Die kastraatmentaliteit kry momentum

Deel op

momentumdeur Leon Lemmer

Die Vryheidsfront Plus het pas by monde van sy leier, Pieter Mulder, te kenne gegee dat hierdie party sy missie verbreed met die oog op diversiteit en samewerking. Die VF Plus gaan hom vorentoe nie net aan die bevordering van die belange van blankes toewy nie, maar aan dié van alle minderheidsgroepe (Praag 3 deser). Die “Plus” kan dus dui op die groter getal groepe wat gedien gaan word. In die praktyk kan dit egter ‘n “Minus” word as die getal stemme wat die VF kry in ‘n verkiesing daal.

Kort voor Mulder se aankondiging het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns by monde van sy voorsitter, Wannie Carstens, aangekondig dat hierdie liggaam onder druk verkeer om aan te pas, dus om te transformeer. Daar gaan op die ANC se demografiewa geklim word. Voortaan gaan hierdie liggaam daarna streef om die demografie van die hele Afrikaanse gemeenskap te weerspieël (Praag 20 Augustus).

As die eerste voorsitter die Afrikaanse Taalraad (ATR) is Carstens daarvoor bekend dat hy die ATR eerder as ‘n versoenings- en meertaligheidsraad as ‘n egte Afrikaanse taalraad gevestig het (Praag 17 Maart). Die huidige voorsitter, Michael le Cordeur, bewandel dieselfde pad (Praag 18 Augustus). Wat die ATR graag wil wees, blyk uit sy “Akte van Oprigting” wat tans vir kommentaar gesirkuleer word. Opmerkings moet die ATR teen 20 deser bereik.

Die opsteller(s) van die akte onderskei nie tussen die doel, dus wat die ATR wil bereik, en die funksie(s), dus hoe gepoog gaan word om die doel te bereik, oftewel watter handeling(e) nodig is, nie. Die (hoof)doel moet tog sekerlik wees om ‘n heilsame, respektabele Afrikaans tot in die verre toekoms te verseker. Die “hoofbesigheid”, bedoelende die hooffunksie, van die ATR word egter soos volg geformuleer:

“Om deur die Afrikaanstalige gemeenskap ‘n taalpolitieke situasie in ‘n veeltalige Suid-Afrika te skep waarin Afrikaans as inheemse taal, benewens ander inheemse tale, doelbewus gehandhaaf en bevorder word as hoëfunksietaal en taal van bemagtiging in die breë gemeenskap.”

Hierin kom baie van die dinge waarmee die ATR hom by voorkeur besig hou, te voorskyn: politiek, bemagtiging veeltaligheid, ander inheemse tale, die breë en Afrikaanstalige gemeenskap. Nêrens is daar toespitsing op twee kernelemente, naamlik Standaardafrikaans en Afrikaners, nie. Die teenoorgestelde is eerder waar; maw daar word doelbewus weggestuur van hierdie twee kernelemente. Die res van die akte bevestig hierdie waarneming.

Onder “aanvullende hoofdoelstellings” staan daar: [4]: “Om die beskikbare kundigheid aan te wend om sosio-ekonomiese ontwikkeling en welvaartskepping vir die breë Afrikaanse gemeenskap te bewerkstellig.” Behoort so iets ‘n funksie van ‘n taalraad te wees? Gaan daar sosio-ekonome en deskundige welvaartskeppers in die ATR se direksie en/of personeel dien? [12]: “Om Afrikaans onder anderstaliges te bevorder” is in orde, maar [13] “Om vaardigheid in ander tale onder Afrikaanssprekendes te bevorder” behoort klaarblyklik nie ‘n funksie van ‘n Afrikaanse taalraad te wees nie.

Die “waardes” waaraan die ATR hom skuldig maak, is nogal interessant. Artikel 3 begin met politiek-gemotiveerde verwysings na “bemagtiging” en “inklusiwiteit”. Dan 3[3]: “Die Taalraad erken die feit dat Afrikaans die eiendom is van almal wat dit praat.” Afrikaans as ‘n erkende, ontwikkelde en gestandaardiseerde taal is uiteraard veral aan Afrikaners te danke. ‘n Mens kan redeneer dat elemente in die nuwe Suid-Afrika aanspraak op al die positiewe dinge maak wat met inspanning deur Afrikaners tot stand gebring is. Maar hierdie storie van eiendomsreg is wesenlik ‘n politieke foefie wat liefs heeltemal weggelaat moet word.

Vervolgens blyk uit 3[5] dat die ATR nie net van die grondwet hou (soos toe reeds twee keer in hierdie akte genoem) nie, maar spesifiek van die waardes daarin, soos “die bestryding van diskriminasie en van sosio-ekonomiese ongelykheid, ‘n strewe na gelykwaardigheid van individue en die uitbou van demokrasie.” Hoort sulke items in die akte van ‘n raad wat veronderstel is om die heil van ‘n bepaalde taal te bevorder? Op grond waarvan sou ‘n egte taalraad hom voorskriftelik ten gunste van bv ‘n spesifieke staatsvorm soos demokrasie uitspreek? Onder ander staatsvorme kan ‘n taal sekerlik ook gedy. Onder ‘n meer elitistiese staatsvorm hét Afrikaans inderdaad voortreflik geblom.

3[6]: “Om verdeeldheid te heel, word versoening tussen gemeenskappe wat Afrikaans gebruik, en ook tussen Afrikaanstaliges en ander taalgemeenskappe as ‘n belangrike prioriteit geag.” Dit is ‘n suiwer politiek-gemotiveerde strewe. Carstens se jare as voorsitter van die ATR is deur die entoesiastiese nastrewing hiervan gekenmerk.

Hierna volg items wat na “bemagtiging” en “eenheid” verwys en dan hierdie een: 3[9]: “Die diversiteit van die Afrikaanssprekende taalgemeenskap en meertaligheid in Suid-Afrika word as ‘n bate beskou.” Dat hulle inderdaad bates is, kan uit die oogpunt van Afrikaans bevraagteken word en dit spreek in elk geval die “eenheid” in die vorige item teë.

In die akte word nêrens omskryf wat as Afrikaans beskou word nie. Dit is noodsaaklik dat ‘n liggaam soos die ATR duidelikheid kry oor wat ingesluit en wat uitgesluit word in hierdie kernonderwerp waarmee hy veronderstel is om hom besig te hou. Die kern van Afrikaans moet sekerlik Standaardafrikaans wees as die ATR enigsins hoop om suksesvol te wees.

Maar dit is juis so ‘n spesifieke fokus wat die ATR soos die pes vermy en sover moontlik aan bande lê: 3[10]: “Die variante in taalgebruik wanneer Afrikaanstaliges kommunikeer, word as deel van die rykdom van Afrikaans beskou.” Die talle onnodige Engelse woorde in die mengeltaal Kaaps is volgens die huidige voorsitter van die ATR, Michael le Cordeur, deel van hierdie gewaande rykdom; ‘n soort rykdom wat toenemend die ondergang van Afrikaans as ‘n respektabele taal kan veroorsaak. Die ATR se oordrewe sug na inklusiwiteit is kennelik ‘n onding.

In 3[13] word “die belangrike rol van Afrikaans as tweede en derde taal” erken, maar nêrens word na Afrikaans as eerste en moedertaal verwys en diegene veroordeel wat sodanige status afskaal of heeltemal ontken nie, bv mense wat Afrikaans gebore en grootgeword het, maar dan voorgee dat hulle eintlik Engels is.

Kortom. die ATR se “Akte van Oprigting” is te min op taal en glad te veel op politieke kwaksalwery, by name ANC-gedienstigheid, toegespits. Die ATR is ‘n baie mank Moses wat nog nie die pad na die beloofde land van ‘n heilsame en respektabele Afrikaans gevind het nie. (Hier eindig my kommentaar op hierdie dokument.)

Wat die VF Plus, SA Akademie en ATR gemeen het, is dat hulle wil transformeer. Dit beteken dat die huidige oorheersende politieke klimaat as model vir verandering dien. Op sy beurt beteken dit dat eerder kwantitatiewe as kwalitatiewe oorwegings in ag geneem word. Die missie van elk van hierdie ondernemings word verbreed sodat meer mense betrek kan word. Die fokus vervaag gevolglik. By implikasie word die wesenlike aard van elkeen verander en die gesonde resultate wat behaal kan word, word verwater.

Wat hier besig is om te gebeur, is ‘n weerspieëling van die politieke oorgang van die jare negentig: magsdeling word belowe maar magsoorgawe word geërf; dus ‘n kleiner groep word deur ‘n groter groep verswelg. In hierdie proses is daar een etniese groep wat deur eie posisionering deurgaans mag inboet en aan die kortste ent trek, naamlik die wittes. Die spronge wat uitgevoer word, is simptomaties van wat werklik skort: die grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer, is foutief. Dit is hierdie waarheid wat erken moet word.

In die politiek verkondig Satan: “Hoe meer siele, hoe meer vreugde. Hoe meer mense die land instroom om hulle regmatige regte te geniet, hoe beter. Ingevolge die ANC se vryheidsmanifes behoort die land immers aan almal wat sowel wettig as onwettig hier woon. Laat ons ons grootse bate van verskeidenheid tot in die oneindige soos ‘n moerse kermis vier. Glo gerus die bevrydingsteoloë wat verkondig dat God by voorkeur vir die armes lief is. Vergeet die storie dat die armes altyd met ons sal wees. Al was daar altyd en oral armes, moet ons aanhou om die dwaalleer te verkondig dat armoede apartheid, dus die inhalige wittes, se skuld is.”

Wat deesdae vir algemene aanvaarding aangebied word, is dat almal gelyk en selfs eenders is. Sodra hierdie aksioma aanvaar word, lê die weg oop vir die gevolgtrekking dat nie-prestasie, bv armoede, nie mense se eie skuld is nie, maar die skuld van diegene wat wél sukses behaal het. As dít die geval is, volg dit dat eerder nie-wittes as wittes in beheer van die land en liggame soos die VF Plus, SA Akademie en ATR moet wees. Dus hoe meer mag die wittes ontneem word, hoe beter.

Dit is wat ek die kastraatmentaliteit noem (Praag 1 deser), naamlik die doelbewuste afskaling van die mag van wittes en spesifiek van Afrikaners en ook Afrikaans. Dit verwys na die pogings, meesal uit eie geledere, om wittes en veral Afrikaners se vermoëns in al hoe groter mate aan bande te lê; om hierdie etniese groep verder te ontman vanweë die foutiewe aanname dat toe wittes en veral Afrikaners oor die mag beskik het, hulle meer droog as die swartes en die ANC-regering gemaak het.

Satan sê: “Kom ons probeer magsdeling. Kom ons vat een van jou knaters weg. Jy het mos nog een.” Daarna blyk dit dat daar algehele, mandaatlose magsoorgawe was. Dan sê Satan: “‘n Mens moenie dinge half doen nie. Jy moet bereid wees om die hele pad te stap; algeheel te transformeer. Ons het dus albei jou knaters weggevat; jou polities magteloos gemaak. Kyk na die groter prentjie: die meeste mense het nie knaters nie. Daar is lewe na kastrasie. Jy het nie testosteroon in jou bloed nodig nie. Jou beenstruktuur moenie sterk wees sodat jy jou kan verset nie. Jy moet veral nie ruggraat hê nie. Al wat nodig is, is dat jy saam met die stroom moet dryf. Jy moenie swem nie; veral nie stroomop nie. Moenie kyk na wat daar op die wal op daardie bordjie met die pyltjie staan nie: ‘Moer toe’. Die beste stuurman staan aan wal. Alle strome, al het hulle die helderste, soetste, varsste, beste water, eindig in die soutwater van die see. Vertrou die meerderheid. Laat die kamerade jou na die diepsee neem. Moenie probeer om jou identiteit, jou beskaafde waardes, in ‘n veilige hawe te verskans nie. Laat die tirannie van die meerderheid toe om jou na die oop see te neem sodat jy daar kan vergaan.”

Dit is in die openbare en dus landsbelang dat die blankes en veral die Afrikaners nie verder polities ontman word nie. In ‘n land waar daar met kwantiteit geboer word, is ‘n kragtige kwalitatiewe teenoffensief noodsaaklik. Die VF behoort dus die heil van ‘n spesifieke minderheidsgroep, naamlik die blankes, te bevorder. Die SA Akademie moet voortgaan om eerder Afrikaners as ander etniese groepe te ondersteun, want hierdie wittes het bystand nou meer as ooit nodig. Die ATR moet die moed opdiep om Standaardafrikaans uit te sonder as die Afrikaans waaraan hy voorkeur gee en dit onomwonde stel dat taalsuiwerheid vir hom erns en ‘n mengeltaal soos Kaaps, veral in soverre dit Engelse woorde ongebreideld en onnodiglik toelaat, vir hom verwerplik is.

Vanjaar is Nathan Trantraal se Chokers en Survivors en Marlize Hobbs se Score my ‘n Gwai by Naspers-uitgewerye gepubliseer. Trantraal het laasgenoemde boek pas geresenseer (as ‘n mens dit só durf noem) en ook ‘n onderhoud met Hobbs gevoer (LitNet 4 deser). Trantraal skryf van “‘n sad state of affairs,” “uit ‘n state van connectedness uit slip into daai loneliness,” “jy seem nie vir my baie rebellious nie,” en “jy het ‘n way daarvan om moments te distill.” Trantraal noem Hobbs se boek “‘n mengsel van Afrikaans, Engels en Tswana.” Hobbs praat van “somehow moet jy cope, somehow moet jy oorleef” en “jafok, happiness is nie iets waarmee die mensdom goed deal nie.”

Wat ons hier het, is nie respektabele taal nie. Dit is om van te ween. Dit is die soort “Afrikaans” waaroor die ATR by monde van Le Cordeur meer entoesiasties as Standaardafrikaans is. As die ATR toegelaat word om op hierdie trant voort te gaan, sou die klippe begin uitroep dat die ATR kortgevat moet word omdat hy die ondergang van heilsame, respektabele Afrikaans bevorder.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.