‘n Afrikanerkalkoen se eiertjie oor die demockracy

Deel op

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Ek het dit geniet om prof Danie Goosen se rubriek oor die demokrasie te lees. Alhoewel ek seker is Dan sal hom ook beantwoord, sal ek ook my eiertjie lê, al is ek ‘n selferkende leek in die politieke wetenskap.

Eerstens sou ek reageer deur te sê dat Afrikaners en Boere na my mening diep in ons harte demokrate is, selfs diegene wat miskien as vêrregs afgemaak kan word. Die Geloftevolkbeweging het immers onlangs die VVK in die lewe geroep, wat ‘n verkiesing gehou het. Goed; linkse gillers sal weliswaar probeer sê die VVK se verkiesing het misluk, maar hoe suksesvol daardie verkiesing was in numeriese terme, is nie eintlik vir hierdie gesprek ter sake nie. Die VVK se verkiesing is immers privaat befonds, anders as die luukse wat die OVK het om belastinggeld te kan gebruik. Die punt is wel dat selfs bewegings soos die Geloftevolk insien dat die gewone man op straat se stem gehoor moet word, al word hulle deur die libverkramptes as ekstremiste geëtiketteer.

Die geneuk kom egter in by hierdie deel van prof Goosen se rubriek: “Ingevolge Aristoteles se omskrywing dui laasgenoemde op daardie politieke orde waar die eie gemeenskap aan gemeenskaplike sake deelneem met die oog op die verwesenliking van hulle gemeenskaplike goed (bonum commune).”

Dáár het ons die Guptatopiese demockracy se doodsteek, in daardie een woordjie: Gemeenskap. Daar is geen Guptatopiese gemeenskap nie. Buiten vir selfone, geldgierigheid en ‘n voorliefde vir bier, het die inwoners van Suid-Afrika bitter, bitter min in gemeen. Daar is bloot ‘n vrugteslaai en deurmekaarspul van radikaal-uiteenlopende gemeenskappe, elkeen met unieke en meestal botsende belange. Die gebrek aan enige identifiseerbare Guptatopiese gemeenskap, maak dat die een-man-een-stem demockracy hopeloos en fundamenteel wanfunksioneel en gedoem is tot mislukking.

‘n Vereiste vir ‘n suksesvolle, moderne demokrasie is dat daar ‘n min-of-meer eenvormige gemeenskap moet wees, wat stem vir sake van gemeenskaplike belang. Wanneer daar egter ‘n mengelmoes van gemeenskappe bestaan, met botsende belange. en met uiteenlopende beskawingspeile, en veral wanneer die demografie teen kleiner gemeenskappe opgestapel is, is deelname aan so ‘n demockracy vir die kleiner gemeenskappe eintlik sinneloos.

Vir die voordeeltrekkers uit regstellende aksie is dit byvoorbeeld belangrik dat daar ‘n Spesiale Olimpiade vir hulle in die werkplek of op universiteit geskep moet word, want anders sou hulle nooit op gelyke voet met ander kon meeding nie. Ander groepe, wit mans spesifiek, word egter regstreeks benadeel deur die voorgee wat op hulle deur hierdie Spesiale Olimpiade afgedwing word. Gegewe die getalle-oorwig van diegene wat ‘n onregverdige en rassistiese voordeel benodig, misluk die Guptatopiese demockracy volledig en klaaglik daarin om diegene aan die ontvangkant van die Spesiale Olimpiade se belange te dien.

Die ironie is dus dat die VVK se verkiesing, onderbefonds en kleinerig soos hy was, in een sin meer suksesvol was as wat enige van die Guptatopiese verkiesings oor die afgelope 20 jaar was. Die VVK se verkiesing se teikenmark was ‘n min-of-meer eenvormige en identifiseerbare gemeenskap, en die leiers wat daartydens verkies is, is verteenwoordigend van daardie gemeenskap. Vergelyk mens die VVK se verkose leiers met diegene waarvoor baie Afrikaners amper by verstek stem; die onheilige drie-eenheid van  Helen Zille, Lindiwe Mazibuko en  Patricia de Lille, word dit duidelik dat daar iewers ‘n groot skroef los is.

Hoe kan vreemdes wat niks met my gemeenskap uit te waai het nie; ‘n Engelssprekende vrou van Duits/Joodse afkoms, ‘n Afro-Sakser en ‘n voormalige PAC-lid, wat sogenaamde setlaars wou verjaag, ooit in der ewigheid my as Afrikaner se belange wil dien? Die antwoord is dat hulle self nie eens voorgee dat hulle so wil maak nie. Die einste rassistiese Spesiale Olimpiade, regstellende aksie, wat ek hierbo genoem het, is immers amptelike DA-beleid. Die DA staan ook grondroof voor, en kon nie wag om onskuldige straatname in Kaapstad te teiken bloot omdat hulle Afrikaans was nie. Die leierskap van die DA praat eerder Spaans as Afrikaans, en skree soms, soos Athol Trollip, dat Afrikaners “idiots” is.  

Waarom stem Afrikaners dan vir die DA, eerder as vir ‘n party soos die VF+, wat sekerlik meer verteenwoordigend van die Afrikanergemeenskap is, kan mens dan vra? Waarom sou Afrikaners dan willens en wetens, soos kalkoene vir Kersfees, eerder stem vir ‘n party wat niks met hom te make het nie, en wat beleidsrigtings voorstaan wat teen Afrikaners se belange indruis?

Die antwoord is sekerlik dat dit weer eens ‘n bekentenis is dat die Guptatopiese demockacy eenvoudig nie werk nie. ‘n Stem vir die DA is bloot  ‘n teken van wanhoop, gebou op die vae hoop dat enige iemand beter sou wees as die ANC-bewind, en dat genoegsame opposisie eendag die ANC sal ontsetel. Geen rasionele DA-stemmer glo egter in sy hart dat die DA binne die volgende 50 jaar die ANC by die stembus sal kan klop nie. Die ANC sal eerder van die linkerkant af verslaan word, deur splinterfaksies en populistiese partye, maar sulke partye gaan weer eens niks met die Afrikanergemeenskap se belange uit te waai hê nie.

Wat is die oplossing dus vir Afrikaners? Omdat Afrikaners demokrate is, was die VVK op die regte pad, en identifiseer prof Goosen dit ook in sy stuk se laaste paragraaf, al verwys hy eerder na gemeenskappe as volke en selfbeskikking. Die enigste volhoubare langtermynoplossing is ‘n regering vir Afrikaners, deur Afrikaners, oor Afrikaners, deur leiers wat ons self kon verkies. Selfbeskikking, dus. Indien dan nie in ‘n volkstaat nie, dan moontlik in die vorm van ‘n eie owerheid of, les bes, in die opbreek van die Guptatopiese gedrog in ‘n federale bestel (alhoewel die ANC-bewind totaal hierteen gekant is).

Die tweede-beste oplossing, indien selfbeskikking nie haalbaar is nie, is reeds deur honderde duisende Afrikaners aangegryp. Hulle het geëmigreer na lande waar die gemeenskappe meer lyk soos wat Afrikaners lyk. Die kloof wat gemeenskaplike belange betref tussen ‘n Kiwi en ‘n Afrikaner is veel, veel kleiner as dié tussen ‘n Afrikaner en Lindiwe Mazibuko.

Gaan stem dus maar gerus in 2014 se Guptatopiese verkiesings. Ek is egter skepties, indien nie sinies nie, of deelname aan die Guptatopiese demockracy vir my as Afrikaner iets in die sak gaan bring. Hierdie kalkoen gaan nie in 2014 vir Kersfees stem nie.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.