Gupta-nuusredakteur vlug na Indië

Deel op
Gupta
Atul Gupta

‘n Werknemer by die Gupta-broers se beleërde nuuskanaal ANN7 het Suid-Afrika inderhaas verlaat. Hy is terug na Indië nadat hy sy bedanking ingedien het.

Rajesh Sundaram, voormalige raadgewende redakteur, het een van die redes vir sy bedanking gegee as die nuuskanaal se pro-ANC houding, berig Eyewitness News. Hy het gesê Atul Gupta het onophoudelik ingemeng op redaksionele vlak.

Gupta het blykbaar altyd ‘n kamera by hom waarmee hy werknemers afneem omdat hy nie hulle name ken nie. Sundaram is drie keer na die president geneem waar Gupta aan Jacob Zuma gesê het dat die nuuskanaal getrou ANC en pro-Zuma sal wees.

Sundaram het die afgelope naweek die media genader omdat hy glo vrees vir sy veiligheid nadat hy uit die ANN7-kantore in Midrand gevlug het. Hy beweer ‘n gewapende lyfwag het hom gedreig.

Nazeem Howa, uitvoerende hoof van The New Age Media, wat ook die dagblad The New Age uitgee, het Sondag in ‘n verklaring Sundaram se bedankingsbrief uitgereik waarin die voormalige raadgewende redakteur positief was oor sy ervaring by die uitsaaier, berig The Star.

Sundaram het gesê die brief is geskryf voordat spanning met sy base breekpunt bereik het.

Howa het in ‘n geskrewe reaksie namens die uitsaaier gesê vergaderings tussen Sundaram en die bestuur het Vrydag plaasgevind. Hy het gesê Sundaram se bewerings is nie ’n reaksie waardig nie.

Volgens die koerant is die uitsaaier tans op soek na kandidate om die nuusspan te lei.

Shantanu Chatterjee is intussen as raadgewende redakteur aangestel. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.