ANC sê DA-saak teen buitelandse kiesers maak nie sin

Deel op
Vuvuzille blaas teen buitelandse kiesers
Vuvuzille blaas buitelandse stemme aan

Die ANC sê die DA het oorreageer deur hom tot die Hooggeregshof te wend oor ‘n wetsontwerp wat mense wat in die buiteland woon kan verhoed om vir die provinsiale verkiesings te registreer.

Die ANC se hoofsweep, Stone Sizani, sê die DA se besluit om hom tot die hof te wend oor ‘n wetsontwerp wat nog deur die parlement oorweeg word, maak nie sin nie.

Die DA en nog nege applikante het hofstukke oor die saak by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien. Die DA se uitvoerende voorsitter, James Selfe sê hulle wil hê dat Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, stemgeregtig is vir sowel die nasionale as die provinsiale verkiesings.

Hulle glo dat die wet ongrondwetlik mag wees omdat dit die reg tot ‘n provinsiale stem uitsluit. Die DA wil sodoende verhoed dat kiesers in die buiteland net in 2014 hul stemme uitbring.

Die Vryheidsfront Plus het aan Suid-Afrikaners die reg om te registreer en te stem in aanstaande jaar se algemene verkiesing besorg. Dr. Corné Mulder, VF Plus-woordvoerder oor binnelandse sake, sê dit is belangrik dat voornemende kiesers in die buiteland opnuut bewus gemaak word van hul regte.

In hierdie verband sal die VF Plus van sosiale media soos Facebook en Twitter gebruik maak om die bepalings en implikasies van die nuwe opsie om wel in die buiteland te registreer en te stem, sterk uit te dra.

Dr. Corné Mulder sê hierdie vergunning is bereik nadat die party tot in die Grondwethof daarvoor geveg het.

Met die vorige verkiesing het die VF Plus ‘n groot aksie gedryf om Suid-Afrikaners in die buiteland bewus te maak van die feit dat hulle mag stem en die party was ook aktief betrokke om voornemende kiesers behulpsaam te wees met administratiewe prosesse om hul stem uit te bring.

“Die VF Plus het vir hierdie reg van alle Suid-Afrikaners tot in die Grondwethof gestry.  Ons sal hierdie nuwe werklikheid onder die aandag van Suid-Afrikaanse burgers wêreldwyd bring omdat die 2014-verkiesing baie belangrik gaan wees.

Voor die VF Plus se oorwinning was net Suid-Afrikaanse regeringspersoneel, toeriste, studente en sportlui wat aan internasionale wedstryde in die buiteland deelgeneem het, toegelaat om te stem.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.