Stakende werkers in die motorbedryf sal vandag ‘n optog hou na die kantore van die vereniging van motorvervaardigers, NAAMSA, in Pretoria.
‘n Woordvoerder van NUMSA, Castro Ngobese, sê hulle sal ‘n memorandum met eise aan die Werkgewersvereniging van Motorvervaardigers oorhandig. Die staking in die motorbedryf is nou in sy derde week.
Werkgewers bied ‘n tien persent verhoging aan, wat deur die vakbond verwerp is. Die staking het reeds ontwrigting veroorsaak by sewe van die land se vernaamste voertuigvervaardigingsaanlegte.
By die Volkswagen-aanleg op Uitenhage naby Port Elizabeth het werkers onderneem om nie hulle salariseise te laat vaar nie.
Dit volg te midde van meningsverskille oor die staking in die motorbedryf. Werkers by die aanleg het gister met streekleiers vergader oor of hulle die staking moet aflas of nie.
‘n Woordvoerder van NUMSA, Phumzile Nodongwe, sê verskillende menings tydens stakings is normaal, en hulle sal probeer om dit eerder te bestuur en nie toelaat dat dit eenheid in die vakbond ondermyn nie.
Vandag se staking in die goudmynbedryf kan die land meer as 350 miljoen rand per dag kos aan verlore produksie. Dit is volgens berekenings wat gegrond is op die huidige goudprys. Ekonome beraam dat meer as 700 kilogram goudproduksie per dag verlore sal gaan.
Die National Union of Mineworkers het vroeër gesê 80 000 van sy lede in die goudbedryf is gereed om van vandag af te begin staak. Die NUM is die eerste mynvakbond wat vanjaar oor salarisse begin staak.
Vakbondlede het gisteraand voor die nagskof sou begin massavergaderings gehou. – RSG