Diversiteit en samewerking met ander gemeenskappe: Pieter Mulder

Deel op
Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus
Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus

Samewerking is die enigste manier waarop die ANC gestuit kan word, en dit dui ook die nuwe koers aan wat die Vryheidsfront Plus gaan volg om ‘n nuwe bedeling in Suid-Afrika te weeg te bring tot voordeel van al die land se inwoners.

Dit was die sentrale tema van die boodskap van dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, met die bekendstelling van die party se hersiene missie wat saamgeloop het met die afskop van sy verkiesingsveldtog vir 2014.

Die luide applous van die gehoor wat die West End-teater op die skougronde in Pretoria volgepak het, was ‘n aanduiding van die mandaat van die party se ondersteuners aan die nuwe koers gegee het.

Ewe luide applous vir ‘n sterk afvaardiging Khoi- en San-leiers en van hul volgelinge, was terselfdertyd ‘n aanduiding van die hand wat ondersteuners van die VF Plus uitgereik het na ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika wat ‘n gesamentlike doel het om ‘n nuwe bedeling in Suid-Afrika tot stand te bring.

In sy boodskap het dr. Mulder gesê die strewe na ‘n oplossing vir die onderdrukking van Afrikaners en ander minderheidsgroepe in die land, moet realisties, modern en regverdig wees vir almal.

“Daar is plek vir almal van ons in hierdie land. Die VF Plus se herbewoorde missie wil nie net die Afrikaner motiveer nie, maar ook ander minderheidsgroepe. Ons het saam een doel en dit is om die ANC te verslaan, het dr. Mulder gesê.

Dr. Mulder was skerp in sy kritiek teen die ANC en het gesê daar heers tans ‘n ‘tirannie’ van ‘n meerderheid sonder enige seggenskap vir minderhede in die land.

“Daarom is dit dringend noodsaaklik dat ‘n nuwe bestel tot stand kom waarin erkenning gegee word aan die diversiteit van die land en sy mense. In die proses  het die VF Plus hom onherroepelik verbind tot samewerking met ander gemeenskappe.

“Ons vra ‘n beter bedeling vir die Afrikaner, maar sal ook veg vir ander minderhede om dit te verkry,” het dr. Mulder gesê.

Die VF Plus se nuwe embleem is ook bekend gestel en op ‘n ligter noot het dr. Mulder gesê die party sal dit eers oor twintig jaar oorweeg om die embleem weer te verander.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.