LUR gee bevel dat blou ligte aangeskakel word

Deel op

mogaleHumphrey Mmemezi, destyds LUR vir plaaslike regering en behuising, het kort voor Thomas Ferreira se ongeluk beveel dat die blou ligte op sy motor aangeskakel moet word, het die Krugersdorpse landdroshof Donderdag gehoor.

Mmemezi het aanvanklik gelieg en gesê hy was nie in die voertuig toe die ongeluk gebeur het nie. Die Gautengse premier het egter later met die sak patats vorendag gekom.

Die bestuurder van die LUR se voertuig het homself ook nie aan die beseerde kind gesteur nie en net die skade aan sy voertuig bekyk, het omstanders aan die media bevestig.

Mmemezi het dié blouligbevel aan sy bestuurder, Joseph Semitjie, gegee voor hulle die LUR se huis op die dag van die ongeluk in November 2011 verlaat het.

“Ons het nie die blou ligte gebruik omdat ons wou nie. Die LUR het ons gesê om dit te doen,” het Semitjie se voormalige kollega Nomakhosi Onica Mashifane aan die hof gesê.

Semitjie staan tereg op vier aanklagte, waaronder die versuim om bystand aan beseerdes op ‘n ongelukstoneel te verleen.

Mashifane, wat ook nie haar gevorderde bestuurskursus voltooi het nie, het gesê hulle het nie stilgehou by stoptekens terwyl hulle die LUR vervoer het nie, omdat hulle haastig was.

Sy het gesê toe hulle in Paardekraal-rylaan in Krugersdorp aankom, het hulle die sirene aangeskakel om ander motoriste bewus te maak dat hulle aankom.

“Die motoriste uit verskillende rigtings het weens die sirene tot stilstand gekom en ons het gedink dit is veilig om aan te hou ry,” het Mashifane gesê.

Toe hulle aangehou ry het, het hulle ‘n geluid aan die linkerkant van die voertuig gehoor.

“Ons was reeds verby die kruising toe ons die geluid hoor en ons het toe gesien dat ons voertuig aan die linkerkant getref is,” het Mashifane gesê. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.