‘Boere moet nie paniekerig raak oor radikale grondhervormingsuitsprake nie’

Max du Preez
Max du Preez

Max du Preez het die “disinformasie, swak analise en politieke opportunisme” van instansies soos die Afrikanerbond en sekere ANC-faksies, skerp gekritiseer en gesê dit vertraag konsensus oor grondhervorming.

Du Preez het die Afrikanerbond as “erg onsensitief, en aanstootlik in sy a-historiese ontleding van grondeienaarskap en hervorming” afgemaak nadat hulle uitgebreide kritiek teen die ANC se opvatting van die 1913-wet gelewer het

Du Preez het die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se voorstel dat plaaslike liggame van belanghebbendes in elke distrik die oordrag van ongeveer 20 persent van landbougrond aan opkomende swart boere gee en kommersiële boere dwing om hulle te voorsien van ondersteuning, as die beste oplossing beskryf.

Die voormalige president Thabo Mbeki het onlangs gewelddadige grondbesetting in Zimbabwe geprys, en ANC-LP en Mandela-opvolger Mandla Mandela het dreigemente dat kommersiële plase onteien sal word, herhaal. Mbeki se opmerking is by ‘n lesing by die Thabo Mbeki African Leadership Institute by Unisa op 23 Augustus gemaak.

Die NOP-voorstel dat die staat boere gaan “aanmoedig” om aandele in hul plase aan plaaswerkers te gee, het tot konsternasie in georganiseerde landbou-kringe gelei.

Dit stel onder meer dat ’n plaaswerker met tien jaar se “gedissiplineerde diens” op ’n kommersiële plaas, geregtig is op 10% aandele in die eienaarskap van die grond. Ná 25 jaar diens is ’n plaaswerker geregtig op 25% aandele en op 50% ná 50 jaar.

Geen melding word gemaak oor wat gebeur as daar verskeie werkers op ’n plaas is wat al langer as tien jaar daar is nie. Plaaswerkers, wat tydelike en seisoenwerkers insluit, is nou geregtig op aandele in dié plase waar hulle woon en werk.

TLU SA het in sy reaksie gesê hoewel boere “vrywillig” deelneem is verwagtinge geskep waaraan nie voldoen kan word nie en sal dit tot spanning tussen grondeienaars en werkers lei. Dié organisasie het ook gesê die staat se voorgestelde model druis in teen ‘n vryemarkopset.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê die voorstel is een van twee “grondplate in die aardkors diep onder die see” wat Suid-Afrikaanse landbou kan tref.

Die ander “grondplaat”, is Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, se voorgestelde wetswysings aan die Bemarkingswet waarmee sy weer staatsbeheer wil instel.

“As een van dié twee grondplate skuif, gaan dit beslis ’n ‘tsoenami’ in landbou teweegbring,” het De Villiers gesê. Hy het gesê die plaaswerker-voorstel is ’n aanslag op privaatbesit en eiendomsreg en die wetswysiging aan die Bemarkingswet as ‘n “aanslag op die vrye mark” beskryf.

Agri SA het in reaksie gesê die Grondwet sal boere beskerm. Dié organisasie meen die gedwonge beskikbaarstelling van aandele sonder vergoeding sal “heel waarskynlik” in stryd wees met die Grondwet en hulle het individuele ooreenkomste tussen boere en plaaswerkers as ’n beter alternatief voorgehou.

Beeld berig dat ‘n gereelde RSG-kommentator, prof. Dirk Kotzé van Unisa, op Agri Noordwes se kongres in Rustenburg gesê het boere moenie paniekerig raak oor radikale uitsprake oor grondhervorming nie. Die ware stand van sake is “positiewer”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.