
Die wit pa wat ‘n rasseherrie by die Laerskool Wilgehof begin het, Craig Thiem, het toe nie opgedaag vir sy afspraak met die skool se beheerraad nie.
Hy sou by dié geleentheid die beweerde rassisme van onderwysers in die skool wat hy in ’n ellelange brief uiteengesit het, met die beheerraad bespreek het, berig die Volksblad.
Victor Goliath, voorsitter van die skool se beheerraad het gesê Thiem het egter op kort kennisgewing die beheerraad laat weet dat hulle die inhoud van die brief maar sonder hom moet bespreek.
Die waarnemende skoolhoof, Louis van Biljon, sal nou in opdrag van die beheerraad aan Thiem ’n brief skryf om te hoor wanneer dit hom sal pas om met die beheerraad oor die inhoud van die brief te vergader.
Goliath sê in die brief is daar niks nuuts nie, behalwe ou bewerings. Hy sê verder word daar ook “wilde bewerings” oor ander personeellede van die skool gemaak, maar hul name word nie genoem nie.
Thiem (51) van Thomas Leithstraat, Wilgehof, moet weer eerskomende Maandag in die Bloemfonteinse landdroshof op ’n aanklag van winkeldiefstal verskyn. Hy word daarvan aangekla dat hy kruideniersware van R524 in die Pick n Pay Hypermarket in Fichardtpark gesteel het.