
Die Amerikaanse ministerie van buitelandse sake het die verklaring deur die Russiese president, Wladimir Poetin, as “belaglik” afgemaak, dat staatsekretaris John Kerry aan die Kongres oor Al-Kaida se rol in Sirië sou gelieg het.
“Staatsekretaris Kerry is, soos u almal weet, ‘n gevesveteraan met toekennings vir dapperheid,” het ‘n segsvrou vir buitelandse sake, Jen Psaki, gesê, met verwysing na Kerry se diens tydens die Viëtnamoorlog. “Hy het al meer as woorde gehad wat in sy rigting gemik is.
“Dus verloor hy nie slaap ná so ‘n belaglike reaksie wat op ‘n onakkurate aanhaling gegrond is en geheel en al vedraai is nie,” het sy bygevoeg.
Woensdag het Poetin vir Kerry daarvan beskuldig dat hy oor die militante Al-Kaida-groep se betrokkenheid by die Siriese konflik gelieg het.
“Hulle lieg natuurlik pragtig. Ek het debatte in die Kongres dopgehou. ‘n Kongreslid vra mnr. Kerry: “Is Al-Kaida daar?” Hy sê: “Nee, ek sê dit nou met vertroue dat hulle nie is nie,” het Poetin tydens ‘n vergadering van die menseregteraad in die Kremlin gesê.
“Al-Kaida-eenhede is die hoof-militêre groepering, en hulle weet dit,” het hy gesê, met verwysing na die Verenigde State. “Dit was onaangenaam en onthutsend vir my – ons praat met hulle, ons gaan van die standpunt af uit dat hulle ordentlike mense is. Maar hy lieg en weet dat hy lieg. Dis treurig.”
Poetin het nie nie verdere besonderhede verstrek nie.
Tydens ‘n meningswisseling met ‘n senator, is Kerry gevra of dit “eintlik waar is” dat die Siriese opposisie “met tyd meer deur Al-Kaida geïnfiltreer is”. Kerry het gesê: “Nee, dit is eintlik nie waar nie. Dit is eintlik inkorrek.” – Reuters