Kabinet maan betogers, stakers tot kalmte

Deel op

goudmynDie Kabinet het ‘n beroep op betogers sowel as stakers gedoen om hulself te weerhou van geweld. Die vakbond Amcu sê dat van sy lede by Sibanye se Beatrixgoudmyn in die Vrystaat aangeval is.

Dit het vrese opnuut laat ontstaan dat die staking in die goudsektor gewelddadig kan raak. Amcu se hoofsekretaris, Jeff Mphahle sê die vyf Amcu-lede is deur lede van die NUM aangeval wat wou keer dat hulle gaan werk.

Die reg om te staak moet op ‘n nie-gewelddadige wyse geskied, het die waarnemende regeringswoordvoerder Phumla Williams aan verslaggewers in Pretoria Donderdag gesê, na aanleiding van die uitvoerende gesag se vergadering Woensdag.

“Die Kabinet beklemtoon dat so ‘n reg uitgeoefen moet word op ‘n nie-gewelddadige wyse en in volle nakoming van die wet,” het sy gesê.

“Daar is ‘n verantwoordelikheid op die vakbondleiers, werkgewers, die staat, en die veiligheidsdienste om te verseker dat die wet gehandhaaf word en dat uitdagende optrede vermy word.

Verskillende ekonomiese sektore in Suid-Afrika, insluitend die mynbou, konstruksie, en die motorsektor, is tans besig met onderhandelinge.

Die vakbond, die NUM het die Kamer van Mynwese se hersiene salarisaanbod na sy stakende lede geneem om oorweeg te word.

Die NUM se stakingskomitee het vroeër vandag vergader om die aanbod te bespreek. Die NUM-woordvoerder, Lesiba Seshoka sê die werkers se besluit kan teen môre reeds aangekondig word.

Die goudmynwerkers staak van Dinsdag af.

Williams is ook gevra oor die toestand van die drie Suid-Afrikaanse soldate wat beseer is tydens ‘n VN-sending in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

“Suid-Afrikaners word geroep om ondersteuning en erkenning te gee aan hierdie soldate wat instrumenteel in die verwesenliking van Suid-Afrika se verbintenis tot vrede, stabiliteit en die versterking van die demokrasie in Afrika is.

Sy het vrae na die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag verwys.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.