Die nasionale polisiekommisaris, Riah Phiyega is skerp gekritiseer omdat sy nie die agtergrond van Bethuel Mondli Zuma nagegaan het voordat sy hom as provinsiale kommisaris van Gauteng aangestel het nie.
Phiyega moes sy aanstelling terugtrek ‘n paar uur nadat sy dit aangekondig het.
‘n Woordvoerder van Agang, Moeketsi Mosola sê nadat dit aan die lig gekom het dat 1 488 lede van die Suid-Afrikaanse polisie misdaadrekords het, is dit verstommend dat Phiyega nie gekyk het na die agtergrond van ‘n kandidaat vir so ‘n senior pos nie.
Hy sê dit is nog ‘n terugslag vir die geloofwaardigheid van die polisiediens se leierskap.
Volgens berigte word twee strafregtelike sake teen Zuma ondersoek. Phiyega beweer dat Zuma haar nie ingelig het oor die sake teen hom nie. – RSG