Goudstaking skop af

Deel op

goldfieldsWerksaamhede word vanoggend ingekort by die Goldfields South Deepmyn op Westonaria suidwes van Johannesburg. Sowat 80 000 werkers wat tot die NUM behoort het die Kamer van Mynwese se verhoogde salarisaanbod van 6,5 persent verwerp en begin staak. Slegs kontrakwerkers het vandag vir diens aangemeld. Daar is onbevestigde berigte dat hulle met die opsegging van hul kontrakte gedreig is indien hulle sou wegbly. Om twaalf-uur vanmiddag gaan daar ‘n massabyeenkoms en betoging by die suidelike skag wees, waar die mynbestuur, die SAKP, Cosatu en die burgerlike organisasie, SANCO die werkers sal toespreek. Sekuriteit is by die myn verskerp.

Die Suid-Afrikaanse kamer van koophandel en nywerheid sê intussen goudprodusente se salarisaanbod moet in die regte perspektief gesien word. Goudprodusente sê die huidige ekonomiese toestande in Suid-Afrika het bygedra tot die finale salarisaanbod. ‘n Woordvoerder van die kamer, Peggy Drosky sê beide werkgewers en vakbonde moet bereid wees om opofferings te maak. Drosky sê werkers het dalk werklike behoeftes, maar maatskappye moet ook winsgewend wees om te kan voortgaan om mense in diens te neem. Volgens Drosky moet daar ‘n duideliker definisie wees van wat ‘n ordentlike lewenspeil in Suid-Afrika is.

In ‘n afsonderlike voorval, het betogers myngereedskap by ‘n skag van Anglo-Platinum se Twickenhammyn buite Burgersfort in Limpopo aan die brand gesteek en verskeie voertuie beskadig. ‘n Plaaslike munisipale raadslid, Vincent Mpofela sê ‘n elektriese transformator is ook afgebrand. Inwoners verkwalik die myn omdat plaaslike werkers afgelê word, terwyl werkers uit ander provinsies aangestel word. Die myn-bestuur was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die vakbond die NUM gaan nie afsien van sy eis vir ‘n 15 persent verhoging vir sy lede in die konstruksiebedryf nie. Dit volg nadat die vakbond BCAWU vroeër ‘n aanbod van ‘n 10 persent verhoging deur die Suid-Afrikaanse federasie van kontrakteurs in siviele ingenieurswese aanvaar het. BCAWU verteenwoordig 40 000 konstruksiewerkers. Die NUM, wat die meerderheidsvakbond is, eis ook ‘n minimumloon van R5 500, bonusse en ‘n mediese fonds pakket. Die vakbond se sekretaris in KwaZulu-Natal, Bongani Manyoni sê vakbondleiers gaan na verwagting môre byeenkom om te bespreek hoe die staking uitgebrei kan word. Manyoni sê hulle wil hê werkgewers moet besef dat hulle ernstig is oor hulle eise.

Werknemers by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg kla dat hulle toegang tot die SAL-kantore sowel as die tegniese perseel geweier word. Dit wil voorkom asof dit deur stakende tegniese personeel veroorsaak word. Werkers wat aan die vakbond, Satawu verbonde is, staak reeds twee weke lank omdat hulle op hoër salarisse aandring. Na bewering is gisteraand se nagskofwerkers ook nie toegelaat om die gebou te verlaat nie. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.