Rustenburg se voortbestaan in gedrang weens mynbou-onrus

Deel op
'n Winkelsentrum in Rustenburg
‘n Winkelsentrum in Rustenburg

deur Johannes Myburgh

Onrus in die mynbousektor het Suid-Afrika ontstig, maar die voortdurende chaos het die land se platinumgordel  baie swaar getref, wat selfs die voortbestaan van ‘n hele stad in die gedrang bring.

Eers was daar die geweld en toe die gepaardgaande afleggings.

Ná maande van arbeidsonrus en jare van hoë koste, beplan twee topmaatskappye in Rustenburg om skagte te sluit en duisende poste te beëindig.

Anglo American Platinum gaan drie van sy bedrywe hier sluit en vanaf September 4 800 poste tot niet maak; dit kom ‘n jaar ná die Marikana-massaslagting by die naburige Lonmin-myn.

Lonmin, waar 34 mynwerkers ‘n jaar gelede deur die polisie doodgeskiet is, het reeds verlede jaar ‘n skag voorlopig gesluit.

Vir die stad van Rustenburg, waar mynbou amptelik 77 persent van die ekonomie verteenwoordig, kan die uitwerking rampspoedig wees.

Plaaslike sakemanne, vanaf ‘n dienstekonsultant soos Ben Roothman tot straatsmouse soos Tomaz Utui, vrees dat die verlies aan werksgeleenthede ook ‘n verlies aan klante gaan beteken.

Vir elkeen wat afgedank word, verloor ‘n hele huishouding sy inkomste, dus word duisende meer daardeur geraak, meen Roothman.

“Dis ‘n uitgemaakte saak dat dit ‘n besliste uitwerking op Rustenburg sal hê,” vertel hy aan AFP.

Utui, wat versnaperinge, klere en sigarette smous buite Amplats se Khmanani-skag, wat binnekort gesluit gaan word, voorsien ‘n duister toekoms as die mywerkers verdwyn.

“Daar is niks anders hier nie. Ons kan niks verkoop as dié manne nie werk nie.” Dit gebeur reeds, sê hy. “Hulle het net nie meer geld nie.”

Volgens die voorsitter van die plaaslike kamer van koophandel, Pieter Malan. “is die gevolge op die mikro-vlak enorm”.

“Vir mediumgrootte maatskappye wat dienste direk aan die myn lewers, is dit pynlik,” voeg hy by.

Rustenburg is 162 jaar gelede deur die Voortrekkers gestig en was aanvanklik ‘n boerderygemeenskap.

Sedert die 1920s is platina – wat nou oorwegend in katalisators en juweliersware gebruik word – in die gebied gemyn, wat by geoloë as die Bosveld-stollingskompleks bekend is.

Rustenburg was ‘n gasheerstad vir die 2010-wêreldsokkerbeker en was in daardie jaar die land se snel groeiendste metropolitaanse gebied, volgens regeringsyfers.

Tans groei die stad steeds teen ‘n rasse tempo.

Moderne behuisingskomplekse verrys oral om die stad en die streek se luukse-oorde en wildreservate lok steeds toeriste by die duisende.

Met omtrent 70 persent van die wêreld se platinumproduksie wat van die gebied afkomstig is, het die stad tot nou toe die op-en-af-bewegings van mynbou-aktiwiteit gevolg.

Maar die skaal van die mees onlangse onrus laat vele vir moeilike tye vorentoe vrees.

Verlede jaar se stakings het die wêreldwye produksie van die metaal met 13 persent laat afneem, die laagste in 12 jaar, volgens syfers van die Londense edelmetalefirma, Johnson Matthey.

Weens die produksie wat tot stilstand gekom het, het Suid-Afrika in die geheel ‘n volle $1,15 miljard aan inkomste ingeboet, maar in Rustenburg is die kontrakteurs – wat werksgeleenthede aan ten minste 30 000 mense verskaf – besonder hard getref.

Verlede jaar reds het die ingenieurs- en boufirma Murray & Roberts sy kontrakte met die nabygeleë Aquarius Platinum en Lonmin opgesê.

Soos wat immer stygende lopende koste en arbeidsonrus beleggers tot kommer oor Suid-Afrika stem, bestaan vrese dat Rustenburg met sy myne in duie mag stort, soos wat al met ander “spookdorpe” gebeur het.

Driehonderd kilometer ver hiervandaan is daar ‘n waarskuwing dat dit wel kan gebeur.

Welkom, met sy optimistiese Afrikaanse naam, het eens op ‘n tyd ‘n kwart van die wêreld se goud geproduseer en ongeveer 170 000 mense in die mynbedryf van werk voorsien.

Maar die stad se bloeityd is lank reeds verby. Die dalende mynboubedryf verskaf vandag werk aan 30 000 mense, terwyl daar met hoë koste en lae goud-inhoud geworstel word.

Om ‘n soortgelyke afgang te vermy, wil Rustenburg se kamer van koophandel hê dat die stad se ekonomie moet aanpas ten einde die uiteindelike agteruitgang van mynbou te oorleef.

“Ons moet baie meer bekommer oor wat ons 30 jaar van nou af gaan doen,” sê Malan.

“Hoe raak ons minder afhanklik van mynbou? – dis die belangrikste vraag.” – AFP

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.