Die nuwe generasie blitsbukse

Deel op

deur André Olivier

Met die motorwêreld wat so vinnig verander het die hele motorbedryf ‘n groot skuif opwaarts beleef.

Blitsbukse van ‘n dekade gelede is nou luukse rygoed wat die gemiddelde koper byna nie kan bekostig nie. Die dae van spot goedkoop verrigtingsmotors is lank verby, maar nou word die gewone rygoed al hoe luukser en beter. Ons het ‘n paar sulke “gewone” rygoed met so ‘n tikkie luuksheid en van die modernste enjintegnologie wat beskikbaar is, onder hande geneem. Ons toetsmotors is die Alfa Romeo Guilietta, Mercedes Benz se nuwe A-klas, Volvo se V40 en Audi se splinternuwe A3 Sportback.

Elkeen van die motors beskik oor ‘n unieke eienskap wat haar heelwat beter as die ander drie maak, maar is daar een van die vier motors wat alles net beter as die ander doen?

Die resep vir ‘n blitsbuks is ‘n relatiewe klein motortjie wat prakties genoeg is vir ‘n gesinsman, ekonomies genoeg is om elke dag mee te pendel en genoeg krag te hê om sportief te wees. Al vier ons kandidate beskik oor vyf deure wat hulle baie prakties maak; al vier het relatiewe sterk enjins wat hulle sportief maak. Daar is van die jongste enjintegnologie wat al vier baie ekonomies maak om te bestuur en dan kom daar een aspek by: luuksheid. Al vier ons toetsmotors is baie goed toegerus met van die nuutste tegnologie in die binneruim.

Die Alfa Giulietta van die kant gesien
Die Alfa Giulietta van die kant gesien

Alfa Romeo Giulietta 1.4T Progression

Alfa Romeo het nog altyd om rou emosie gedraai; die nuwe Giulietta is ‘n sprekende voorbeeld daarvan. Al die baklyne is so flambojant en suggestief, só asof jy weet dat hierdie motor jou een of ander tyd diep in die moeilikheid gaan laat beland. In vroeër jare het Alfas die reputasie opgebou dat hulle nie baie betroubaar is nie, maar dinge het heeltemal verander en vandag se Alfas is net so betroubaar soos enige Duitse of Japannese motor. Die los elektriese konneksies en ratels is ook iets van die verlede, om nie eers van die oliekol op die motorhuisvloer te praat nie. Vandag se Alfas is nie net mooier as ooit nie, maar meer betroubaar, asook vinniger en luukser.

Daardie sensuele Italiaanse lyne... van voor
Daardie sensuele Italiaanse lyne… van voor

Ons toetsmotor is die intreemodel in die Giulietta-reeks en is toegerus met ‘n 1,4-literenjin wat deur ‘n turbo aangejaag word. Daar is 88 Kw se krag en 206 Nm wringkrag. Dit klink nie vreeslik baie nie, maar dit is die manier hoe die krag aangewend word wat baie indrukwekkend is. Ons het nie eenkeer gevoel dat die motor te min krag het nie en die 6-spoed handratkas help ook die Giulietta op so ‘n mooi kragtige manier aan dat die motor baie vinniger en sterker voel as wat die syfers voorgee. Die feit dat die enjinverplasing so klein is, beteken dan ook ‘n lae 149 g/km CO2-gasse. Vergeleke met motors soos die Renault Megane wat ook ‘n 1,4-turbo-enjin het, se 145g/km of die 138 g/km van Opel se Astra 1.4T, dan sien ons dat die Alfa-enjin baie naby aan van die groot spelers se syfers kom. Alhoewel beide die Renault en die Opel baie mooi motors in eie reg is, kan nie een van hulle twee kers vashou by die estetiese skoonheid wat die Alfa bied nie.

Binneruim van die Alfa Guillietta
Binneruim van die Alfa Guillietta

Binnelangs is daar sitplek vir vyf volwassenes, daar is klimaatbeheer, elektries beheerde ruite en kantspieëls, ISO-hegstutte vir kinderstoeltjies, asook ‘n Blue&Me-bloutandstelsel wat jou slimfoon aan die radio kan koppel. Die motor bevat 6 veiligheidslugsakke wat deur die binneruim versprei is en iets wat Alfa die “Dual Pinion Active Steering” noem wat beteken dat die kragvoer van die stuur minder of meer word soos wat die voertuig se spoed wissel. Daar is ook ‘n terugrolrem wat verhoed dat die motor agteruit rol wanneer daar by ‘n bultjie weggetrek moet word en om brandstof te bespaar, is daar ‘n “stop-aansit”-funksie wat die enjin by verkeersligte en stopstrate afskakel om sodoende brandstof te bespaar. Die funksie werk so glad dat wanneer jy jou voet van die rempedaal afhaal, die motor onmiddellik weer aanskakel, reg om te ry.

Alfa se DNA-stelsel
Alfa se DNA-stelsel
Die Alfa se dagryligte
Die Giulietta se dagryligte

Alfa het ook die Alfa Romeo DNA-stelsel in al hulle motors geïnstalleer. Die stelsel beskik oor drie modusse: Dynamic, Normal en All Weather. Aldus DNA wat die enjinbeheerstelsel, onderstel en stabiliteitsbeheer verstel sodat die bestuurder ‘n egte ry-ervaring kan geniet. In Dynamic is die enjin aggressief en uiters reageerbaar met die Q2-elektroniese-ewenaarstelsel wat ‘n sportiewe bestuurstyl deur draaie voorsien. In Normal-modus kan die Giulietta nog steeds soos ‘n Alfa bestuur word, maar die onderstel, ratskakelings, enjinreaksietyd en Q2-ewenaar pas jou nog meer op en daar word net aan die brandstof geproe. In All Weather-modus is die hele spulletjie amper oorversigtig en krag na die wiele word so geleidelik gevoer dat jy op amper enige oppervlakte baie gemaklik sal kan wegtrek. Die Giulietta word deur die voorwiele aangedryf. Die motor het ook ‘n 5-stermerk van Euro NCap ontvang met aktiewe veiligheidstelsels soos VDC (Vehicle Dynamic Control)) wat tesame met die DST (Dynamic Steering Torque)-stelsel die DNA-stel ondersteun. Daar is ook passiewe veiligheidstelsels soos die tweede-generasie-anti- nekslagstelsel wat die sitplekgordel millisekondes voor ‘n botsing styftrek sodat die insittende byna een met die sitplek word, die voetpedale en stuurkolom in ‘n botsing van voor wegvou en die 6 lugsakke wat die insittendes omvou. Daar is dagryligte en LED-liggies agter wat oor ‘n baie meer intense helderheid beskik. Elke Alfa word ook gerugsteun deur ‘n 5 jaar/150 000km-waarborg, ‘n 6 jaar/90 000km-diensplan met ‘n 3 jaar- AA-padbystanddiens.

Allfa Giulietta 6Vir my was die Alfa Romeo Giuletta alles wat die brosjure belowe het, maar die beste eienskap vir my is die estetiese skoonheid van die motor. Daar is werklik min ander vervaardigers wat eenvoudig al die sintuie gelyktydig in hierdie segment van die motormark so effektief kan aanspreek. Teen R273 015 is die Giulietta vir seker een van die beter kopies in die segment.

Ons gee die Giulietta ‘n 4 uit 5.

Die Audi van die kant af gesien
Die Audi van die kant af gesien

Die Audi van agter
Die Audi van agter

Audi A3 Sportback 1.4T FSi

Audi SA het vir my ‘n nuwe A3 Sportback 1.4 T FSi vir ‘n paar dae gegee om my indrukke met u te deel. Ek was nog altyd ‘n groot Audi-aanhanger en het al menigte van hulle motors bestuur; ek het al selfs een besit. In my 20 jaar van motorjoernalistiek het ek nog nooit enige motor teëgekom wat so naby aan die perfekte ryding is soos juis die Audi A3 nie. Dit is asof Audi alles net mooi met die nuwe A3 vervolmaak het. Die motor is ruimer as ‘n Golf 7, makliker om te bestuur as ‘n VW Polo, stiller in die binneruim as ‘n A6 en meer ekonomies in ‘n daaglikse ry-situasie as amper enige iets wat ons al voorheen bestuur het.

Die Audi se binneruim
Die Audi se binneruim

Audi A3 6Die binneruim is pure Audi en as jy nie weet dit is ‘n A3 dié nie, sal jy dink jy sit in ‘n A4. Die gevoel van ruimte met die goeie sigbaarheid en ruim spasie reg rondom jou is net verstommend. Die bougehalte is soos almal altyd van Audi sê, die beste wat daar tans beskikbaar is, maar dit is seker omdat ‘n mens dit nie in dié segmentmotor sien nie dat dit nog meer spesiaal voel. Alles van die sitplekbekleedsel wat van duursame veloerdoekstof is tot by elke knoppie lyk en voel net eenvoudig in ‘n ander klas. Ek het die heel tyd oor en oor gaan seker maak oor die A3 se prys van R290 500. Ons toetsmotor is toegerus met ‘n 1,4 liter-turbomeuletjie wat 90 Kw. en 200 Nm se wringkrag lewer. Al die krag word na die voorwiele gestuur deur ‘n 6-spoedhandratkas en met ‘n uitlaatgasperk van slegs 123g/km is die A3 nogal heelwat suiniger met die vuil gas wat hy die atmosfeer in pomp. Brandstofverbruik het ons aangeteken as 5,5 l/100km in die gekombineerde siklus. Wat verrigting aanbetref, is die A3 nie in die Golf GTi se klas nie, maar ‘n heel skaflike 203 km/u en 0-100km/u tyd van 9,3 sekondes is aangeteken. Daar is dagryligte en LED-agterligte, asook 380 liter pakplek met die agterste sitplekke in die normale posisie. Passiewe en aktiewe veiligheidstelsel soos ABS-remme, ISO-hegpunte vir kinderstoeltjies en lugsakke voor, asook aan die kante, maak die Audi een van die heel veiligste motors in sy klas. Rygerief is net eenvoudig verstommend vir ‘n motor in dié segment. Ons toetsmotor is met opsionele toerusting toegerus: dit sluit in die navigasiestelsel, Xenon-hoofligte, togbeheer en Audi se 17-duim- 15-speekwiele. Dit alles het byna R45 000 by die prys gevoeg. Ons meen dit is heeltemal onnodig en die standaard-A3 is heel goed toegerus. Een ding wat my wel gepla het, was dat jy nêrens in die motor ‘n USB-koppeling gehad het nie; daar is wel ‘n gleufie vir ‘n SD-kaart, maar ons verkies ‘n USB-koppeling. Alle Audi-motors het standaard ‘n 5-jaar / 100 000km-Freeway-onderhoudsplan en ‘n 1-jaar- onbeperkte waarborg.

Ons gee die Audi A3 Sportback 1.4T FSi 5 uit 5

Die Volvo se sy-aansig
Die Volvo V40 T3 se sy-aansig
Die Volvo V40 T3 van voor
Die Volvo V40 T3 van voor

Volvo V40 T3 Elite

Volvo is bekend vir van die veiligste motors ter wêreld en nuwe tegnologie om die motor oor die algemeen nog veiliger te maak, word baie keer deur Volvo aan die wêreld bekendgestel. Volvo is dan ook die eerste vervaardiger wat buite-lugsakke, wat voetgangers sou beskerm in die geval van ‘n Volvo-voetgangerongeluk, bekendgestel het. Ons kon ‘n Volvo V40 T3 by Volvo SA in die hande kry. Ek was nogal baie verbaas oor hoe naby die Volvo nie alleen met tegnologie nie, maar ook met ruimte, gerief en werkverrigting aan die drie groot Duitsers kom.

Binneruim van die Volvo
Binneruim van die Volvo

Die bougehalte is weereens uitstaande en daar is regtig niks wat kraak of kreun of voel dit gaan breek nie. Alle materiaal regdeur die binneruim sowel as buite om die motor is van hoogstaande gehalte. Die V40 is ook ‘n luikrug met vyf deure. En net soos die Alfa en die Audi beskik die V40 dan oor meer as genoeg ruimte vir vyf insittendes met bagasie. Anders as in die Audi en die Alfa, het die Volvo ‘n heel ander gevoel wanneer jy binne in hom sit. Die motor boesem vertroue, baie vertroue in en dit sonder dat jy eers ‘n enkele meter te ry. Dit moet die Volvo-reputasie vir veiligheid wees. Die deure maak met ‘n soliede dompgeluid toe en alle oppervlaktes waaraan jy kan raak, voel of dit nie te hard sal wees, sou jy dalk iewers jou kop moet stamp nie. Daar is soos in al die moderne Volvo’s die hangende middelkonsole wat stoorplekkies agter die paneel het. Rondom-sigbaarheid is uitstekend as gevolg van die groot glasgedeeltes aan die motor. Agterste passasiers se skouerlyn is effens hoog en korter mense soos kinders gaan dalk sukkel om by die kantruite te kan uitsien.

Volvo V40 T3 7Ons toetsmotor is toegerus met ‘n 1.6-literpetrolenjin met ‘n klein turbo’tjie. Die enjin lewer 110 Kw. en 240 Nm se wringkrag. Hierdie krag word deur die 6-spoedratkas na die voorwiele gestuur en rygerief, asook padhouvermoë is by uitstek verbasend. Die enjin loop glad en stil en ons kon ‘n brandstofverbruik van 5,6 l/100km aanteken. Werkverrigting is ook baie indrukwekkend en met ‘n topspoed van 216km/h en rus tot 100km/u tyd van 8,5 sekondes is die V40 baie wakker. Die relatiewe klein enjintjie lewer ook slegs 124g/km CO2-gasse wat die V40 nog na ‘n skoon opsie ook laat lyk. Soos verwag, is daar alles wat nodig is in ‘n moderne gesinsmotor en veiligheidskenmerke soos ABS-remme, remverspreiding en lugsakke is alles standaard. Daar is ook wat Volvo die “City Safety”-stelsel noem wat tot snelhede van 50km/u die motor tot stilstand kan bring as die motor deur middel van radar registreer dat daar ‘n botsing gaan plaasvind. Volvo se witjasse weet dat om botsings te vermy onder alle omstandighede, ook teen ‘n lae snelhede, stelsels soos dié, belangrik is. Dit neem slegs ‘n oomblik se afleiding in ‘n besige middestad om jouself midde-in so ‘n scenario te bevind. Dus het Volvo se slim ouens gewonder of dit moontlik sou wees vir jou Volvo om ‘n helpende hand uit te steek met laser-gebaseerde tegnologie wat ‘n dreigende botsing teen ‘n spoed van tot 50 km / u kan sien aankom. In die eerste plek, berei City Safety die remme voor sodat hulle vinniger reageer wanneer jy op die pedaal trap. En as jy versuim om te rem, sal City Safety toepassing van die remme vir jou hanteer juis om die gevolge van ‘n botsing te verminder. Selfs beter, as die verskil in spoed tussen jou motor en die voorste een minder is as 15km/u, kan City Safety ‘n botsing voorkom deur vinniger te reageer as die bestuurder. Veiligheid is net een element van Volvo se volledige benadering tot die motor se veiligheid. Hulle noem dit IntelliSafe, en dit is ‘n program wat gerig is op die uitvoering van Volvo se doel om motors wat sal help dat jy botsings heeltemal vermy, te skep – dit sluit sodanige eienskappe soos baanvertrekwaarskuwing, Adaptive Cruise Control, Park Assist en nog baie meer in.

Alle Volvo’s word met ‘n 5 jaar/ 100 000 km-onderhoudsplan verkoop en teen R319 000 dink ons die Volvo is ‘n bitter goeie koop.

Ons gee die Volvo V40 T3 Elite 5 uit 5

Die Mercedes A-klas van die kant af
Die Mercedes A-klas van die kant af
Die Mercedes A-200 van voor af
Die Mercedes A-200 van voor af

Mercedes Benz A200 Avantgarde

Die wenresep wat Mercedes gehad het met die intree-A-klas moes ná 15 jaar plek maak vir ‘n meer konvensionele gesinsluikrug. Weg is die regop kartondoosagtige vorm met die hoë daklyn en kort oorhange. Mercedes het net soos sy Duitse mededingers nou ‘n meer “aanvaarbare” intreevlakmotor. Die nuwe A-klas is nou ook baie laag, baie breed en heelwat meer in die klas van die BMW 1-reeks en Audi A3. Ons het die voorreg gehad om die A200 in Avantgarde-afwerking onder hande te neem. Ons toetsmotor is toegerus met Mercedes se 1.6-literenjin met turbo-aanjaging wat 115 Kw. en 250 Nm se wringkrag. Die enjin word ook in die B-klas ingespan en is reeds vir Euro 6-klaring vir uitlaatgasse gereed. Met ander woorde die Benz se enjin loop baie skoon met ‘n syfer van 129g/km CO2.

Van buite is die nuwe A baie modern en veral agterlangs lyk hy glad nie soos ‘n Mercedes nie. Die neus is pure Mercedes-familietrekke, maar dit is asof daar na ander Europese rygoed vir inspirasie gekyk is om die stertkant te ontwerp. Die motor is mooi, maar net nie Mercedes genoeg vir ons nie. Ons toetsmotor is met die AMG-sportpakket toegerus; dit maak deel van die Avantgarde-pakket uit wat R14500 by die vraprys van R296 000 voeg. Die pakket sluit dan die bakpanele, matte, sitplekke en onderstel in. Nogal ‘n winskoop vir alles wat jy kry. En sonder die bakpanele lyk die A-klas net so gewoon: die inlate voor en agter, asook die sierrooster en agterste drukvlerk bo die agterruit dollie die Benz net mooi genoeg op sonder om dit te oordoen.

Die Mercedes se binneruim
Die Mercedes se binneruim

Aan die binneruim is alles van hoëgehalteleer en aluminium gemaak; dit vertoon briljant en dit is slegs die A3 se binneruim wat volgens ons die Benz troef. Die bougehalte aan die ander kant kom nie naby dié van die A3 nie. Ons toetsmotor het oral rateltjies en geluidjies gemaak. Dit was effens teleurstellend, seker maar omdat die motor so mooi vertoon en baie belowe. Die binneruim het my nogal baie aan diá van die Citroen DS5 herinner. Dit is modern, met baie swart leer en gepoleerde aluminium-insetsels, maar bougehalte het dit lelik in die steek gelaat. Wat ruimte binne in die A-klas betref, is hy vir ons die een tussen al vier die motors met die meeste ruimte. Daar is meer as genoeg kop-, skouer- en veral beenruimte voor en agter selfs vir my 6-voetlyf. Die ander baie teleurstellende feit is dat die bagasieruim van die A-klas beperk is en dat daar glad nie ‘n noodwiel is nie.

Die bagasieruim van die Benz is maar taamlik skraps
Die bagasieruim van die Benz is maar taamlik skraps en sonder ‘n noodwiel

Wanneer dit by rygerief kom, het die Mercedes my ook glad nie beïndruk nie. Alhoewel daar baie meer skop in die Benz is as in enige van die ander drie motors hier, is dit rit baie hard, baie stamperig en die motor se rondom-sigbaarheid is uiters beperk. Daar is wel ‘n tru-ratkamera wat help om agteruit te stoot en parkeersensors voor en agter, maar ek wil graag kan sien wat rondom my aangaan. Die motor is ook baie laag en ek neem aan die AMG-pakket het baie daarmee te doen; ek moes heelparty keer baie stadig oor die spoedhobbels ry om nie die motor se pens te skraap nie.

Mercedes AMG pakket 5
Tekens van die AMG-pakket

Wat verrigting aanbetref, is die A200 ook in ‘n klas van sy eie in die geselskap en neem dit slegs 8,5 sekondes om 100km/u te haal en hy sal eers anderkant 220 km/u uitasem raak. Ons dink dit was baie nodig dat Mercedes die verandering gemaak het om sy broodwaentjie in ‘n blitsbuks te verander, maar ons weet ook dat dit ‘n hele klomp tradisionele Mercedes-kopers wat nie die B-klas kan bekostig nie die skrik op die lyf gaan jaag. Teen R310 500 is die A200 baie bekostigbaar en dit is ‘n rasegte Mercedes, maar agter die stuur voel hy soos ‘n warm Opel Kadett GSi van ouds. Dalk sal die tweede generasie A die bougehalteprobleem oplos?

Ons gee die A200 Avantgarde 3 uit 5

Sou ons dan ‘n motor tussen die vier met ons eie geld moes koop sou die keuse beslis by die Audi A3, 2de die Volvo V40, 3de die Alfa Giulietta en 4de die A200 lê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.