Bederf eerder stembriewe as om VF Plus te stem!

Deel op
Die Vryheidsfront Plus se nuwe embleem
Die Vryheidsfront Plus se nuwe embleem

deur Derek Gerber

Die Vryheidsfront het homself met ‘n nuwe embleem en visie geherposisioneer. In die proses poog hy om ‘n meer inklusiewe benadering te volg, en as bewaker van alle minderheidsgroepe se regte op te tree. Mag ek my verstout om te sê dat hierdie aksie die VF se swanesang in die komende verkiesing gaan verteenwoordig!

In die eerste plek is die naam afgelei van die oorspronklike visie wat veronderstel was om vryheid vir die Afrikaner te bewerkstellig. Op watter basis die naam enige aanslag vind onder ander minderheidsgroepe, soos Engelse, Jode, Grieke, Indiërs en Kleurlinge – om net ‘n paar te noem – is onbekend. Sovêr my kennis strek, is daar geen gom wat onder die vaandel van “vryheid” hierdie groepe saambind nie. Die Afrikaner daarenteen is op soek na vryheid, maar nou word sy kultuur en strewe opgeneem in ‘n nuwe benadering wat geen duidelike groepsvoordele inhou nie.

Voorts gaan daar weinig politieke voordeel voortspruit uit hierdie konkoksie. Die VF poog nou om ‘n vegter te word van minderheidsregte maar ongelukkig is hierdie ruimte reeds ingeneem deur buite-parlementêre groeperinge soos Solidariteit en Afriforum. Hulle sigbaarheid en aksies het hulle profiel tot so ‘n mate verhoog – in teenstelling met die VF se amperse “onsigbaarheid” oor die laaste 20 jaar dat ek sterk betwyfel of die tendens van verlore steun omgedraai kan word.

Die VF se strategie van stille diplomasie en assosiasie met die ANC was ‘n fatale strategiese fout. Politieke partye wat hierdie benadering gevolg het (soos die NNP), het sonder uitsondering steun verloor, terwyl dié wat aggressief opgetree het en daadwerklike aksies uitgevoer het om die ANC te stuit se profiel en ondersteunersbasis gestyg het (bv. die DA).

Die Vryheidfront se werklike probleem lê ongelukkig nie by ‘n embleem of posisionering nie; daar was niks fout daarmee nie, maar by leierskap. Dr Mulder is oor die algemeen ‘n aangename persoon maar dit is waar dit eindig. Die dinamika en leierskap ontbreek en moes die VF-manne in hulle bosberaad waar hierdie planne geformuleer is meer inwaarts gefokus het, hulle swak leierskap gekonfronteer het en dr Mulder laat aftree het. Die “volk” het vertroue verloor in die leierskap en geen mate van opwarming van koue kos gaan dit beter laat smaak nie.

Ek is bevrees die koeël is deur die kerk en die einde het aangebreek. Weereens as gevolg van gebrekkige leierskap, is die inisiatief verloor op die regte oomblik met die verkeerde plan. Die verwerping van ‘n stelsel wat minderheidsgroepe se regte verkrag sal ‘n baie groter sein aan die ANC en die buitewêreld uitstuur, en sal die DA wat die Afrikanerstem nou as ‘n gegewe aanvaar stof tot nadenke gee.

My stem gaan vir ‘n grootskaalse bederf van stembriewe in die komende verkiesing. Daardeur neem jy deel aan die demokratiese proses maar dra ‘n ander boodskap oor; jou stem vir ‘n party gaan geen verskil maak aan wie die septer gaan swaai nie.

Na my mening is die pad vorentoe nie deur die parlemêntere stelsel nie. Die bevolkingsamestelling en -groei is nie aan die kant van minderheidsgroepe nie. Die Afrikaner sal homself buite die stelsel moet herposisioneer. Die samestelling van Afrikanergroepe is tans wyd uiteenlopend en daar sal gemeenskaplike waardes rondom die middelpunt ontwikkel moet word. Die bewaring van die morele hoëgrond is krities in hierdie proses, om ten alle koste ‘n rassistiese konnotasie te vermy. Ons kan nie in isolasie ons stryd voer nie en het steun oor ‘n wye front nodig, selfs onder diegene wat nie die strewe na selfbeskikking deel nie, maar wat tog daarmee kan assosieer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.