Wat bedoel Dan Roodt met sy kritiek op die demokrasie?

danie_goosen600

deur Danie Goosen

Dan Roodt het onlangs ‘n belangrike artikel oor die gebreke van die ‘demokrasie’ geskryf. Uit die algemene strekking van sy artikel is dit duidelik dat Dan enigsins skepties oor die demokratiese gedagte is. Omdat die tema so belangrik is, kan ten minste die volgende kort opmerkings daaroor gemaak word:

1. Watter doel het Dan in gedagte met sy kritiese opmerkings oor die demokrasie? Impliseer hy daarmee dat daar – volgens sy ideale beeld op die toekoms – groter vorme van nie-demokratiese gesag in Suid-Afrika moet wees? En as dit inderdaad die geval is, wie moet hierdie groter gesag uitoefen?

Genoemde vrae kan ook spesifiek met betrekking tot die Afrikaners gevra word. Wat beteken Dan se kritiek vir die Afrikaners? Beteken dit dat laasgenoemde hulleself gereed moet maak om hulself aan selfs nog groter vorme van voorskriftelike gesag moet onderwerp as wat die bestaande orde kenmerk? Uit die artikel is dit nie duidelik watter antwoorde Dan op hierdie vrae gee nie.

2. Is dit nie vir Afrikaners vandag van die allergrootste belang om juis nou – in hierdie spesifieke historiese konteks – vir die demokratiese gedagte voorspraak te maak nie? Uiteraard draai enige antwoord hierop rondom die vraag wat presies met die “demokrasie” bedoel word.

Anders as wat Dan impliseer, kan ‘n veelheid van selfs radikaal uiteenlopende betekenisse daaraan geheg word. Indien ‘n mens dit dus sonder meer afwys, word – te midde van ander betekenisse – ook die tipiese Klassieke en in die besonder Aristoteliese opvatting van die demokraties-republikeinse gedagte afgewys. Ingevolge Aristoteles se omskrywing dui laasgenoemde op daardie politieke orde waar die eie gemeenskap aan gemeenskaplike sake deelneem met die oog op die verwesenliking van hulle gemeenskaplike goed (bonum commune). As sodanig verskil die demokrasie op ‘n radikale wyse van die hedendaagse liberale demokrasieë waar die ou demokratiese gedagte van deelname ingekort is tot die trek van ‘n kruisie agter ‘n – meestal vooraf vasgestelde – lys van kandidate.

Maar is dit nie vir Afrikaners nou van die allergrootste belang om juis hierdie ou opvatting van die demokrasie te herontdek nie? Indien die demokrasie as sodanig afgeskiet word, word hierdie moontlikheid egter by voorbaat van die historiese tafel afgevee.

3. Nogmaals rondom die betekenis van die begrip ‘demokrasie.’ Dan beroep hom in sy kritiek op die demokrasie onder meer op die denke van die Duitse politieke filosoof, Carl Schmitt (188-1985).

Nou, oor Schmitt kan ‘n mens uiteraard baie dinge sê, omdat hy ‘n magdom boeiende werke gepubliseer en sekerlik een van die mees toonaangewende politieke denkers van die 20ste eeu was. (Sien die hedendaagse stortvloed van publikasies oor hom). Dan maak egter ‘n fout om Schmitt as bondgenoot teen die demokrasie op te roep. Schmitt het in talle van sy vroeë werke (maar in die besonder in sy werke oor die diktatuur, die politieke teologie en die krisis van die parlementêre demokrasie) ‘n skerp skeiding tussen die “liberale” en die “demokratiese” gehandhaaf. Schmitt neem deurgaans in hierdie werke die demokratiese juis teen die liberale in beskerming. Volgens hom is dit nie die demokrasie wat in ‘n krisis verkeer nie (soos wat Dan impliseer), maar eerder die liberale tradisie met sy klem op die regte van die individu. Eersgenoemde hou nog die moontlikheid in van gemeenskaplike besluitneming. Daarenteen is dit die liberale tradisie wat ons aan die absurditeit van ‘n kruisie elke nou en dan uitgelewer het, terwyl die werklike gesag in die liberale ordes by die burokratiese ordes en tegnokrate lê.

Nog meer (kan mens byvoeg), dit is die liberale tradisie wat nie die dinamika van gemeenskappe begryp nie, terwyl dit juis die demokratiese gedagte is wat begryp dat die politieke geskiedenis rondom die wel en wee van gemeenskappe draai. Vanuit hierdie gesigspunt beoordeel moet die demokratiese gedagte – veral as dit verwys na die deelname van en inspraak in die gemeenskaplike sake van gemeenskappe – omhels word.

4. Daarmee gee ek geensins voor dat daar aan die demokratiese gedagte ‘n soort utopiese betekenis geheg moet word nie. Ook die demokratiese is nie sonder sy probleme nie. In hierdie verband kan ‘n mens gerus kennis neem van ‘n ander groot politieke denker van die 20ste eeu, naamlik Leo Strauss.

Alhoewel die denke van Strauss (net soos Schmitt) nie sonder probleme is nie, het hy tereg aangetoon dat die politieke werklikheid deur die voortdurende spanning tussen die beginsels van “voortreflike gesag” (leierskap) en “instemming” (o.a. demokratiese deelname) gekenmerk word.

Ingevolge hierdie onderskeid kan ‘n mens aanvoer dat indien daar eensydig klem gelê word op demokratiese deelname (ten koste van die beginsel van voortreflike gesag) dit ook tot die nadeel van die demokrasie self strek. Want dan loop die demokrasie die gevaar om alles tot ‘n laagste gemene deler te reduseer. (In die verlengde hiervan kan ‘n mens ook sê dat die beginsel van voortreflike gesag ook die demokratiese nodig het, want sonder laasgenoemde loop dit die risiko om in die tirannieke te verval).

Met betrekking tot ons eie mense dink ek behoort ons klem op beide beginsels te lê, sowel die beginsel van voortreflikheid as die beginsel van demokratiese deelname. Afrikaners beskik nie tans oor geloofwaardige leiers en (veral) ‘n voortreflike elite nie. Kortom die beginsel van gesag ontbreek onder Afrikaners, eintlik op ‘n dramatiese wyse. Daarom die voortdurende neiging om die laagste gemene delers op te soek. Maar Afrikaners ly ook aan ‘n gebrek aan demokratiese deelname met die oog op die verwesenliking van die gemeenskaplike goed.

5. Ten slotte, die swart politiek word tans gekenmerk deur ‘n steeds ernstiger wordende spanning tussen “gesag” en “instemming”. Die swart elites is op elke vlak van regering besig om te verkrummel. Geen wonder dat daar soveel demokraties-populistiese opstande daarteen is nie. Hoe moet Afrikaners hierop antwoord? Moet hulle daarop antwoord deur ‘n pleidooi vir die beginsel van gesag te lewer? Of moet hulle die demokraties-populistiese impulse ondersteun?

Volgens die Straussiaanse denke moet ons telkens die “goeie oordeel” gebruik om hierop te antwoord. Maar wat beteken dit? M.i. behoort Afrikaners ‘n derde alternatief anderkant sowel die demokraties-populistiese beweginge as die bestaande gesagstrukture in te neem. Eersgenoemde is ideologies bedenklik, terwyl laasgenoemde die afgelope dekades getoon het dat dit weinig begrip het vir ‘n plurale demokratiese orde met sy ingeboude sin vir die erkenning van ‘n veelheid van kultuurgemeenskappe.

So ‘n derde alternatief is een waarin die demokratiese gemeenskapsgedagte omhels word. Afrikaners is nie vreemd daarmee nie. Inteendeel, hulle eie republikeinse erfenis was in vele opsigte reeds ‘n manifestasie daarvan.

Prof. Danie Goosen is dosent in Godsdienswetenskap aan UNISA en voorsitter van die FAK. Sy boek, Die nihilisme, is deur PRAAG uitgegee.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.