departement van verdediging was.”

Aansluitend hierby verduidelik dr. Christo Landman: “As jy onder die aandag kom, dan moet jy aanvaar dat daar strategieë in werking gestel sal word om jou te neutraliseer. Sodra jy ‘n faktor word, is jy ‘n teiken.” Met ander woorde, Individue en groepe wat vir Afrikaans of die Afrikanersaak standpunt inneem, sal geteiken word.

In die Engelse rubriek wat ek gister geskryf het, sê ek in die eerste sin: “South Africa’s multiracial and multicultural society is exploding into a never-ending Kulturkampf or American-style culture war.” Hierdie kultuuroorlog gaan oor idees, maar ook oor ons reg op voortbestaan, ons reg om ons privaateiendom te behou of om ons kinders na Afrikaanse skole te mag stuur. Dit is alles “regte” wat in die brandpunt van hierdie stryd staan. Aan die oorkant is daar twee radikale standpunte: een beskou ons as “nie deel van die Afrika-kontinent nie” en daarom behoort al ons bates gewoon genasionaliseer te word en ons uit die land verdryf te word. Die ander “laat ons toe” om aan te bly, maar op voorwaarde dat ons geheel en al in die meerderheidsamelewing integreer en op die duur geassimileer word.

In hierdie oorlog is geen metode taboe nie: ‘n persoon kan geëtiketteer word, vir ‘n idioot uitgeskel word, sy privaatlewe kan oopgevlek word en soos ons in die onlangse Amerikaanse geval van Paula Deen gesien het, as jy dertig jaar vantevore die K-woord (die N-woord in die VSA) gebruik het, kan jou reputasie vandag daardeur geruïneer word.

Dit is ook ‘n reële oorlog want dit gaan om klimaatskepping, propaganda, om haat en vyandigheid teen die geteikende groep op te wek. Geweld geskied agterna byna outomaties. Ek verstout my om te sê dat plaasmoorde in dié land nie sou plaasgevind het indien die Afrikanervyandige media nie oor baie jare soveel nyd en gif teen boere gesaai het nie. Die internasionale propagandastryd wat tans om Sirië gevoer word, is ‘n ander insiggewende voorbeeld. Of Amerika, Frankryk en Brittanje daardie land gaan aanval, gaan uitsluitlik bepaal word deur die soort klimaat wat hulle in die media kan skep. Daar geskied manipulasie van feite, oor en weer beskuldigings van chemiese wapengebruik, oorlogsmisdade en dergelike meer.

Daar is feitlik geen “redaksionele onafhanklikheid” nie, want elke orgaan, elke koerant, TV-kanaal of radiostasie het reeds kant gekies, sowel plaaslik as internasionaal en dis maklik om sy partydigheid uit sy beriggewing en kommentaar af te lei.

Om maar een bekende voorbeeld te noem: Die Naspersgroep volg openlik die Britse en Amerikaanse regerings se standpunte in sy internasionale beriggewing en daarom steun Naspers blindelings ‘n aanval op Sirië. In hul plaaslike nuusdekking word alles weer so geplooi om die DA en die groot sakeondernemings, waaronder die mynhuise, te pas. Afrikanerskap is vir Naspers ‘n onding en word telkens met “rassisme” en ander ongure begrippe verbind.

‘n TV-kanaal soos Russia Today word deur die Russiese regering befonds. Hier sit Afrikaners met ‘n probleem, want geen regering ter wêreld gaan vir ons media betaal nie. Plaaslike adverteerders mag ‘n bydrae lewer, maar te eniger tyd kan adverteerders deur veiligheidsdienste of vyandelike media geteiken word en kan sodanige fondse summier afgesny word. Suid-Afrikaanse korporatiewe advereerders is ook geheel en al verbind tot die multikulturele samelewing, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en alles wat daarmee saamgaan, dus gaan hulle ook maar langtand wees om in media te adverteer wat krities teenoor dié beleidsrigtings staan. Boonop verkies Suid-Afrikaanse reklame-agentskappe steeds om op papier of in uitsaaimedia soos radio of TV te adverteer, pleks van op die internet. Volgens beskikbare statistiek, word slegs 2% van alle reklame in ons land aan digitale media bestee.

Hoewel digitale media soos webblaaie, ens., dus aan die agterspeen suig sover dit advertensie-inkomste betref, is gedrukte koerante besig om te kwyn en word hulle deur aanlynmedia vervang. Dit skep ‘n geweldige finansiële krisis vir die mediahuise, want niemand maak werklik geld uit die internet nie, behalwe enkele reuse- internasionale groepe soos Google of Facebook wat oor honderde miljoene gebruikers beskik.

In Afrikaans is die toestand des te meer akuut, vanweë die klein mark wat deur Afrikaanse media bedien word. Hoewel Afrikaanse media redelik sterk staan teen Engelse media in Suid-Afrika, kan ons glad nie met die groter tale, veral natuurlik Engels, internasionaal meeding nie. ‘n Webwerf soos die Britse mailonline beskik byvoorbeeld oor 70 miljoen gebruikers wat aan hom ‘n aardige advertensie-inkomste besorg.

Om verskeie redes is Afrikaanse media nie volhoubaar nie. Naspers het ‘n sogenaamde “betaalmuur” vir sy dagblaaie se aanlynweergawes ingestel. Behalwe vir die Wall Street Journal en ‘n paar ander internasionale voorbeelde, wil lesers eenvoudig nie vir aanlyninhoud betaal nie. Die internet is veronderstel om gratis te wees.

Dit is egter waar dat aanlynmedia tans nog op die gedrukte media parasiteer. Vanweë die groter advertensie-inkomste van gedrukte media, kan hulle bekostig om meer joernaliste in diens te hê, ondersoekende joernalistiek te doen en bepaalde groot stories oop te vlek. Aanlynmedia maak meesal gebruik van die groot nuusdienste wat die stories van gedrukte koerante herverpak en teen ‘n breukdeel van die oorspronklike koste te koop aanbied. Andersins het sulke nuusdienste hul eie joernaliste in diens wat berigte skryf wat weer aan die gedrukte koerante en aanlynmedia verkoop word.

Maar wat gebeur wanneer gedrukte koerante heeltemal tot niet gaan en al daardie joernaliste wat danksy papier steeds ‘n salaris verdien, eensklaps sonder werk gaan sit? Ek vermoed dat ons in Afrikaans slegs vyf jaar van so ‘n situasie verwyder is, gouer indien die huidige vervreemding tussen die Nasperskoerante en Afrikaanse lesers wyer uitkring. Danksy sy oorsese belange, onder meer in Hong Kong, kan Naspers al sy Afrikaanse media sluit sonder dat dit sy winsgewendheid noemenswaardig sal beïnvloed.

Wat ons by praag probeer regkry, is om die gratis model wat reeds op die internet gevestig is, só aan te wend dat dit op die duur volhoubaar kan raak. Niks is egter ooit heeltemal gratis nie en in die reël moet vyf persent van gebruikers bereid wees om vir ‘n diens te betaal vir so ‘n diens om te kan voortbestaan.

Die netwerk wat praag gevestig het, met sowel ‘n Afrikaanse as ‘n Engelse webwerf, asook ‘n sterk teenwoordigheid op sosiale media soos Facebook en Twitter, beskik oor die potensiaal om daardie “departement van mediaverdediging” te word wat Afrikaners so broodnodig het. Veral vanaf ons Engelse webblad loods ons kritiese kommentaar en berigte wat hard slaan en konsternasie onder ons vyande veroorsaak, omdat Afrikaners nou vir die eerste keer in ‘n lang tyd hulle teen propaganda-aanvalle verdedig.

Beide webwerwe verteenwoordig ‘n formidabele navorsingsbron waar die aantal moorde, verkragtings en ander geweld in ons land daagliks weerspieël word. Dit maak dit vir navorsers, aktiviste en kommentators moontlik om sulke inligting altyd byderhand te hê.

Die internet beskik beslis oor die potensiaal om ons te bevry, want ons kan ook ekonomiese netwerke, handel, beleggings, betalings en wat nog van hier af bedryf. Daar moet egter ‘n nodale punt wees waar al hierdie dinge ontmoet.

Dat hierdie webblad moet aanhou bestaan en moet groei, is van wesentlike belang. Word deel van die vyf persent deur op die onderstaande banier te klik!

praagcoza_adv

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.