Talewet geminag in staatsdiens

Deel op
robdavies
Rob Davies, minister van handel en nywerheid

Die VF Plus het enkele weke gelede met ‘n geskrewe vraag die onderverteenwoordiging van Afrikaans in die staatsdiens belig en veral in sekere afdelings van die department van handel en nywerheid waar nie ‘n enkele Afrikaanssprekende personeellid is nie.

Die nuwe Talewet laat die gevaarligte nou rooi flikker vir die oorlewing van Afrikaans by staatsinstellings, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor kuns en kultuur.

Volgens adv. Alberts het regstellende aksie daartoe gelei dat Afrikaanssprekende personeel al hoe meer onderverteenwoordig raak in die staatsdiens. Die realiteit is dus dat daar bloot nie meer personeel beskikbaar is om Afrikaanssprekendes te help nie, ongeag die welklinkende beloftes van die ANC in dié verband.

Ingevolge die Talewet moet elke nasionale department, -openbare entiteit en -openbare onderneming ‘n taaleenheid stig en ‘n taalbeleid hê wat bepaal in watter tale diens gelewer en gekommunikeer moet word en die instellings kan besluit watter drie van die elf amptelike tale gebruik sal word.

Dr. Joyce Sukumane, direkteur van taalbeplanning en- ontwikkeling by die department van kuns en kultuur, het die week gesê daar sal nie teen een van die elf amptelike tale ‘gediskrimineer’ word nie, en Afrikaanssprekendes sal ‘steeds daarop kan aandring’ om in hul taal gehelp te word.

Volgens adv. Alberts is dié beloftes van dr. Sukumane betekenisloos en sonder enige waarborg.

“Hier word beloftes gemaak dat Afrikaans gehandhaaf sal word en dat mense daarop sal kan aandring om in Afrikaans gehelp te word.

“Die tragiese ironie is dat Afrikaans by staatsinstellings reeds ‘n worstelstryd om oorlewing voer en in sommige departemente reeds glad nie meer gebruik word nie omdat dat daar bloot geen Afrikaanssprekende personeel is nie. Die ANC se beloftes moet teen hierdie agtergrond gesien word.

“Dit is reeds algemeen bekend dat Afrikaans ‘n rare kommoditeit by alle staatsinstellings geword het.

“Ondervinding het duur lesse geleer dat dit maklik is om beloftes te maak, maar dat dit weinig indien ooit uitgevoer word. Ons sal die situasie fyn dophou en sal nooit die handdoek ingooi waar dit kom by die stryd om Afrikaans nie,” sê adv. Alberts.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.