Brief aan Beeld oor Piet Croucamp

Deel op
Piet Croucamp
Piet Croucamp

deur Johann Botha

NUUT!

Die volgende brief deur mnr. Johann Botha, wat ‘n klag teen Piet Croucamp by die Universiteit van Johannesburg gelê het, het vanoggend in die aanlynweergawe van Beeld verskyn.

Dr. Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg het verlede week ’n klag van haatspraak aanhangig gemaak teen ’n voormalige filosofiedosent van Tuks oor ’n vermeende rassistiese uitlating wat sy in haar persoonlike hoedanigheid in ’n Praag-rubriek oor feminisme gemaak het.

Ongetwyfeld is daar geen regverdiging vir rassisme en haatspraak nie, en klaarblyklik wil dit voorkom of Croucamp se klag ’n poging is om dit te bekamp. Tog is sy “edele” motiewe en sy hantering van die saak myns insiens nie bo verdenking nie.

In ’n TV-onderhoud met eNuus beweer Croucamp dat die filosoof in haar rubriek nie net aanvoer dat babaverkragting ’n kulturele fenomeen onder swart bevolkingsgroepe is nie, maar dat swart mense verder “geneties” geneig is daartoe. Die bewering van ’n “genetiese geneigdheid” kom geensins in die artikel voor nie en word ook nie deur die artikelkonteks gesuggereer nie.

Deur sy onakkurate bewering dig Croucamp dus ’n veel gevaarliker interpretasie aan die filosoof se debatteerbare woorde toe en verhef die uitlating gevolglik tot iets veel meer inflammatories, ’n aksie wat ironies genoeg in die rassensitiewe Suid-Afrikaanse samelewing veel eerder kan bydra tot polarisasie as die bekamping daarvan.

Dit op sigself is onverantwoordelik en onprofessioneel, maar die haas waarmee hy die eNuus-span gekontak het insake sy klagte wil dit verder laat blyk dat hy duidelik ’n breër reaksie wou uitlok as ’n blote versekering van die UP-bestuur dat sy klag bevredigend hanteer sou word.

Voeg daarby die feit dat Croucamp reeds ’n geruime tyd in ’n oënskynlike woordestryd met Praag gewikkel is, wil dit vir my voorkom of hy eerder die man (vrou?) as die bal speel en dit, alles in ag genome, reflekteer negatief op sy eie integriteit. – Beeld, briewe op 3 Sept. 2013

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.